Afghanistan
22 04 2008Daar woon meer as 200 nasies in Dubai. Daar is net so oor die 200 lande in die wereld. So ek dink daar is omtrent iemand van elke land in die wereld hier. Ek het al ‘n bier gedrink saam met iemand van Wit-Rusland (Belarus). Ek ken niemand van Wit-Rusland nie en ek ken ook niemand wat iemand ken van Wit-Rusland nie. Ek het al twee keer taxidrywers gehad van Afghanistan. Ek ken niemand van Afghanistan nie. Een van hulle het vir my in die kort trippie huis toe sy lewensverhaal vertel. Ek haal aan, vertaald in Afrikaans, en alles wat volg, het gevolg op my vraag oor of hy lekker bly in Dubai en of hy Afghanistan mis (die antwoord is nie so eenvoudig nie):
“Ja, meneer, in Afghanistan voorheen was die Taliban daar. Hulle het jou hand afgesny as jy iets gesteel het. Maar hulle is nie meer daar nie, dis nou baie sleg daar. Niks is veilig nie. My broer is doodgeskiet. Ja. Hy het een aand nadat hy betaal is vir sy werk huis toe geloop, en hulle het na hom toe gekom met Kalashnikovs [beduie met hand teen voorkop]. Daar is nie werk nie. Kaboel het werk, dis veilig daar, maar ek kom van ‘n klein dorpie. Daar is nie werk nie. Voorheen, met die Taliban, het ek net bietjie geld gehad, maar ek het huis toe geloop. Nou, my ma, sy gaan nie eens uit die huis uit nie, sy bly net binne.
My vraag: Hoe het hulle die hand afgesny?
“Daar was ‘n oop stuk grond (”ground”) waar hulle jou gevat het. Dan het hulle ‘n swaard gevat. Net so [wys met hand].
My vraag: Maar hulle het ook soms jou kop afgekap?
“Ja, nie so baie nie, maar ek was in Saoedi-Arabie ook. Ek was een keer daar toe bring hulle hierdie groot man. Swart man. Hy’t hasjish verkoop. Hy was groot [beduie, vet]. Hulle het hom so oor ‘n stoel laat leuen, toe vat hulle ‘n swaard.
Jy’t gekyk?
“Ja, ek het gesien.”
Het hy gehuil? Die swart man? Voor die tyd?
“Nee, hy’t nie gehuil nie. Hulle het hom so oor die stoel laat kniel, en toe kom die swaard.”
Toe’s ek by die huis.
“Jammer, meneer, dat ek nou so vertel het. Ek vertel nie eintlik gewoonlik nie.”





Recent Comments