Die beste winkelsentrum

29 04 2008

Toe ek pas in Dubai aangekom het, het ek omtrent vir ‘n week elke aand by ‘n plek genaamd Festival City aangery, by Ikea gestop en meubels in plat bokse gekoop wat ek dan tot vroegoggend in my woonstel aanmekaar gesit het. Soms met ‘n redelike mate van ‘n gesukkel. Dit was nou nadat ek ‘n paar weke lank blyplek gesoek het en net sommer haastig was om my plekkie ‘n huis te maak, mens wil darem tuis voel. Met dit afgehandel, het ek soms op my afdae weer by Festival City aangedoen, want daar is ‘n lekker koffiekroeg met gratis internet. Dit was nou voordat ek internet by die huis gekry het. Festival City is ook die naaste winkelsentrum aan my huis, net so tien minute se ry op lekker groot snelwee, maklik en eenvoudig om daar uit te kom. Maar so vat dit my toe omtrent ‘n maand om uit te vind dat ek eintlik net die een, baie klein deel van die sentrum geken het. Gister kom ek daar en sien daar is op die derde verdieping ‘n loopvlak, waar nog gewerk word (ek het dit al voorheen gesien en nie eintlik my daaraan gesteur nie, want dit lyk asof hulle net bou daar). Maar daar is tog aan die een kant ‘n opening en mense loop heen en weer. Volg dit en wat ‘n heerlike verrassing wag op my. Aan die anderkant is ‘n reusagtige, pragtige, hipermoderne sentrum, langs ‘n kanaal, en nog ‘n entjie aan langs die water (Dubai se ‘creek’, die see wat so deur die stad loop amper soos ‘n kanaal). Nou’s ek sommer baie gelukkig, want dis een van die min plekke hier met koffieplekkies en restaurante buite (langs die kanaal), die sentrum, so ver soos winkelsentrums nou maar gaan, is regtig mooi, dis net ‘n heel ander atmosfeer as van die ander plekke wat ek al besoek het, wat maar net soos alle groot winkelsentrums is. Dink ‘n bietjie Canal Walk, met al die water, net baie, baie groter en meer in die styl van Cavendish as Canal Walk. En dis net tien minute van my huis af! Dis nogal ‘n belangrike en vreugdevolle ontdekking, want in die somermaande leef almal hier maar redelik aan die binnekant, 45 grade is nogal warm. Ek is baie gelukkig dat ek toevallig blyplek gekies het naby wat vir my tot dusver die beste winkelsentrum hier is. Daar is onder meer ‘n reusagtige boekwinkel, ‘n gimnasium, my bank het ‘n tak daar (die banke hier het maar min takke, nogal vreemd vir my), elke klerewinkel en famous brand wat jy aan kan dink, en die water, o, die water aan die buitekant. Ook binne, sulke strome wat verdiepings hoog oor regte skulpe afloop. www.dubaifestivalcity.com

Daai vreemde trapperige goeters daar agter is die water wat oor skulpe loop.


Actions

Information

2 responses to “Die beste winkelsentrum”

30 04 2008
boerinballingskap (15:08:06) :

Dubai lyk vir my ogelooflik (hoewel effe oordrewe kunsmatig?). Nou’s my vraag net - maak al hierdie moderne, verbruikersvriendelike dinge die gebrek aan vryheid die moeite werd (internet ens., ens.).

30 04 2008
rondloper (22:51:40) :

Dit is inderdaad ‘n baie goeie vraag. Vreeslik baie mense hier gee blykbaar nie om nie. Hoekom sal hulle ook, hulle verdien sakke vol geld soos hulle nie eens in Londen of New York sou nie (ek is ongelukkig nie heeltemal in daai klas nie), hulle leef soos konings en worrie nie eintlik oor die ander dinge nie. Dan lyk dit ook vir my of die grootste gros middelklas-mense, soos ek nou, heel gelukkig is. Hulle spaar dalk bietjie op die blyplek en koop die Porsche (letterlik) wat hulle nie by die huis kon koop nie, of ry maar eerder met iets goedkoper soos ‘n BMW en bly in ‘n groter huis. Hulle worrie waarskynlik ook nie eintlik nie. Die arme res van die mense, die slawe, hulle is die wat regtig geen regte het nie, geen voet om op te staan oor enigiets nie, byna niks geld verdien nie, ses in ‘n kamer bly, maar tog ook kies om hier te werk. Want Bangladesj is darem bitter arm. Of Nepal, of Indie, of noem maar op. So ek kan nie regtig die vraag antwoord nie. Dis ‘n droom van ‘n verbruikersamelewing, dis so ongelooflik veilig, hier is regtig baie om te doen, belastingvry-leef is natuurlik wonderlik . . . Maar . . . Allerhande klein ‘vryhede’ word ook geleidelik weggevat. Hulle raak beslis strenger. Soos die internet-kwessie, die ander diensverskaffer wat nie gesensor het nie, waaroor ek voorheen geskryf het, is beslis oor die vingers getik. Die een emiraat, Ajman, het tot vandag twee drankwinkels gehad waar jy nie ‘n lisensie nodig gehad het om te koop nie. Ek was nog nooit daar nie, maar dit was half goed om te weet as ek nou regtig lus is vir bier by die huis kan ek soontoe ry (ek kan natuurlik ‘n lisensie kry, maar ek’s nog nie lus vir die schlep nie). Nie meer nie. Een van die heel groot winkelsentrums het lankal plakkate op sy deuere dat mense ‘kuis’ moet aantrek. Nie kortbroeke vir mans nie, nie kort rokke vir vroue nie. Twee van die ander heel grotes gaan nou dieselfde doen. ‘n Ander kwessie, jy mag nie van werk verander nie. As jy van werk verander, word jy vir ses maande verbied om vir enigiemand anders hier te werk. Dus ‘n slim manier, deur die staat afgedwing, vir plaaslike maatskappye om mense basies vas te hou. Ek het ‘n besluit geneem om ‘n paar jaar hier te bly, die hele wereld hier rondom te verken, want dis naby en maklik en goedkoop, so ek kan leef met die probleme. En Dubai is internasionaal bekend as een van die mees dinamiese stede op die oomblik, ‘n paar jaar se werk hier op my CV kan seker nie skade doen nie. Dus, ja, op die kort termyn is die gebrek aan vryhede waarskynlik nie die einde van die wereld nie. Maar ek dink nie ek sou jare en jare en jare hier kon bly nie.

Leave a comment

You can use these tags : <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>