Ons het pas drie dae van rou gehad hier in die VAE. Sjeik Nasser Bin Zayed Al Nahyan, broer van Sy Hoogheid Sjeik Khalifa Bin Zayed Al Nahyan, President van die VAE en Opperbevelvoerder van die Gewapende Magte, is Maandag dood in ‘n helikopterongeluk oor die Arabiese Golf. Ek mag nie skryf Persiese Golf in my koerant nie, want die Persiese Golf behoort nie aan Iran nie. Hier is ‘n paar grondgebied-kwessies wat krap hier in die streek . . . In elk geval, ek was Dinsdag in die kar op pad na Al Jafiliya, toe die radiostasie ewe skielik sy program onderbreek en aankondig die sjeik is dood, en dat daar drie dae van rou gaan wees. Al die vlae sal halfmas vlieg, en opgewekte musiek is vir die tyd verbode. Sommer eensklaps toe skakel die stasie (wat gewoonlik tagtigerjare-musiek speel), oor na klassieke musiek. Ek skuif toe aan na ander stasies, die meeste was reeds op klassieke musiek, behalwe Virgin Radio, wat bietjie laat was, en een of ander Indiese stasie. Op die stasie wat ek eerste na geluister het, het die omroepe gese mens kan gerus simpatie betuig, want die meeste mense wat hier woon is gaste in die land en dis die minste wat mens kan doen. Dit het my nogal laat dink aan die hele Dubai-ding en wat dit beteken om hier te woon. Toe’s ek sommer vies vir Virgin Radio wat die algemene gevoel ignoreer en aanhou met sy opgewekte musiek. Dit het egter nie baie lank geduur nie, ek dink iemand het die prop uitgetrek . . . Want nie te lank daarna nie, toe speel Virgin wat seker die enigste rustige musiek was waarop hy sy hande kon le, panfluit-weergawes van popliedjies. Die hele dag lank en die volgende dag. Dit was vir my baie snaaks. Die ander stasies het almal gehou by klassieke musiek, of resitasies van die Koran. So-ook al die plaaslike TV-stasies (waarvan daar ‘n hele swetterjoel is). Gelukkig het ek kabel-TV gekry laasweek, so ek het 159 kanale om van te kies.
Die rou-gebeurtenis het my baie laat dink. Toe ek hier aangekom het, was ek vreeslik slim en het gemaak of ek weet hoe die wereld werk. Ek het gespot met al die vreemde wette hier (soos die beperkings op alkohol, die feit dat mans en vroue mekaar nie in die openbaar mag soen nie, ag, daar is baie sulke dinge), die vreemde maniere van dinge doen. Maar miskien is dit ‘n bietjie verwaand van my om hier aan te kom en te verwag dat dinge moet werk soos ek daarvan hou. En om eerlik te wees, in my dag-tot-dag lewe het nie veel verander nie. Ja, ek moet baie versigtig wees as ek drink, en dis omtrent dit. Die kans dat ek ‘n vrou in die openbaar sal soen, is skraal. Die praktiese uitwerking van die drank-ding is dat ek eintlik basies opgehou drink het, ek het die laaste agt weke minder gedrink as wat ek in een aand in SA sou. Daar’s niks mee verkeerd nie. Ek is gelukkig met ‘n goeie werk en ‘n lekker huis, so waaroor sou ek dan kla. Die Moslem-wereld is nie my wereld nie en ek kan dit ook nie probeer verander nie, maar ek is ‘n geeerde gas hier, en dis goed. En die beste van alles vir my, is dat ek besig is om die wereld uit ‘n heeltemal ander oog te sien.
Ons is so verwesters en gewoond daaraan dat alles westers goed en reg is. Ons besef ook nie noodwendig hoe subtiel ons elke dag geindoktrineer word teen Moslems in die algemeen nie. Kyk ‘n bietjie volgende keer na koerantartikels oor byvoorbeeld Hamas in Gasa. Die kans is dat hulle militante genoem word. Sommer in die inleiding sal gepraat word van die militante beweging Hamas. Wie het so besluit? Hulle het ‘n wettige verkiesing gewen, en hulle veg ‘n wettige stryd. Daar is baie sulke voorbeelde as mens begin kyk. My werk hier behels gedeeltelik om artikels te sanitiseer van sulke verwysings, want baie kopie kom van internasionale agentskappe soos Reuters en AP, wat geheel westers in hul aanslag is.
‘n Ander interessante belewing was toe die Palestyne Al Nakba gedenk het. Toe die Israeli’s hulle uitgeskop en uitgemoor het. ‘n Hele week lank hier het ons gefokus op die lot van die Palestyne nou. Gewone mense met gewone drome wat nie meer ‘n land het nie. Nie die westerse beeld van vlugtelinge wat in sak en as sit nie, maar van mense wat probeer hoop op en werk vir ‘n beter lewe eendag. Mens se oe gaan oop hier - as jy wil, natuurlik. Baie kom hier aan en leef in westerse enklawes en moan oor dinge wat nie werk soos hulle wil he dit moet nie, maar maak steeds sakke vol geld. Nee wat, ek het besluit ek wil so veel as moontlik leer oor hoe die land nou eintlik werk, want dit bly maar ‘n vreemde plek, maar op hierdie manier, meer oopkop as gewoonlik, kan ek hopelik eendag as ek hier weggaan voel ek het iets geleer. Natuurlik is hier foute en probleme, en ek sal dit bespreek op my blog (en het al), maar hier is ook goeie dinge en dit is, immers, ‘n plek met sy eie wette en geloof en dis sy goeie reg.





Ek dink jy het absoluut die regte benadering om in die vreemde aan te pas. Mens is so geneig om aan kulturele meerderwaardigheid te ly en daarmee mis mens die uniekhede wat meeste samelewings kenmerk.
AP veral noem mense graag terroriste, maar sê wie? Die Moslem-wêreld is nie noodwendig minder reg of verkeerd as enigiemand anders nie, maar omdat Amerika elke aspek van ons bestaan regeer, glo ons eerder hulle propaganda. Wat my veral opgeval en verheug het in Marokko, is dat die vroulike liggaam nooit ooit gebruik word om enigiets te adverteer nie. Die verste wat dit gaan, is dat vroue se koppe te siene is in shampoo ads. Vir velroom byvoorbeeld sien jy hande, nie kaal vroue nie. En ook natuurlik geen kans op vroue sonder klere wat karre, koffie (soos Cafe Dulce) of enigiets anders adverteer nie.
Daar is besliste goed wat my pla van Islam en Moslem-kultuur en ek weet dit gaan nie verander nie, maar al die slegte goed wat mens op TV sien word in elk geval gepleeg deur ‘n klomp fanatiese non-Moslems.