Die beste winkelsentrum

29 04 2008

Toe ek pas in Dubai aangekom het, het ek omtrent vir ‘n week elke aand by ‘n plek genaamd Festival City aangery, by Ikea gestop en meubels in plat bokse gekoop wat ek dan tot vroegoggend in my woonstel aanmekaar gesit het. Soms met ‘n redelike mate van ‘n gesukkel. Dit was nou nadat ek ‘n paar weke lank blyplek gesoek het en net sommer haastig was om my plekkie ‘n huis te maak, mens wil darem tuis voel. Met dit afgehandel, het ek soms op my afdae weer by Festival City aangedoen, want daar is ‘n lekker koffiekroeg met gratis internet. Dit was nou voordat ek internet by die huis gekry het. Festival City is ook die naaste winkelsentrum aan my huis, net so tien minute se ry op lekker groot snelwee, maklik en eenvoudig om daar uit te kom. Maar so vat dit my toe omtrent ‘n maand om uit te vind dat ek eintlik net die een, baie klein deel van die sentrum geken het. Gister kom ek daar en sien daar is op die derde verdieping ‘n loopvlak, waar nog gewerk word (ek het dit al voorheen gesien en nie eintlik my daaraan gesteur nie, want dit lyk asof hulle net bou daar). Maar daar is tog aan die een kant ‘n opening en mense loop heen en weer. Volg dit en wat ‘n heerlike verrassing wag op my. Aan die anderkant is ‘n reusagtige, pragtige, hipermoderne sentrum, langs ‘n kanaal, en nog ‘n entjie aan langs die water (Dubai se ‘creek’, die see wat so deur die stad loop amper soos ‘n kanaal). Nou’s ek sommer baie gelukkig, want dis een van die min plekke hier met koffieplekkies en restaurante buite (langs die kanaal), die sentrum, so ver soos winkelsentrums nou maar gaan, is regtig mooi, dis net ‘n heel ander atmosfeer as van die ander plekke wat ek al besoek het, wat maar net soos alle groot winkelsentrums is. Dink ‘n bietjie Canal Walk, met al die water, net baie, baie groter en meer in die styl van Cavendish as Canal Walk. En dis net tien minute van my huis af! Dis nogal ‘n belangrike en vreugdevolle ontdekking, want in die somermaande leef almal hier maar redelik aan die binnekant, 45 grade is nogal warm. Ek is baie gelukkig dat ek toevallig blyplek gekies het naby wat vir my tot dusver die beste winkelsentrum hier is. Daar is onder meer ‘n reusagtige boekwinkel, ‘n gimnasium, my bank het ‘n tak daar (die banke hier het maar min takke, nogal vreemd vir my), elke klerewinkel en famous brand wat jy aan kan dink, en die water, o, die water aan die buitekant. Ook binne, sulke strome wat verdiepings hoog oor regte skulpe afloop. www.dubaifestivalcity.com

Daai vreemde trapperige goeters daar agter is die water wat oor skulpe loop.





Strandloper

29 04 2008

Dubai is op die beste van tye ietwat wasig, ek vermoed dis maar woestynsand wat so effe in die lug hang, en dalk al die bouwerk wat veroorsaak dat daar ook baie stof in die lug opstyg. Dit sorg wel vir skouspelagtige sonsondergange oor die see, hier by Jumeirah-strand. Die water is natuurlik heel louerig, en die lugtemperatuur is natuurlik heel warm. En dis nog nie somer nie. Die strand was nogal vol, en wat ‘n interessante plek. Daar is van Indiers en Pakistanis wat swem met al hul klere aan, tot Russe wat omtrent niks klere aan het nie. En alles tussen-in. Daar is fietsrybane en stapbane (met rubberoppervlak) op die promenade, en elke nou en dan ‘n plekkie waar jy ‘n eetgoedjie of drinkdingetjie kan koop. Mens kan lekker ver gaan loop, ook op ‘n pier wat diep die see in loop. Die mense saam met wie ek daar was, het my vertel die strand is besig tot omtrent middernag, mense loop, draf, sit op die promenade, ontmoet hul vriende, kuier, eet en geniet net eenvoudig die ietwat koeler aandluggie. Party swem ook tot diep in die nag. Wat ‘n vredige plek, dis goed om te weet ek kan na werk op pad huis toe bietjie op die strand gaan rondhang as ek luskry.

En as jy na die stad se kant kyk, sien jy nogal ‘n mooi skyline. En die Burj Dubai, wat net onmisbaar is (heel regs). Hy trek nou al by 157 verdiepings. Die Petronas-torings in Kuala Lumpur wat eens die hoogste gebou in die wereld was, is maar ‘n karige 88 verdiepings. En die huidige hoogste, die Taipei 101, is vermoedelik 101 verdiepings. Die Burj Dubai is nog nie klaar nie, g’n mens weet hoe hoog hy eindelik gaan wees nie. Net om ‘n idee te gee, hy is reeds drie Carlton-sentrums hoog. Of omtrent sewe Naspers-geboue, die een op die ander.





Dubai is die stad van liggies

23 04 2008

Die Burj al Arab (regs) is na bewering die enigste sewester-hotel in die wereld. Daai vreemde blou lippie wat daar heelbo links van die hotel uitsteek is glo ‘n kroeg. Ek was nog nie daar nie so ek weet nie hoe lyk dit binne nie. As jy by die hotel wil ingaan, moet jy iets eet of drink. Die goedkoopste opsie is koffie in die foyer, dit kos R400 vir koffie en broodjies.





Afghanistan

22 04 2008

Daar woon meer as 200 nasies in Dubai. Daar is net so oor die 200 lande in die wereld. So ek dink daar is omtrent iemand van elke land in die wereld hier. Ek het al ‘n bier gedrink saam met iemand van Wit-Rusland (Belarus). Ek ken niemand van Wit-Rusland nie en ek ken ook niemand wat iemand ken van Wit-Rusland nie. Ek het al twee keer taxidrywers gehad van Afghanistan. Ek ken niemand van Afghanistan nie. Een van hulle het vir my in die kort trippie huis toe sy lewensverhaal vertel. Ek haal aan, vertaald in Afrikaans, en alles wat volg, het gevolg op my vraag oor of hy lekker bly in Dubai en of hy Afghanistan mis (die antwoord is nie so eenvoudig nie):

“Ja, meneer, in Afghanistan voorheen was die Taliban daar. Hulle het jou hand afgesny as jy iets gesteel het. Maar hulle is nie meer daar nie, dis nou baie sleg daar. Niks is veilig nie. My broer is doodgeskiet. Ja. Hy het een aand nadat hy betaal is vir sy werk huis toe geloop, en hulle het na hom toe gekom met Kalashnikovs [beduie met hand teen voorkop]. Daar is nie werk nie. Kaboel het werk, dis veilig daar, maar ek kom van ‘n klein dorpie. Daar is nie werk nie. Voorheen, met die Taliban, het ek net bietjie geld gehad, maar ek het huis toe geloop. Nou, my ma, sy gaan nie eens uit die huis uit nie, sy bly net binne.

My vraag: Hoe het hulle die hand afgesny?

“Daar was ‘n oop stuk grond (”ground”) waar hulle jou gevat het. Dan het hulle ‘n swaard gevat. Net so [wys met hand].

My vraag: Maar hulle het ook soms jou kop afgekap?

“Ja, nie so baie nie, maar ek was in Saoedi-Arabie ook. Ek was een keer daar toe bring hulle hierdie groot man. Swart man. Hy’t hasjish verkoop. Hy was groot [beduie, vet]. Hulle het hom so oor ‘n stoel laat leuen, toe vat hulle ‘n swaard.

Jy’t gekyk?

“Ja, ek het gesien.”

Het hy gehuil? Die swart man? Voor die tyd?

“Nee, hy’t nie gehuil nie. Hulle het hom so oor die stoel laat kniel, en toe kom die swaard.”

Toe’s ek by die huis.

“Jammer, meneer, dat ek nou so vertel het. Ek vertel nie eintlik gewoonlik nie.”





Gebraaide glasstukkies

19 04 2008

Die vyfde item op die spyskaart is iets wat ek nog nie voorheen by ‘n restaurant raakgeloop het nie.





Na die berg

19 04 2008

Die Jebel Hafeet-hotel buite Al Ain op die Jebel Hafeet-berg. Ek dink Jebel beteken berg so dis dalk ‘n toutologie. Die berg is 1200m hoog, bietjie meer as Tafelberg, en net onder die spits is hierdie hotel. Met ‘n swembad met ‘n lekker kroegie in die water, putt-putt-bane en allerhande ander ontspannende dinge om te doen. En uitsigte oor die woestynvlaktes daaronder. En baie Russiese toeriste met vet boeppense en te klein swembroekies. Daar is niks anders op die berg nie, net ‘n entjie aan is nog ‘n gebou, dalk ‘n ander hotel. Verder is dit net hierdie absolute bar berg en die oop ruimtes om jou. Dis ‘n hele paar grade koeler as laer af ook nog, dit is dus die mees perfekte plek wat ek nog in die VAE ontdek het. Dis in die Abu Dhabi-emiraat, maar is minder as twee uur se ry van my huis af. Ek kan sien hoe ek soms naweke net hier gaan kom niksdoen en ontspan. Dan’s dit nog goedkoop ook.

Dis hoe mens daar kom. Met ‘n 1300 Mitsubishi Lancer, outomaties, met die lugversorger wat aan is. Die karretjie kreun maar ‘n bietjie teen die berg op. Maar die pad swaai en kronkel en elke draai bring nog dramatiese bergspitse, dis nie nodig om vinnig te ry nie. Wicus het al die pad van Suid-Afrika af gekom om na die berg te kyk.

Op pad na Jebel Hafeet naby die stad Al Ain, is daar baie kamele te sien op die sandduine langs die pad, wat eers ligbruin is en later al rooier word. Die duine, nie die kamele nie. Hierdie is \'n kameelbakkie.

Op pad na Al Ain, wat die stad is aan die onderkant van Jebel Hafeet, is daar baie kamele te sien. Meestal langs die pad, op die sandduine wat eers ligbruin is en dan later al rooier word. Maar hierdie is mobiele kamele, en hulle ry op ‘n kameelbakkie. Verstommend om te sien langs die pad is dat die hele pad, seker so 120 km, van Dubai tot in Al Ain aan weerskante beplant is met palmbome en ander bome, en natgelei word. Seker om ‘n effense skans teen stofstorms te bied. Dis werklik verstommend, so ver jy ry, sien jy hierdie perfekte pad met welige bome weerskante, en dan net sandduine weg van die pad. Al Ain is ook die VAE se oase-stad, daar is warmbronne, dis baie groen (vir ‘n woestynstad . . . ) en daar is hoegenaamd geen bouwerk nie. Wat ‘n vreugde, komende van Dubai waar daar net bouwerk is.

Op wie se bord het julle beland? Die pragtige sieletjies was by die dieremark in Al Ain, die stad het ook die enigste kameelmark in die VAE wat nog bestaan, maar ek dink ons het dit gemis. Hierdie outjies het wel vir my geglimlag voordat iemand hulle opgeeet het. (Jammer vir die swart kolle op die foto’s, daar was ietsie op my foon se lens ontdek ek toe dit te laat was. Maar dis nou opgelos.)





So lyk Spanje

14 04 2008

Ek het nog nie internet by die huis nie, dis hoekom ek nie so baie blog op die oomblik nie. Maar hier is solank ‘n prentjie van Spanje, waar ek nou woon. Die hele International City is nog baie nuut, daar is nog nie so baie winkels en dinge nie, maar dis heel nice daar, en dis glad nie ver van baie ander plekke in Dubai nie. Die huur is nie so belaglik hoog soos elders in Dubai nie, seker maar omdat daar ‘n persepsie is dat dit ver van die stad is of ver van al die aksie is. Dis nie 100% waar nie, ek ry net 20 minute werk toe, so 18km se ry. Die omgewing daar is wel nogal bar, daar is net sand en bossies. Hulle het verlede week begin om palmbome en ander plante aan te plant. Net om ‘n idee te gee, die goedkoopste woonstel in Dubai op die oomblik kos R85 000 per jaar, juis in International City. Jy moet vooruit vir die hele jaar betaal. Oral elders kos dit van R120 000 per jaar en meer. Natuurlik moet mens nie in rand dink nie, ek gee maar net die rand-bedrag ter verduideliking. Maar selfs al verdien jy dirhams is dit duur. Dit is die grootste enkele uitgawe hier, die verblyf. Met myne uitgesorteer na die aanvanklike gesukkel, voel dit soos ‘n vreeslike las wat van my skouers af is.





Keuses

14 04 2008

Die hoof-internetverskaffer hier sensor reeds die internet, die tweede en enigste ander verskaffer het dit tot vandag nie gedoen nie. Hulle sensor letterlik skadelose websites soos flickr. Vandag op die voorblad van my koerant was die volgende kort beriggie, kyk hoe mooi word sensuur geformuleer om dit te laat goed klink. Ek is 100% seker dis nie du wat self die besluit geneem het nie.

Dubai:  Integrated telecom service provider du will be filtering internet content by proxy effective today, officials said in a statement. “We want to ensure that all our customers’ requirements are met, and that we comply with all the guidelines of the Telecommunications Regulatory Authority (TRA), including those on internet content filtering. Recently, there have been many complaints from du internet users on the lack of filtering out offensive websites. The proxy will hinder users from having access to all websites. The company will be blocking all content that is not in line with moral, social and cultural values of the UAE.





Moenie wegry nie

10 04 2008

Elke dag, wanneer ek by ‘n kafee inhardloop, of lank by ‘n winkelsentrum besig is, of gou bank toe gaan, of besig is om my rybewys te kry, sien ek motors langs die pad staan in Dubai, in parkeerterreine by winkelsentrums, voor die bank, langs die straat. Met die sleutel in die aansitter en die enjin wat hardloop. Dis sodat die kar nie warm word binne nie, sodat die lugreeling aanhou werk terwyl die kar-eienaar sy sake afhandel. Wat die prentjie nog meer interessant maak, is dat die eienaar gewoonlik niemand in die kar agterlaat nie. Die kar staan sommer so op sy eie daar met die enjin wat hardloop en die sleutel in die aansitter. Daar is ook nie wagte wat kyk of iemand anders wat dophou nie. Dis nie ‘n buitengewone prentjie nie, ek sien dit daagliks en gereeld. Ek neem aan die kar is nog daar wanneer die eienaar sy sake afgehandel het, anders sou so baie mense dit seker nie gedoen het nie.