Stormloop
4 07 2008In 1866 het mnr. Erasmus Jacobs ‘n wit klippie opgetel op die oewers van die Oranjerivier naby Hopetown. ‘n Rukkie later het iemand nog een opgetel op ‘n heuwel ‘n ent noord daarvandaan. Dit was ‘n diamant. ‘n Dorp genaamd New Rush het ontstaan. Later herdoop tot Kimberley. Duisende mense van oor die hele wereld, maar veral Britte en myners uit die res van Afrika, het hulle na die gebied gehaas, waar elkeen sy fortuin gesoek het. Want mense soek altyd beter geleenthede, dis die menslike kondisie. Kimberley het sinoniem geraak met sukses en welvaart, en was uiters modern. Dit was die eerste stad in die suidelike halfrond wat elektriese straatligte gekry het, die eerste stad in Afrika wat ‘n trem-stelsel gekry het. Die eerste myn-skool het in Kimberley tot stand gekom, wat later aanleiding gegee het tot die stigting van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Die eerste vliegskool en aandelebeurs in Suid-Afrika was in Kimberley. Die stad was vir ‘n tyd die middelpunt van die wereld, waar mense van elke kultuur en agtergrond saam gewoon het. Maar die diamante het opgeraak en Kimberley het teruggesak.
In 1886 het George Harrison op ‘n plaas by Johannesburg ‘n goudrif raakgeloop. Mense van oor die hele wereld het na die Witwatersrand gestroom, op soek na hul fortuin en ‘n beter lewe. Binne 10 jaar was Johannesburg ‘n groter stad as Kaapstad, wat 200 jaar ouer was. Johannesburg het ‘n ekonomiese reus geword, die handelsmekka van Afrika. Dit alles het gegroei uit ‘n klein plasie waarheen die wereld se dromers gestorm het op soek na iets nuuts en beters, sonder enige waarborge van sukses.
Iewers in die vroee 1990’s het die sjeiks van Dubai besluit hulle wil die plek uitbou tot ‘n moderne stad met die beste hotels ter wereld, die grootste wolkekrabbers, ‘n belastingvrye omgewing om sake te doen. ‘n Metropool wat die kern van die Arabiese wereld moet vorm, geskoei op die beste van al die ander groot stede van sy tyd. Al wat in die stad se guns getel het, is ‘n strategiese ligging en bietjie olie. Maar die planne is in werking gestel, ‘n blink stad het begin groei uit niks, die kern van handel in die Midde-Ooste, ‘n finansiele hoofstad, ‘n plek wat miljoene toeriste na sy sandduine en blink paleise en warm see en vreemde projekte lok. Mense moes die werk doen om lewe te geen aan al hierdie drome, om hierdie sandvlakte te omskep in iets nuuts. En hulle het gekom, van oor die hele wereld, meer nog as met die goud- en diamantstormlope van die wereld, om hier hul fortuin te soek. Want dit het die wereld se jongste goudstormloop geword, en Dubai het sy deure oopgegooi. Almal was welkom. Niemand is weggewys op grond van waar hulle vandaan kom nie. Dit was nie Fort Europa of Bang Amerika nie. Maar oopdeur-Dubai.
Ek was nie gebore in die jare van die goudstormlope nie, ek het al die opwinding van ‘n stormloop in ‘n nuwe stad, met al die gepaardgaande probleme, misgeloop. Maar nie hierdie keer nie. Hierdie keer is ek midde-in die stormloop, ek is sien elke dag hoe dinge uit niks om my geskep word. Ek sien elke dag die drome van mense uit plekke soos Bangladesj en Nepal en die Soedan en Azerbeijan en Jemen wat in belaglike armoede tuis leef (hier net bietjie beter), maar die paar honderd dirham wat hulle hier verdien is genoeg om vir ‘n hele familie tuis ‘n nuwe lewe te skep. En ek, ek kan elke dag kos uit ‘n ander land in die wereld eet as ek wil. Ja, as ek wil kan ek fake Chinese kos, fake Thai kos in winkelsentrums eet net soos in enige groot stad. Maar hier kan ek ook in die buurte waar hierdie mense woon gaan rondhang, en regte egte kos eet soos ek sou as ek in China of Thailand of die Filippyne of Rusland was. Dit is vir my nou die wonder van Dubai, die wereld is hier, ek hoef nie werklik te reis nie, want elke kultuur en nasie wat daar is, letterlik, is hier, ek kan elke dag iets nuuts probeer as ek wil. Ek kan elke dag mense van ‘n vreemde plek ontmoet as ek wil. Wat nie beteken dat ek nie gaan reis nie! Tehran en Damaskus roep . . . Maar in my eerste ses maande hier mag ek nie verlof vat nie, dus reis ek na binne. En dis goed.
Die Guardian skryf hier: That is the intriguing question: can Dubai do what Libya, Egypt, Palestine, Lebanon, Syria, Iraq, Yemen, or almost anywhere else in the Arab world you might like to mention, have failed to do? Is Dubai, in fact, the fulcrum of the future global trading and financial system? Is it, in embryo, what London was to the 19th century and Manhattan to the 20th? Not the modern centre of the Arab world but, more than that, the Arab centre of the modern world.
Ek sal graag die antwoord op daardie vraag wil sien.
Comments : No Comments »
Categories : Uncategorized
















Recent Comments