Dit het pas deurgekom op die nuus hier dat Maandag die eerste dag van Ramadan in die VAE sal wees. Dit sal interessant wees om te beleef, blykbaar mag mens glad nie in die dag in die openbaar eet of drink nie. Die meeste restaurante is glo toe. Ek was een keer in Maleisie tydens Ramadan, en hoewel hulle ‘n meerderheid Moslem-land is, mag mense wat nie Moslems is nie, wel daar eet en drink soos gewoonlik. Dit was nogal feestelik, om eerlik te wees, want saans is baie strate in Kuala Lumpur toegemaak en daar is tafels gedek en blink liggies het gebrand en almal was in ‘n feestelike bui. Hier het ek gesien baie plekke het ook al liggies begin opsit, ek wonder of dit ook saans so feestelik sal wees. Maar dit gaan beslis ‘n aanpassing wees om nie te kan eet of drink in die openbaar nie. Mens moet dit glo in die geheim doen.
Enkele opmerkings oor die lewe in die warm plek
23 08 2008Baie winkels doen stewig sake in winterklere terwyl die temperatuur buite ver oor die 40 grade is. Die rede: die alewige lugverkoeling oral is soms ysig, ysig koud. Baie mense gaan werk toe met baadjies of serpe. Netso doen verkope van snoesige, warm duvets baie goed, want mense hou daarvan om hul lugverkoeling tuis so koud te stel dat hulle baie warm beddegoed nodig het. Die gevolg is dat jy in ‘n baie koue kamer wakker word en dan as jy uitloop, loop jy jou in ‘n sauna in.
Wanneer jy in jou kar klim in die oggend, is die stuurwiel en sitplekgordel so warm dat dit jou letterlik brand. Jy vergeet elke aand daarvan en die volgende oggend brand jy weer . . .
Jy kan nooit ‘n yskoue bad of stort neem nie, want die water bak vuurwarm in die pype en die damme. Die beste opsie is om die geiser af te skakel sodat die bietjie water wat daarin is effens koeler sal wees as die res.
Jy kan saans jou klere was en aan die binnekant van die venster ophang (as jy nie ‘n balkon in jou woonstel het nie), en in die eerste paar uur van die volgende oggend se son sal dit droog word. Binnemuurs, solank dit net tussen die blindings en die venster hang, dus blootgestel aan die son wanneer hy opkom.
Van so eenuur af tot so drie-uur elke dag loop die stad leeg. Dit lyk en voel soms soos Armageddon. Dis gedeeltelik omdat wetgewing enige buitemuurse werk op die warmste tyd van die dag verbied, en dis net eenvoudig te warm om buite te wees.
Dis nie moontlik om bedags strand toe te gaan nie. Pleks van sunbathing doen die mense in die VAE moonbathing. Dit het sy sjarme. Wanneer die dag se stomende hitte effe afkoel en die maan kom uit, is daar geen beter plek as op die strand of in die water nie.
Die laaste paar dae kan jy hoor dat mense vir mekaar se dis nie meer so warm nie. Die laaste paar dae was die temperatuur in die lae 40’s en nie meer die hoe 40’s nie.
Comments : 1 Kommentaar »
Tags: Dubai, UAE
Kategorië : Dubai
Sandpaaie
14 08 2008Ek woon in ‘n plek genaamd International City, soos ek al voorheen geblog het, in die buurt genaamd Spanje. Die area (dis groot, ‘n hele nuwe woonbuurt, dink byvoorbeeld Parklands in die Kaap) is nog baie nuut en nie al die paaie is klaar of al die tuine aangeplant nie. Ek woon die afgelope twee weke langs ‘n groot sloot in die woestynsand, waar vermoedelik plaveisel en palmbome gaan kom, maar nog niks het gebeur nie. Dis eienaardig hier in Dubai, soms lyk dit of alles stilstaan en dan oornag gebeur dit, die volgende oggend as jy wakker word is daar sommer ‘n splinternuwe, nuutgeverfde gebou langs joune, of nuwe bome waar daar gister sandduine was. In elk geval, elke aand as ek huis toe ry, moet ek by ‘n vulstasie net so langs die buurt afdraai, en dan is daar ‘n sandpad so oor die woestyn na International City. Dis een van die nie-amptelike toegangsroetes, want die ander een is heelwat verder, en die ander is aan die verkeerde kant van die pad (dis vir ‘n volgende post, die U-draai-kultuur in hierdie plek gaan my verstand te bowe . . . ) Wat ek steeds nie kan verstaan nie, is die oorweldigende meerderheid mense in hierdie land ry 4×4-motors, reusagtige goeters soos Hummers en Toyota het so ‘n nuwe een wat nie in SA is nie. Maar wanneer hulle daai stukkie sandpad ry na International City, stop hulle omtrent dood, asof hulle oor glasstukke ry. Dis ‘n doodgewone, reguit, plat stuk sand, al hard gery en jy kan dit met ‘n gewone kar ry. Maar ek begin al meer dink ‘n klomp mense hier verstaan nie eintlik hoe werk karre nie. Want hoekom byna dood stop op ‘n reguit stuk sanderige pad? Dieselfde gebeur met spoed-hobbels in die paaie. Baie mense stop letterlik omtrent dood om oor die ding te ry. Sover ek weet, moet jy net stadiger ry, dis die idee van ‘n spoed-hobbel, om jou spoed te breek. Wat daai sandpad aanbetref, ek ry met my Subaru teen dieselfde spoed as op die teerpad daar oor, dis tog ‘n pad. Miskien ken die mense hier nie grondpaaie nie. Maar meer as dit, hoekom op dees aarde ‘n 4×4 koop as jy nie ‘n clue het hoe om die ding te gebruik nie? Nie eens besef dat hy nogal goed vaar op sanderige paaie nie?
Comments : 5 Comments »
Tags: Dubai, international city
Kategorië : Dubai, Verre Lande





Onlangse Kommentaar