Archive for July 2008
Ons gaan see toe
Vroeer die week het ek bietjie na Dibba gery, dis so 150 km van Dubai af, die ‘Riviera’ van die VAE. Dis ‘n hele strook van vakansiehotelle, mooi strande, palmplantasies en heelwat koeler weer. Ek wou eintlik Fujeirah sien, maar het dit toe net tot in Dibba, so 70km noord van Fujeirah, gemaak. Daar is nog baie tyd . . .

Om in Dibba uit te kom, ry jy op die Fujeirah-pad, deur allerhande klein dorpies soos hierdie, waar die hele hoofpad vol matwinkels is. Dis my kar wat daar voor staan. Mens kan nie eintlik in die VAE bly sonder 'n kar nie, dis nou maar net een van daai dinge. Maar met 'n kar is Arabie jou oester.

In 'n stadium raak die omgewing heel bergagtig, eintlik nogal skouspelagtig. Dis nou maar droe berge, met hier en daar 'n boompie, maar dis mooi uitsigte.

En dit is hoekom mens die pad na Dibba sou aanpak. 'n Heerlike strand en die Indiese Oseaan. Hulle noem hierdie deel die Golf van Oman. Dibba is heelwat koeler as Dubai, dit was 36 (teenoor Dubai se 42). 'n Merkbare verskil, lekker koel! En die see is koud, nie die louwarm badwater van Dubai nie. Daai goeters wat in die see dryf is opblaas-klouterdinge. Jy kan swem tot daar en dan opklim. Soos 'n jumping castle in die see!

Daar is baie hotelle langs die see. Hierdie is die JAL Hotel (soos in Japan Airlines), daar was lekker reggae-musiek. En net enkele toeriste, want dit was in die middel van die week. Hier kry ek en Jay bietjie son.
Die pad was nie lank nie
Ek het op vandag se trippie na Fujeirah (wat toe nie in Fujeirah aangekom het nie, maar wel in Dibba, net noord daarvan), ‘n paar interessante dinge gesien:
Groot potte op ‘n verkeersirkel in die middel van die pad.
‘n Reusagtige (werkende) olielamp op ‘n verkeersirkel in die middel van die pad.
‘n Mooi huis op ‘n groot rots. Ja, daar is rotse in die woestyn. Nie alle huise hier is op sand gebou nie. Ek het baie ander mooi dinge gesien. Meer daaroor later.
Droomeilande

Hier kan ek rondhang vir 'n paar dae . . .
Ek het gisteraand die besprekings vir my komende vakansie afgehandel. Ek is nou net meer as vier maande in Dubai, nog geen verlof gevat nie. Ek mag teoreties onbetaalde verlof vat, maar eers na ses maande mag ek amptelik verlof vat. Ek kan nie meer wag nie. Ek wil ‘n paar weke lank net iewers anders gaan en vergeet van werk. Ek geniet dit op die oomblik om die VAE te verken, maar ek begin voel ek wil regtig graag ‘n bietjie groenigheid sien. Dubai is groen, so veel as wat ‘n woestynstad nou groen kan wees, en ‘n plek soos Al Ain is besonder groen, soos wat ‘n woestyn-oase groen kan wees. Maar dis nie daai oorweldigende, tropiese groen wat mens in plekke soos Suidoos-Asie, een van my gunstelingbestemmings, of die Kaap in die winter sien nie.
Eers vlieg ek via Doha na Johannesburg, dan na die Kruger-wildtuin, dan Kaap toe, dan terug via Doha na Dubai. Dan vlieg ek daai selfde dag via Hongkong na Manila, in die Filippyne (foto bo), een van drie (uit die nege) lande in Suidoos-Asie waar ek nog nie was nie (die ander twee is Indonesie en Mjanmar). Dis bietjie van ‘n ompad-vliegery, maar dis minstens die helfte goedkoper as wat ‘n meer direkte roete sou wees. Die vreemdhede van internasionale lugvervoer . . . Ek werk nog aan my projek om al die lande in die wereld te besoek. Trek by 50 en tel nog . . .
Intussen gaan ek more bietjie Fujairah toe ry, dis die enigste stad (en emiraat) in die VAE aan die Indiese Oseaan. Op pad soontoe sien mens glo allerhande ou moskees, op een plek is daar blykbaar ‘n dorpie en moskee wat al bewoon word sedert 400 of 500 v.C. Klink heel interessant. En jy ry oor skouspelagtige berge.
Umm al Quwain
Ek het nou die dag my wonderlike nuwe ryding beproef op die lang pad, Dubai-styl. Wel, soortvan die langpad, eintlik net ‘n kort entjie tot in Umm al Quwain, een van die sewe emirate, so 50km van my huis af. Jy klim op Emiratesweg en ry deur die betonoerwoud van Sharjah (ook ‘n emiraat), en dan Ajman (nog ‘n emiraat) en dan raak die geboue weg en word dit woestyn. Dan kom jy in UAQ aan, wat soos Yzerfontein voel na die wolkekrabbers van Dubai. ‘n Lieflike plekkie, ek het nie verwag om so-iets so naby aan Dubai te kry nie. Daar is byna nie ‘n wolkekrabber in sig nie, net eenverdieping-geboue, geen neon en reuse-advertensieborde nie (dis eintlik skoon vreemd, by die stopstrate is sulke klein (A4) plakkate opgeplak wat waarsku teen dwelms. Byna geen karre nie, geen mense nie. Maar dit het seker ook te doen gehad met die feit dat dit so warm was oor die middaguur. My vriend Jay was net so uitgelate soos ek in die nuwe dorpie.
Daar is enkele hotelle in UAQ, soos die Flamingo Beach Resort (hierbo) en die Barracuda Beach Resort, wat bekend (berug) is daarvoor dat jy daar bootleg-drinkgoed kan koop. Sonder ‘n lisensie. Dis een van daai dinge hier, mens mag nie alkohol koop sonder ‘n lisensie nie, behalwe in UAQ, maar jy mag dit nie vervoer sonder ‘n lisensie nie. Maak nie eintlik sin nie. Die Flamingo Hotel hierbo is op die strand en het mooi groen tuine, maar daar was net enkele Oos-Europeers buite in die bloedige hitte. Die see is natuurlik helderblou, en louwarm. En van wat ek hoor ‘n duikersparadys.
So lyk ‘n tradisionele Arabiese huis in UAQ. Dubai het ook eens op ‘n tyd so gelyk. Nou is daar net een ‘historiese’ deel in Dubai waar nog sulke geboue is, reggemaak natuurlik en baie van hulle omskep in winkels, natuurlik.
So lyk ‘n tradisionele Arabiese huis in die moderne tyd.
Hierdie vliegtuig staan in die woestyn net buite UAQ. Dis een van daai reusagtige Russiese vragvliegtuie. Hy’t ‘n baster-baba gekry wat nou onder hom staan.
Twee avonturiers in die woestyn.
Boerewors, pap en braaihoender . . . in Dubai
Wat het ons hier? Dis mos ‘n chicken braai pack. Maar kyk ‘n bietjie nader. Moenie worrie nie, jy’s nie dronk nie, die foto is uit fokus, want my kamera kan nie close-ups doen nie. Daar’s Arabies geskryf op die pak. En dan sien jy dis verpak in Dubai. En die hoenders kom van Oman, ons buurland. Braai pack? In Dubai? Afrikaans reis ver . . . Tot in ‘n Dubaise hoenderfabriek en dan tot in die Spinneys in Jumeirah . . .
En wat het ons hier? Regte egte boerewors, gemaak in Dubai, en pap (Iwisa van Suid-Afrika, te koop in Spinneys). En sommer bietjie plaasboontjies ook. En natuurlik sous by die pap, met Mrs Ball Chutney in soos dit hoort. Ek het hier in Dubai bietjie minder militant vegetaries geraak, ek eet nog altyd vis, so dis niks nuuts nie, maar ek eet nou af en toe hoender, en by reusagtige uitsonderings, soos wanneer ek boerewors in ‘n Midde-Oosterse supermark kry, eet ek rooivleis. Dit was werklik lekker, ek was eintlik stomgeslaan. Geproe soos ‘n regte boerewors by die huis.
Hulle eet so lekker
Met die kwik wat net styg (gister was dit 46 in Dubai, maar aanvoelbaar was dit 49, volgens sommige bronne selfs 50, maar die weerkantoor wil nie erken dat dit 50 was nie, want dan mag niemand buite werk nie en dan kom Dubai tot ‘n stilstand . . . ), is die beste plek om te wees by die huis of binne-in ‘n winkelsentrum. Party mense is bietjie sinies oor Dubai se winkelsentrum-kultuur, maar feit is, in daai soort temperature is die enigste uitweg regtig die mensgemaakte koeltes van winkelsentrums. Maar by die huis is ook lekker, want ek eet so lekker. (Praat van eet, ek het gisteraand ‘n Koreaanse restaurant ontdek in Satwa wat ek binnekort wil uitprobeer. Ek dink dit sal nogal outentiek wees, die wonderlike ding in Dubai is dat hier baie regte outentieke restaurante is, Chinees soos die Chinese self eet, Koreaans soos die Koreane eet, Indies soos dit in Indie is, regte Arabiese en Libanese kos en vele, vele meer. Die ding is egter hulle is nie in die winkelsentrums en die ‘Westerse’ buurte nie, waar jy net soos in SA verwesterse Chinese kos, veramerikaanste pizzas, hamburgers, en allerhande ander nonsens kan eet. Die regte kos is weggesteek in die buurte waar die westerlinge nie kom nie, want dis net te ver verwyderd van hulle blink idee van wat Dubai moet wees – noodwendig dink ek baie van hulle is maar teleurgesteld, want dit gee ‘n heeltemal verkeerde – en baie duur – idee van die stad.) Hier is my kos van die afgelope paar dae, want as dit te warm is om uit te gaan, is dit die beste om tuis te onthaal. Daar is ‘n verstommende hoeveelheid vars plaaslike produkte beskikbaar in Dubai, die meeste mense dink die VAE is ‘n bar woestynland waar niks groei nie, maar die VAE het inderwaarheid ‘n florerende landboubedryf. Daar is ‘n kusstrook by Sharjah, die oases by Al Ain, oases by Ras Al Khaimah en enkele ander plekke waar so baie landbouprodukte verbou word dat die land selfs kos, veral slaaie, (en blomme!) uitvoer na Europa. Hulle het ook woude daar aangeplant wat hulle met seewater wat ontsout is aan die gang hou. Slaaie en groen groentes, dadels (natuurlik), aartappels, beet, eiervrug, sampioene, aarbeie, tamaties en heelparty ander produkte word alles hier verbou. In party supermarkte, soos Spinneys, is baie rakke vol plaaslike produkte, elders word die land van herkoms altyd geidentifiseer. Dit help, want noodwendig is die plaaslike produkte varser en natuurlik heelwat goedkoper. Alles hier onder is vars plaaslike produkte, met die uitsondering van die knoffel wat van China kom dink ek, en die gemmer is van Pakistan. Die ertjies was bevrore, wel plaaslik verpak, maar ek weet nie waar dit vandaan kom nie.
Tilapia, vis met brandrissies, gemmer en bok choy en heel gestoom in kokosneut-melk totdat dit so sag is dat dit in jou mond smelt.
Kwartel-eiers en garnale, met ertjies en wortels, in ‘n room-sous met knoffel en gemmer, en ‘n klein bietjie brandrissie. Ek hou maar altyd van byt in my kos.
Vars krap, gestoom in kokosneut-melk met pampoen, spinasie, brandrissie, gemmer en knoffel. Vars gekoop by ‘n 24-uur supermark in Satwa, my gunsteling-area van Dubai, ‘n ouerige buurt vol karakter en allerhande outentieke produkte en restaurante, geen supermarkte vir die massas en groot handelsname daar nie. Dis waar jy gaan as jy een of ander unieke produk uit veral die Ooste en Indie soek, want dis die buurt waar baie Filippyne en Indiers woon. Vreemd genoeg is die klein supermarkies daar merkbaar goedkoper as plekke soos Spinneys en Carrefour. Dis nie ek wat al hierdie wonderlike Filippynse disse optower nie. Die kok se hand steek daar agter uit. Mens eet dit sommer so met jou hande, breek die dop af en suig al die lekker sagte krapvleis uit. Heerlik! Krap is sekerlik een van my gunsteling-kosse, dis iets wat mens nogal nie baie in Suid-Afrika eet nie, ek wonder hoekom.
En dis die voetstoel (en die lekker sagte mat van Ikea) waar jy jou voete kan laat rus terwyl jy die dag se koerante lees na ‘n lekker ete.
Kom loer gerus in
So lyk my nuwe yskas:
Want so lyk die oue. Hy’t klaar ‘n nuwe huis.
Maar wag ‘n bietjie. Wat is dit daar bo op die yskas? Dit lyk mos soos ‘n Morphy Richards-broodrooster. En heuningkoek. En appelpastei. En Portugese broodjies. En ‘n spyskaart vir wegneem-etes wat op jou voorstoep afgelewer word. As jy regtig wil, hoef jy nie jou voet in ‘n winkel te sit hier nie, want almal kom na jou toe. Jy kan enige kos wat jy van droom bestel by enige restaurant, nie net wegneemplekke nie. Hulle bring dit. Die wassery kom haal jou wasgoed en bring dit terug. Die kruidenierswinkel bring jou brood en melk. Jou kredietkaart word by jou huis afgelewer. Tot dusver het ek nog nie enige van hierdie dienste gebruik nie, want die kruidenierswinkel is oorkant die pad, en my klere vat ek sommer self wassery toe. Die kredietkaart het ek wel ontvang toe hy hier aankom.
Terwyl ons nou so lekker voyeuristies is, kom ons kyk sommer hoe lyk die res van rondloper se huis. Dis die sitkamer met sy mooi leerbank:
Dis die studeerkamer. Dit was vandag wasdag. Klein goedjies was ek self, die res vat ek wassery toe.
Dis die TV. Met 160 satellietkanale (waarvan ‘n klomp ongelukkig in Arabies is, maar die Arabiese sportkanale is heel kykbaar. Dis ook pret om soms Irak-TV te kyk, en Iran-TV, en Egipte-TV, en Saoedi-TV . . . Ek het ook onder meer Russiese, Roemeense, Spaanse, Franse, Duitse, Chinese, Nederlandse en Koreaanse-kanale).
Dis die eetkamer:
En dis wat ek vanaand geeet het. Tusigemaak, nie bestel nie. Dis Tinola, dis ‘n Filippynse dis, hoender met papaja, brandrissie, gemmer, knoffel, blaarslaai, spring onions. Heerlik.
‘n Soel, nee, ‘n vrekwarm somersaand
Wanneer die son begin sak hier oor Dubai, en die geboue pastelkleure begin aanneem, en die muezzin mense begin roep om te gaan bid . . .
Dan is die beste ding om te doen, om in die kar te klim, en see se kant toe te mik. Van my af ry ek met die Ras Al Khor-pad, tot by die Emirates Road-afdraai, en dan mik ek in die rigting van die Burj Al Arab. Dit is die son op hierdie foto, nie die maan nie.
Daar is drie openbare strande in Dubai, die ander moet mens betaal voor of behoort aan hotelle. Die Jumeirah Open Beach is heeltemal lekker, maar soms bietjie vol. Die strand by die Burj Al Arab is die beste. Deesdae is dit saans so 30 grade, die seewater is min of meer dieselfde temperatuur. Daar is vir my niks lekkerder as om in die warm water van die Arabiese Golf rond te dryf terwyl ek my verlustig aan die laserskouspel wat die Burj Al Arab is nie. Wanneer dit begin donker raak, is die kalm, warm seewater net die plek. Wanneer jy uitklim is daar gewoonlik ‘n ligte briesie wat waai. Net wat mens nodig het na nog ‘n dag van 45 grade. Ek het nog nooit in my lewe sulke warm seewater gevoel nie, en ek het al in al die wereld se oseane geswem, en ‘n paar groot mere ook. Maar op sy manier is dit nogal wonderlik, as jy inloop is daar nie daai ysige Kaapse koue wat jou asem wegslaan nie, nee, eerder ‘n louerige, potblou see waar jy ure lank kan ronddryf sonder om koud te kry, maar tog kom jy weg van die ongelooflike hitte hier.
En jy sal nie sommer vergeet dat jy nou in Arabie is nie.
Met goeie geselskap is die aand perfek. Wat meer kan ‘n mens vra?
Stormloop
In 1866 het mnr. Erasmus Jacobs ‘n wit klippie opgetel op die oewers van die Oranjerivier naby Hopetown. ‘n Rukkie later het iemand nog een opgetel op ‘n heuwel ‘n ent noord daarvandaan. Dit was ‘n diamant. ‘n Dorp genaamd New Rush het ontstaan. Later herdoop tot Kimberley. Duisende mense van oor die hele wereld, maar veral Britte en myners uit die res van Afrika, het hulle na die gebied gehaas, waar elkeen sy fortuin gesoek het. Want mense soek altyd beter geleenthede, dis die menslike kondisie. Kimberley het sinoniem geraak met sukses en welvaart, en was uiters modern. Dit was die eerste stad in die suidelike halfrond wat elektriese straatligte gekry het, die eerste stad in Afrika wat ‘n trem-stelsel gekry het. Die eerste myn-skool het in Kimberley tot stand gekom, wat later aanleiding gegee het tot die stigting van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Die eerste vliegskool en aandelebeurs in Suid-Afrika was in Kimberley. Die stad was vir ‘n tyd die middelpunt van die wereld, waar mense van elke kultuur en agtergrond saam gewoon het. Maar die diamante het opgeraak en Kimberley het teruggesak.
In 1886 het George Harrison op ‘n plaas by Johannesburg ‘n goudrif raakgeloop. Mense van oor die hele wereld het na die Witwatersrand gestroom, op soek na hul fortuin en ‘n beter lewe. Binne 10 jaar was Johannesburg ‘n groter stad as Kaapstad, wat 200 jaar ouer was. Johannesburg het ‘n ekonomiese reus geword, die handelsmekka van Afrika. Dit alles het gegroei uit ‘n klein plasie waarheen die wereld se dromers gestorm het op soek na iets nuuts en beters, sonder enige waarborge van sukses.
Iewers in die vroee 1990’s het die sjeiks van Dubai besluit hulle wil die plek uitbou tot ‘n moderne stad met die beste hotels ter wereld, die grootste wolkekrabbers, ‘n belastingvrye omgewing om sake te doen. ‘n Metropool wat die kern van die Arabiese wereld moet vorm, geskoei op die beste van al die ander groot stede van sy tyd. Al wat in die stad se guns getel het, is ‘n strategiese ligging en bietjie olie. Maar die planne is in werking gestel, ‘n blink stad het begin groei uit niks, die kern van handel in die Midde-Ooste, ‘n finansiele hoofstad, ‘n plek wat miljoene toeriste na sy sandduine en blink paleise en warm see en vreemde projekte lok. Mense moes die werk doen om lewe te geen aan al hierdie drome, om hierdie sandvlakte te omskep in iets nuuts. En hulle het gekom, van oor die hele wereld, meer nog as met die goud- en diamantstormlope van die wereld, om hier hul fortuin te soek. Want dit het die wereld se jongste goudstormloop geword, en Dubai het sy deure oopgegooi. Almal was welkom. Niemand is weggewys op grond van waar hulle vandaan kom nie. Dit was nie Fort Europa of Bang Amerika nie. Maar oopdeur-Dubai.
Ek was nie gebore in die jare van die goudstormlope nie, ek het al die opwinding van ‘n stormloop in ‘n nuwe stad, met al die gepaardgaande probleme, misgeloop. Maar nie hierdie keer nie. Hierdie keer is ek midde-in die stormloop, ek is sien elke dag hoe dinge uit niks om my geskep word. Ek sien elke dag die drome van mense uit plekke soos Bangladesj en Nepal en die Soedan en Azerbeijan en Jemen wat in belaglike armoede tuis leef (hier net bietjie beter), maar die paar honderd dirham wat hulle hier verdien is genoeg om vir ‘n hele familie tuis ‘n nuwe lewe te skep. En ek, ek kan elke dag kos uit ‘n ander land in die wereld eet as ek wil. Ja, as ek wil kan ek fake Chinese kos, fake Thai kos in winkelsentrums eet net soos in enige groot stad. Maar hier kan ek ook in die buurte waar hierdie mense woon gaan rondhang, en regte egte kos eet soos ek sou as ek in China of Thailand of die Filippyne of Rusland was. Dit is vir my nou die wonder van Dubai, die wereld is hier, ek hoef nie werklik te reis nie, want elke kultuur en nasie wat daar is, letterlik, is hier, ek kan elke dag iets nuuts probeer as ek wil. Ek kan elke dag mense van ‘n vreemde plek ontmoet as ek wil. Wat nie beteken dat ek nie gaan reis nie! Tehran en Damaskus roep . . . Maar in my eerste ses maande hier mag ek nie verlof vat nie, dus reis ek na binne. En dis goed.
Die Guardian skryf hier: That is the intriguing question: can Dubai do what Libya, Egypt, Palestine, Lebanon, Syria, Iraq, Yemen, or almost anywhere else in the Arab world you might like to mention, have failed to do? Is Dubai, in fact, the fulcrum of the future global trading and financial system? Is it, in embryo, what London was to the 19th century and Manhattan to the 20th? Not the modern centre of the Arab world but, more than that, the Arab centre of the modern world.
Ek sal graag die antwoord op daardie vraag wil sien.

































