My ma het so twee weke gelede hier in Dubai kom kuier, voor dit was ek self vlugtig in Suid-Afrika vir die doop van my peetkind, my broer-hulle se dogter Cherice. Ek was maar baie kort in SA, die tyd was te min om almal te sien en alles te doen, maar dit was lekker om weer in ‘n normale land te wees. Dubai en die VAE is nou maar eenmaal nie die beste plekke in die wereld nie, maar, ai, die geld is goed. Wat sal ‘n man dan nou doen? Hoe lank dit nog gaan aanhou weet ek ook nie, maar tot tyd en wyl byt ek vas. Ek het vandag my huur vir die volgende jaar hernieu (Dh38 000, omtrent so R110 000, in kontant betaal, wat kon ek nie alles daarmee gedoen het nie. . . ) Maar nou is ek vir die volgende jaar uitgesort, geen verblyfuitgawes nie. Hier is ‘n paar foto’s van enkele van die plekkies wat ek my ma gewys het, daar is darem enkele mooi plekke hier.
- By Festival City, ‘n winkelsentrum, kan mens die Burj Dubai, die hoogste gebou in die wereld, sien. Hy trek nou by so 180 verdiepings, maar met die geldkrisis wereldwyd weet ek nie hoe dit nou met die bouery gaan nie. Die mense hier hou aan vertel daar is niks fout nie, maar, nou ja, ons almal weet wat die werklikheid is.
- Dis by die Dubai Gold Souk. ‘n Souk is ‘n mark. Nog nooit in my lewe soveel goud gesien nie, en dis alles sommer so oop en bloot, nie ‘n sekerheidswag of geweer in sig nie!
- By die Dubai Creek het ons afgekom op ‘n heerlike restaurant waar mens op ‘n dek kan sit wat oor die water is. Vreemd genoeg een van die min plekke langs die Creek waar mens dit kan doen.
- Een van die abras op die Creek. ‘n Abra is ‘n watertaxi.
- In die woestyn op pad na Hatta. Daar is mense wat hier in die sandduine rondjaag met 4×4’s en quad bikes.
- Die Hatta dam. Hy is maar leeg. Tog mooi, die omgewing.
- Die Hatta fort. Dubai het nou nie enige geskiedenis om van te praat nie, maar hierdie fort is darem iets wat oorgebly het. Dis so bietjie meer as honderd jaar oud, die Arabier het oral sulke forte gebou om hulself van mekaar te beskerm. Hatta is in die Dubai-emiraat.
- Die verpligte kameel. Wat is Arabie sonder kamele?













Onlangse Kommentaar