Dubai
23 03 2008Dubai is vir my ietwat van ‘n vreemde plek. Dit lyk nie veel anders as Namibie nie, daar om die kus by Luderitz of Swakopmund, dis net sand. Maar tussen die sand is hierdie mees ongelooflike geboue en plekke, anders as Namibie. Nie dat hulle veel meer hier het nie, hier is ‘n bietjie olie, en baie slim planne. Die stad is werklik ongelooflik. Dis net wolkekrabbers waar jy kyk (die hoogste in die wereld is net skuins oorkant my werk), as jy die koerante oopslaan is dit net Dolce & Gabanna, Porsche, Swarovski en al daai grootgeld-name, die nuwe middestad wat hulle besig is om te bou (afgesien van vele ander projekte wat almal ewe groot is), lyk soos Hong Kong, dis net wolkekrabbers en saans ligte en goeters wat flikker. Maar eintlik is hier niks. Dis woestyn. Sand. Maar geld. En dus lyk dit soos en is dit ’n wonderlike moderne stad. Ek loop in die pad uit en ‘n taxi stop sekondes later langs my om te hoor of ek wil saamry. En hy is behoorlik gereguleer, geen slim tricks om my geld te vat nie. Ek gaan na ‘n winkelsentrum om ‘n nuwe sim-kaart te kry, letterlik vyf minute later het ek ‘n nuwe telefoonnommer. Ek kan letterlik kies uit al die kos van die wereld. Ek kan ‘n goeie kar soos ‘n Jaguar wat so 5 jaar oud is, koop vir R40 000. Maar, dan is daar die ander kant. Dis ietwat repressed. Jy mag nie eintlik eens na werk ‘n bier drink nie, tensy jy na die vyfster-hotelle gaan en dit ‘n plaas se geld kos, of ‘n alkohol-lisensie kry. Vroue is maar tweedeklas-mense, aparte sitplekke op die bus, die meeste Arabiese vroue (byna almal, om eerlik te wees), is toegemaak onder serpe en dinge, soms sien jy die gesig, soms net die oe. Vele webwerwe word geblok deur die regering, eenvoudige dinge soos flickr. So ek kan nie eens my foto’s oplaai nie. Ek soek al die afgelope week blyplek, ek het nou uitgevind twee dinge tel teen my. Eerstens is ek ‘n ‘bachelor’. Ek het al ‘n hele paar agente gebel, alle navrae gedoen, dan vra hulle, is jy ‘n familie. Nee. Sorry, only for families. En, ek was by twee mense wat eers vra of ek Russies is (lyk ek soos ‘n Rus, ek dog ek lyk Chinees?), en dan as ek negatief daarop antwoord, kom die family-vraag. Een ou wat ek more sal sien, wou ook weet of ek ‘n Rus is, maar die bachelor-ding het hom darem nie gepla nie. Snaaks nogal, toe ek antwoord, nee, ek is Suid-Afrikaans, was sy reaksie, OK, that’s fine. En verder, soos vanaand, die eerste keer, het ek besluit ek gaan uitgaan en die onfatsoenlike ding doen deur ‘n paar biere te drink. Die plek, volgens Timeout, is een van die gewildste plekke hier. Daar was vele, vele Arabiere wat gestaar het na die enkele vroue daar asof hulle op ‘n beesveiling was, daar was talle buitelanders wat net so in die niet gesit en staar het, daar was baie mense wat regtig, regtig dronk was, daar was ‘n hele groep gay ouens wat openlik gestaan en flap het, daar was twee Russiese prostitute wat net so neffens my gesit het, en ook enkeles van Afrika. Dis half, jy leef in ietwat repressiewe omstandighede, dus gaan jy uit na ‘n kroeg en raak heeltemal laf en vergeet al die reels. Dis die indruk wat ek gekry het. Ek het al baie plekke in my lewe gesien, hierdie is eintlik die eerste plek in die Midde-Ooste, naas ‘n plek wat ek nie mag noem nie, want dan word ek hier uitgeskop, en, ja, dis sekerlik die vreemdste plek waar ek nog was. Dis eenvoudig skouspelagtig, regtig, die dinge wat hier gebou word is net ongelooflik. Maar dis ook so half scary. Maar tog gaan ek hier bly, want die geleenthede is legio.





Bring saam hulde aan Bertus Melk deur hier te klik
http://bertusmelk.wordpress.com
Daaride hoogste gebou vorder seker vinnig. In Desember was hulle al by omtrent 400 of 500m as ek reg onthou.
Gaan bly daar naby die mall met die ski-slope . Dan kan jy afkoel in die somer, en jy’s naby die strand
Zuit, as ek maar net kon bekostig om daar naby die ski-slope te bly . . . Hierdie plek se pryse is insane, ek wil wraggies nie al my swaarverdiende dirhams op blyplek uitmors nie, nie as ek dink hoeveel dit werd is as ek dit omswaai na rand toe nie! Die (stinkryk) mense hier dink niks daarvan om sommer so R700 000 per jaar te betaal om ‘n huis te HUUR nie! Selfs woonstelle in die topareas kos minstens R300 000 per jaar huur en meer. Ek weet, mens moenie in rand-terme dink nie, maar selfs in dirham-terme is dit baie. Die koerant is elke dag vol briewe en stories van mense wat kla oor hoe duur dit is. Daar is natuurlik goedkoper areas ook . . .