rondloper

A Bloemfontein boy in Dubai

Archive for June 2008

Organiese lewe in die woestyn

with 2 comments

Vanoggend het ek vir die eerste keer by ‘n organiese mark hier in Mankhool ingeloer. ’n Geheime besoeker uit SA het kom kuier en ons het daar ‘n draai gaan maak. Rakke vol organiese kos teen natuurlik buitensporige pryse. Selfs in ‘n gewone supermark hier is vrugte en groente, en blomme, nogal duur. Groente, snaaks genoeg, nie so erg duur nie, maar vrugte wel. ‘n Trossie druiwe kos maklik 20 dirham (R40). Maar dis nogal lekker om te gaan shop vir vrugte en groente, daar word aangedui waar die produkte vandaan kom, so jy kan aartappels koop uit Saoedi-Arabie, knoffel uit China en druiwe uit Chili of Kalifornie, alles op een winkelbesoek. Daar is ook baie produkte wat plaaslike gegroei word, in die Al Ain-omgewing, waar daar vreeslik baie water is en dit dus ‘n groot oase-stad is (soos ek al voorheen geblog het). Maar vanoggend se organiese mark het my toe laat dink aan my grond daar by Tesselaarsdal. Ek het na die mark se webwerf gaan kyk, en die meeste van die produkte kom van plase in Suid-Afrika, daar by Elgin rond en ander plekke in die Boland. Toe begin ek sommer so in die verre toekoms indink, eendag as ek klaar is hier in Dubai, sal dit mos nou ‘n wonderlike idee wees om daar op my grond ‘n organiese plasie aan die gang te kry, en uit te voer hiernatoe, onder andere. En die goeie lewe in die buitelug te gaan geniet daar in die Overberg.

Ter herinnering, so lyk my plasie by Tesselaarsdal:

En so lyk een van die organiese plase iewers in SA wat sy produkte hierheen uitvoer. Dis op die webwerf van die organiese mark. Ek weet nie waar dit is nie, die een ou in die foto se naam is Jannie en die omgewing kan darem maar net iewers in die Kaap wees. Citrusdal?

Aan die einde van die dag het Dubai eintlik maar alles om mens gelukkig te maak. En as jy verlang huis toe, het ek voorheen geskryf oor al die SA produkte wat hier besikbaar is, maar afgesien daarvan, is daar ook verskeie SA winkels: Woolworths (die SA weergawe, nie die Britse een nie, dikwels nog met die Afrikaanse labels), Nandos, @home, Mugg&Bean, selfs nou die dag ‘n Juicy Lucy gesien. Hier is ook ‘n Mr Price, maar sy logo lyk bietjie anders as die SA een, ek weet nie of dit dieselfde maatskappy is nie. Dis altyd lekker om in Woolies rond te dwaal, maar ek verkies Giordano, ek was so bly toe ek sien hier is Giordano. Ek het baie by hulle gekoop in die Ooste (China, Maleisie, Thailand, Hong Kong, Singapoer, oral daar), ek dink hul klere is nogal gerig op Oosterlinge, bietjie kleiner en korter, dit pas my soos ‘n handskoen, want ek is ook bietjie kleiner en korter.

Written by rondloper

June 29, 2008 at 3:38 pm

Posted in Uncategorized

Mugabe is toe Hitler

without comments

Ek lees af en toe die Zimbabwiese Herald vir ‘n tikkie ligte vermaak. Maar vandeesweek het ek werklik ‘n juweeltjie daar raakgelees. ‘n Mening-stuk, min of meer oor hoekom die Afrika-unie hom agter Mugabe moet skaar, in die lyn van dis goed om ‘n gemeenskaplike vyand te beveg (die Britte), en dan gee die koerant voorbeelde van nasies wat navolgenswaardig is in hoe hulle saamgestaan het teen ‘n ‘vyand’. In die koerant se uiters skewe wereld-uitkyk, word die Nazis (!) en die Afrikaners in die apartheid-tyd (!!) as voorbeeld genoem van wat kan gebeur as ‘n ‘nasie’ saamstaan en hoe dit as inspirasie vir Afrika moet dien . . .

Hier is een uittreksel:

I have no difficulties with Westerners hating President Mugabe, or calling for his head even, as did British MPs in this week’s debate in their House of Commons. That is to be expected, in fact an affirmation that Mugabe is right. White westerners, both for direct and vicarious reasons, have cause to be revulsed by Robert Mugabe, and thus reason to hate him to his grave. He has dismantled what took the empire a good nine decades to build, a plentiful legacy so badly needed in these days of a maddening scramble for natural resources.

So western antipathy of Robert Mugabe is quite understandable, much to be expected.

For me, it is some kind of tribute to the man’s credentials as an African nationalist, a tribute conveyed as retributive hatred.

Lessons from Nazi Germany

But I have mounds and mounds of difficulties with understanding Africans who hate Robert Mugabe, apparently on behalf of white westerners. That is atrocious, in fact an abomination which, sadly enough, confirms with despairing vengeance that as Africans we have lost everything, lost everything including our right to own and cock up our own anger and hatred, deploy, direct and distribute it purposefully as a carrier and remedy to the hurts we have suffered and endured in the past, the wrongs for whose righting we are deeply owed by the white world.

Come to think of it, hatred, or its polar opposite, affection, are that most elementary of human impulses, yet so fundamental as to inform our whole system of behaviour whether as individuals, as families, as communities, as peoples, or as nations. Take the Germans as an example. Under Hitler the Germans grew clear in the knowledge that their collective hatred had to be directed against Jews. This German anti-Semitism — however mistaken, however outrageous, and in the end however tragic — went towards defining German-ness, indeed went towards building the German people’s collective self-consciousness. It became the open sesame to membership into the Aryan family. This anti-Jewish sentiment built a war, declared it, prosecuted it before eventually losing it, in the process, losing itself as the dominant, organising idea. Indeed this is why the defeat of Nazism in Europe has meant the construction of a counter-myth of Semitic Infallibility.

Wonder wat die Duitser hiervan dink.

Lees verder hier.

Written by rondloper

June 29, 2008 at 2:22 pm

Posted in Uncategorized

So ry die boere

with 2 comments

So lyk hy . . .

Written by rondloper

June 24, 2008 at 5:57 pm

Posted in Wonderful places

Helder

without comments

Toe ek vanoggend my blindings ooptrek, toe is die lug weer blou. Meer as ‘n week se stof het weggewaai. Ek het probeer om foto’s te neem van die stad midde-in die stofstorm, maar dis moeilik, want eintlik sien ‘n mens niks nie. Gewoonlik as ek stad toe ry van die huis af, het ek ‘n mooi blik op die hele, skouspelagtige skyline, die afgelope week was daar net eenvoudig niks. Eers as ek naby gekom het, het ek die geboue begin uitken. Hierdie foto is by my kantoor.

Hierdie is in Jumeirah naby ‘n plek waar ek soms gaan koffie drink voor werk. Daar agter in die verte sien mens gewoonlik al die nuwe geboue, hier kan mens die son sien weerkaats op een, en effens uitmaak daar’s ‘n paar ander geboue. Ek sal ‘n foto hier neem op ‘n helder dag dat mens beter kan vergelyk.

Maar hierdie een geen darem ‘n idee van ‘n helder dag, as die stof nie oor alles hang nie.

O ja, ek het vandag my nuwe kar gekry . . .

Written by rondloper

June 23, 2008 at 11:01 pm

Posted in Uncategorized

SA is nie net in die hart nie

with 7 comments

Die Spinneys in die Mercato-sentrum (“Mercato [Italian for market] is the first themed mall in the Middle East and UAE, which brings together the choicest lifestyle offerings from the Mediterranean, in addition to many exclusive international brands. Based on a distinctive Renaissance architectural concept . . . “) in Jumeirah verkoop:

Robertson’s speserye

Mrs Balls-blatjang

Ouma-beskuit

Bokomo-ontbytpap

Fry’s vegetariese kosse

Huisgenoot, You, Sarie, Fair Lady, Weg, Woman’s Value

I&J-visvingers

Vrugte uit die Boland

En as dit nie genoeg is nie, kan jy so ‘n entjie aan ry met Beach Road tot by die Choitrams en biltong en droewors koop.

Written by rondloper

June 21, 2008 at 7:59 pm

Posted in Uncategorized

Net een dag

with one comment

So lyk ‘n stofstorm as hy op pad is. Hierdie is in Koeweit. Ek en almal in die VAE is nou al die afgelope vyf dae reg in die middel van een. Ek moet bieg, ek het hom nie sien kom nie. Maar die sand pak oral aan, dis op my kar, in my neus, binne-in die huis, selfs deur die vensters kom dit. Ek was die kar en die volgende dag is hy weer asvaal van die stof. Die weer-mense het van die eerste dag van die stof verkondig dit sou oor drie dae opklaar. Dis nou al vyf dae later, en steeds is die weervoorspelling onveranderd – dit sal oor drie dae opklaar.

Maar, afgesien van die weer, kla ek nie, ek is besig om myself te verdiep in die lewe in die woestyn, ‘n lewe wat ek nie ken nie en ‘n lewe wat my steeds elke dag iets nuuts leer. Wie het byvoorbeeld geweet dat Iran (net hier aan die anderkant van die Golf), die Amerikaners se groot vrees soos CNN et al ons elke dag vertel, ‘n Joodse parlementslid het. En sinagoges. En die grootste Joodse gemeenskap in die Midde-Ooste buite Israel. Die Joodse parlementslid word verkies in ‘n spesiale setel met die uitsluitende doel om die Jode in Iran se belange te verteenwoordig. Daar was met die laaste oorlog in Libanon, toe Israel die suide ingeval het, betogings in Iran teen die sinagoges. Totdat die polisie die betogers verjaag het nadat aan hulle verduidelik is dis nie die Jode van Iran se skuld nie, dis die Israeli’s se skuld. Almal is toe vreedsaam uiteen. Iran is ook eintlik die enigste land in die streek wat wel verkiesings hou, so Bush het nie regtig ‘n rede om ‘demokrasie’ soontoe te neem nie. Sy goeie vriende in Saoedi Arabie en elders in die streek weet byvoorbeeld nie eens hoe lyk ‘n stembrief nie.

Op ‘n heel ander noot, Dubai het ‘n baie materialistiese klap weg, daar is soveel mededinging en ‘n gejaag na wind, dis eintlik onaangenaam. Beste kar, beste huis. Maar hier is ook die ‘klein mense’ wat ek hulle sal noem, wat dienste lewer soos jou hare sny of jou bedien in die restaurant of die winkel. Hulle leef in dele van die stad waar die materialistiese klas nie eintlik kom nie. Hulle werk regtig hard vir bietjie geld omdat dit steeds beter is as daar waar hulle vandaan kom. Dis die dele van die stad waar ek baie welkom voel, die atmosfeer is net heel anders, waar mense net gewoon vriendelik is, waar die lewe bietjie stadiger is. Dis waar ek graag uithang. Daar gaan dit nie oor jou sonbril se maak of watse soort horlosie jy dra of selfs wie jy nou eintlik is nie. Dit gaan maar net oor wees. Want almal het ‘n rede hoekom hulle hier is.

O ja, daar is nog net een dag oor voordat ek my nuwe kar kry (sien die post hieronder).

Written by rondloper

June 21, 2008 at 7:16 pm

Posted in Uncategorized

Subaru is die een

with 4 comments

As alles goed gaan, ry ek Sondag (wat in die Midde-Ooste soos ‘n Maandag is in die Weste, dis die begin van die week) by ‘n motorvertoonlokaal op Sjeik Zayed-weg uit met my splinternuwe, uit-die-boks Subaru Forester. Subaru is ‘n Japannese woord wat beteken ’sewester’ (in Engels ‘Pleiades’). Die motor se kenteken is dan ook ‘n ster-konstellasie. Subaru is vir kenners van motors. Die beste rit op die pad, permanente vierwiel-aandrywing, top-kwaliteit interieur en die veiligste kar wat daar is. En ‘n perfekte kruising tussen ‘n SUV en ‘n kar. Die ding is, die meeste SUV’s of 4×4’s is nie baie goed op gewone paaie nie. ‘n Harderige, ongemaklike rit. Maar hulle is goed in die veld. Of hulle is heeltemal te veel opgezoesj vir Sandton en Beverly Hills en Jumeirah se paaie, en dus te sag op die pad en eintlik glad nie goed in die veld nie. Subaru het dit vervolmaak om ‘n kar te bou wat veel beter as die meeste sedans op stadspaaie is (sy intelligente vierwiel-aandrywing beteken hy is werklik vas op die pad – Subaru is inderwaarheid bekend vir sy renmotors ook), maar die Forester is ook ‘n baie geldige SUV, perfek vir slegte paaie, sand en sneeu. Net wat mens nodig het in Dubai. En die prys hier is omtrent 40% van die prys in Suid-Afrika. Nuut. Met ‘n diensplan van drie jaar en vier jaar waarborg. Ek het aanvanklik oorweeg om ‘n Hyundai te koop, maar na baie wik-en weeg op die Subaru besluit. Hy’s wel heelwat duurder as die Hyundai, maar het net soveel meer klas. En ek wou nog altyd ‘n Subaru gery het, in SA kon ek dit net eenvoudig nie bekostig nie.

Written by rondloper

June 20, 2008 at 7:33 pm

Posted in Uncategorized

Dis heerlike lente

without comments

Dit was laasweek en die week voor dit lente in Dubai. Die blomme het geblom en die stad was oortrek van bloeisels, ‘n see van rooi en wit veral. Soos hierdie boom (‘n flamboyant, of flame tree, wat is dit in Afrikaans? ). Daar is baie strate hier wat omsoom is met hierdie bome, dis ‘n skouspelagtige gesig om in die wasige woestynhitte hierdie skouspel van kleur te sien. Helaas, die lente is reeds verby, die bloeisels het net so ‘n week of wat gehou. Nou het die stad weer sy ware woestynkarakter aangeneem, eintlik selfs bietjie meer as voorheen, want as dit regtig warm en bedompig is, hang daar so ‘n vaal wolk oor alles, die stad se wolkekrabbers verdwyn eintlik in die hitte, jy kan dit glad nie sien nie.

Written by rondloper

June 13, 2008 at 2:31 pm

Posted in Uncategorized

Leer en presteer

with 2 comments

Ons het pas drie dae van rou gehad hier in die VAE. Sjeik Nasser Bin Zayed Al Nahyan, broer van Sy Hoogheid Sjeik Khalifa Bin Zayed Al Nahyan, President van die VAE en Opperbevelvoerder van die Gewapende Magte, is Maandag dood in ‘n helikopterongeluk oor die Arabiese Golf. Ek mag nie skryf Persiese Golf in my koerant nie, want die Persiese Golf behoort nie aan Iran nie. Hier is ‘n paar grondgebied-kwessies wat krap hier in die streek . . . In elk geval, ek was Dinsdag in die kar op pad na Al Jafiliya, toe die radiostasie ewe skielik sy program onderbreek en aankondig die sjeik is dood, en dat daar drie dae van rou gaan wees. Al die vlae sal halfmas vlieg, en opgewekte musiek is vir die tyd verbode. Sommer eensklaps toe skakel die stasie (wat gewoonlik tagtigerjare-musiek speel), oor na klassieke musiek. Ek skuif toe aan na ander stasies, die meeste was reeds op klassieke musiek, behalwe Virgin Radio, wat bietjie laat was, en een of ander Indiese stasie. Op die stasie wat ek eerste na geluister het, het die omroepe gese mens kan gerus simpatie betuig, want die meeste mense wat hier woon is gaste in die land en dis die minste wat mens kan doen. Dit het my nogal laat dink aan die hele Dubai-ding en wat dit beteken om hier te woon. Toe’s ek sommer vies vir Virgin Radio wat die algemene gevoel ignoreer en aanhou met sy opgewekte musiek. Dit het egter nie baie lank geduur nie, ek dink iemand het die prop uitgetrek . . . Want nie te lank daarna nie, toe speel Virgin wat seker die enigste rustige musiek was waarop hy sy hande kon le, panfluit-weergawes van popliedjies. Die hele dag lank en die volgende dag. Dit was vir my baie snaaks. Die ander stasies het almal gehou by klassieke musiek, of resitasies van die Koran. So-ook al die plaaslike TV-stasies (waarvan daar ‘n hele swetterjoel is). Gelukkig het ek kabel-TV gekry laasweek, so ek het 159 kanale om van te kies.

Die rou-gebeurtenis het my baie laat dink. Toe ek hier aangekom het, was ek vreeslik slim en het gemaak of ek weet hoe die wereld werk. Ek het gespot met al die vreemde wette hier (soos die beperkings op alkohol, die feit dat mans en vroue mekaar nie in die openbaar mag soen nie, ag, daar is baie sulke dinge), die vreemde maniere van dinge doen. Maar miskien is dit ‘n bietjie verwaand van my om hier aan te kom en te verwag dat dinge moet werk soos ek daarvan hou. En om eerlik te wees, in my dag-tot-dag lewe het nie veel verander nie. Ja, ek moet baie versigtig wees as ek drink, en dis omtrent dit. Die kans dat ek ‘n vrou in die openbaar sal soen, is skraal. Die praktiese uitwerking van die drank-ding is dat ek eintlik basies opgehou drink het, ek het die laaste agt weke minder gedrink as wat ek in een aand in SA sou. Daar’s niks mee verkeerd nie. Ek is gelukkig met ‘n goeie werk en ‘n lekker huis, so waaroor sou ek dan kla. Die Moslem-wereld is nie my wereld nie en ek kan dit ook nie probeer verander nie, maar ek is ‘n geeerde gas hier, en dis goed. En die beste van alles vir my, is dat ek besig is om die wereld uit ‘n heeltemal ander oog te sien.

Ons is so verwesters en gewoond daaraan dat alles westers goed en reg is. Ons besef ook nie noodwendig hoe subtiel ons elke dag geindoktrineer word teen Moslems in die algemeen nie. Kyk ‘n bietjie volgende keer na koerantartikels oor byvoorbeeld Hamas in Gasa. Die kans is dat hulle militante genoem word. Sommer in die inleiding sal gepraat word van die militante beweging Hamas. Wie het so besluit? Hulle het ‘n wettige verkiesing gewen, en hulle veg ‘n wettige stryd. Daar is baie sulke voorbeelde as mens begin kyk. My werk hier behels gedeeltelik om artikels te sanitiseer van sulke verwysings, want baie kopie kom van internasionale agentskappe soos Reuters en AP, wat geheel westers in hul aanslag is.

‘n Ander interessante belewing was toe die Palestyne Al Nakba gedenk het. Toe die Israeli’s hulle uitgeskop en uitgemoor het. ‘n Hele week lank hier het ons gefokus op die lot van die Palestyne nou. Gewone mense met gewone drome wat nie meer ‘n land het nie. Nie die westerse beeld van vlugtelinge wat in sak en as sit nie, maar van mense wat probeer hoop op en werk vir ‘n beter lewe eendag. Mens se oe gaan oop hier - as jy wil, natuurlik. Baie kom hier aan en leef in westerse enklawes en moan oor dinge wat nie werk soos hulle wil he dit moet nie, maar maak steeds sakke vol geld. Nee wat, ek het besluit ek wil so veel as moontlik leer oor hoe die land nou eintlik werk, want dit bly maar ‘n vreemde plek, maar op hierdie manier, meer oopkop as gewoonlik, kan ek hopelik eendag as ek hier weggaan voel ek het iets geleer. Natuurlik is hier foute en probleme, en ek sal dit bespreek op my blog (en het al), maar hier is ook goeie dinge en dit is, immers, ‘n plek met sy eie wette en geloof en dis sy goeie reg.

Written by rondloper

June 7, 2008 at 8:06 pm

Posted in Uncategorized