Op ‘n eiland

21 11 2008

pa2205882

Op pad na Subic Bay vanaf Santa Rita in die Filippyne. Die land is deurtrek van die ryslande, dis skouspelagtig mooi. Hierdie rysplukkers was op pad terug na die dag se werk. Daar is 7107 eilande in die Filippyne. Ek was net op een.

pa2205906

‘n Tricycle, een van die baie verskillende goeters waarmee jy die pad deel. Ek het self bestuur in die Filippyne en jy moet nogal mooi kyk vir al die ander mense, fietse, waterbuffels, honde, katte, koetse (letterlik) en wat nog alles op die pad.

pa2406162

Dit lyk miskien na net nog ‘n snelweg, maar dis die Subic-Clark Expressway. Wat dit heeltemal anders as al die ander snelwee in die wereld maak, is dat daar geen uitgange is nie . . . Dit het ons op die harde manier uitgevind. Jy klim by Subic Bay op die snelweg, en dan klim jy by Clark, so 60km verder, weer af. Want al die ander uitgange word nog gebou . . . Ons moes vroeer afklim van die snelweg, maar moes toe noodgedwonge deurry tot in Clark en weer terugry na Santa Rita op ‘n ander pad. Die snelweg was ook besonder leeg.

pa240624

Jay besig om lekker vars mielies langs die pad te koop. Naby Angeles City.

pa240626

Dit lyk miskien na net nog ‘n gewone koloniale katedraal, maar hierdie een en baie ander soos hy in Pampanga is spesiaal. Hierdie is net die helfte van die kerk. Die ander helfte is begrawe onder lahar (vulkaniese as), want hierdie kerk, in Bacolor, naby Santa Rita, was in die pad van Berg Pinatubo se uitbarsting. Groot dele van Santa Rita en omgewing is gevolglik veel hoer as wat dit was voor die uitbarsting, want die vulkaniese as het baie geboue begrawe, of baie net halfpad begrawe, soos hierdie kerk. In Santa Rita bly baie mense wel nog in hul ou huise, maar net in die boonste helfte wat nie begrawe is nie.

pa250644

So lyk rys van naby. Ek het dit nog nooit voorheen gesien nie.

pa250650

Dit is ‘n jeepney. ‘n Filippynse minibus.





Filippynse fees

19 11 2008

Die Filipinos ken van kos. Ons het die week wat ons daar was, heeltemal te veel geeet. Hier is een van die feestafels tydens die fiesta, en ‘n vrolike groepie Filipinos en een Suid-Afrikaner. Op die kosvideo is daar opgestopte vis, hulle noem dit Bangus relleno. Dis vis wat gestop word met varkvleis, besonder lekker. Varkvles is die groot feeskos, daar is allerhande soorte varkgeregte, en mens kan ook op die video ‘n Filippynse nagereg sien. Hulle maak iets wat hulle noem leche flan, dis soos creme caramel, net minder soet en baie lekkerder. Daar is ook ‘n dis genaamd halo halo, dis nagereg, leche flan, vrugte, allerhande ander soetgoed, wat alles gemeng word met ysbrokkies. Heerlik op ‘n warm tropiese dag. Filippynse kos is ‘n mengsel van Spaanse, Amerikaanse en Filippynse invloede. My videokamera is widescreen, hierdie video het ek reg geconvert met die regte dimensies. Die drie videos in die post hierna is bietjie saamgepers, almal lyk ietwat maar. Ek leer nog met die nuwe videokamera . . .





Fiesta in Pampanga

18 11 2008

Na my besoek aan Suid-Afrika het ek ook vir ‘n week na die Filippyne gegaan. Ek het meestal in Santa Rita, Pampanga, net noord van Manila, gebly. Dis ‘n kleinerige dorpie. Terwyl ons daar was, was daar ‘n fiesta ter ere van die dorp se heilige, Santa Rita. Die Filippyne was een van die plekke in Asie waar ek nog nie was nie, en wat ‘n interessante plek. Die land se geskiedenis is heeltemal anders as die res van Asie siende dat dit baie, baie lank ‘n Spaanse kolonie was en toe ook ‘n Amerikaanse kolonie. Dit het my soms vreeslik baie aan Suid-Amerika laat dink, lyk selfs dieselfde op plekke. Daar is vreeslik baie Spaanse katedrale en Spaanse dorpe, net soos in Suid-Amerika. Ek het self bestuur daar en dit was weer iets heel anders, die padtekens is alles Amerikaanse styl en ek was soms erg verward, as daar ‘n wit sperstreep aan die kant van die pad is, kan jy blykbaar oor dit ry, maar ‘n soliede geelstreep in die middel van die pad beteken jy mag nie verbysteek nie. Natuurlik ignoree die plaaslike inwoners al die tekens volstrek. Dit was nogal uitmergelend om daar te bestuur, want jy deel die baie nou paadjies met jeepneys (soos minibusse by die huis), fietse met sykarre, busse, karre, fietse, riksjas, motorfietse en voetgangers, honde, katte, waterbuffels, bokke en meer. Ek het ‘n Camry gehuur, wat ‘n fout was want die kar is net eenvoudig te groot vir die paaie. Volgende keer vat ek die kleinste motor wat ek kry. Hier is ‘n paar videos van die fiesta wat ons bygewoon het, hierdie drie videos is van die straatoptogte. O, interessant genoeg, daar is sekerheidswagte by al die winkelsentrums en baie streng sekuriteit in parkeerareas teen motordiefstal. Baie, baie strenger as in SA. Hulle deursoek jou vir gewere en messe as jy by ‘n winkelsentrum ingaan.