Wel, byna. Ek probeer die afgelope twee weke om my kar te verkoop voordat ek Dubai toe gaan en ek het nie besef dit gaan so moeilik wees nie. Ek het nogal drie interessante dinge geleer in die proses: ek dink die ekonomie knyp dalk nogal kwaai, ek dink mense se persepsies verander moeilik al is dit gebaseer op algehele onkunde, en ek dink mans is steeds die baas van die plaas.
Die kar is ‘n Hyundai Sonata, 1998-model, werklik in ‘n goeie toestand. Ek ry hom so bietjie langer as ‘n jaar, voor my het een mens hom gery van nuut af. Hy is altyd gediens, alles in die kar werk, hy het my werklik nog nooit enige probleme gegee nie. Ek ry maklik een keer per maand Strydenburg toe en terug van die Kaap af, dis ‘n goeie 1 500 km of meer, ek ry daagliks van Stellenbosch af Kaap toe vir werk, en allerhande ander ritte. Nooit enige probleme nie, nie eens ‘n hik nie. Dan moet ek byvoeg, ek sorg vir die kar, ek diens hom wanneer ek moet en ek vervang parte wat oud is wanneer dit nodig is. Dis mos maar hoe mens na ’n kar kyk.
Ek het hom in ‘n bietjie van ‘n oorhaastige oomblik gekoop omdat my vorige kar, ‘n ou E30-reeks BMW 320, gesteel is, en ek gewoond geraak het aan die werklike gemak van ‘n BMW. Die Hyundai het dit alles gehad en baie meer, en was nie te duur nie. Leersitplekke. Lugversorging. Verstelbare sitplekke (op, af, nie net die gewone vorentoe en agtertoe nie, rugsteun, allerhande sulke lekker dinge), cruise control, wonderlike radio met 8 luidsprekers, reusagtige kattebak, reusagtige binneruim, op die agtersitplek voel jy asof iemand jou rondry in ‘n chauffeur-gedrewe limo, radioknoppies op die stuurwiel en allerhande ander dingetjies. En alles werk nog. Maar nou besef ek dat mense blykbaar nog steeds ‘n persepsie het dat Hyundais nie goeie karre is nie en dis hoekom ek so sukkel om hom te verkoop.
Ek het sy prys drasties verlaag. Die markwaarde (volgens Mead, gesaghebbende webwerf wat handelaars gebruik om die pryse van voertuie te bepaal), is sowat R44 000. Ek het hom geadverteer vir R29 000. Hy’t 156 00 km op, wat min is vir ‘n tien jaar oue kar met ‘n tweeliter-enjin. Baie navrae gekry, van vroue meestal. Byvoorbeeld, een was reg om te koop, totdat sy met haar man gepraat het. Hy bel toe en se nee, hulle gaan eerder ‘n Toyota soek. Nog ‘n vrou bel, onderhandel tot op die punt van koop, sy gaan net gou met haar man praat. Nie weer van haar gehoor nie. En een man het gebel (hoekom weet ek nie, vra alles uit, se hy sal weer bel en dan hoor ek niks). Dus, die mans, wat reken hulle is baie slim en het alle wysheid in pag, het hul vroue vertel hulle weier volstrek om ‘n Hyundai te koop. En die vroue buig gedwee. Maak nie saak dat jy nie soveel luuksheid ooit teen die prys sal kry nie. Maak nie saak dat die motor werklik betroubaar en goed versorg is nie. Maak nie saak dat Koreaanse motors baie van Japannese tegnologie gebruik maak en dus nie veel anders as byvoorbeeld ‘n Toyota of Mazda of Honda is nie. Maak nie saak dat omtrent 90% van die karre in Korea (Boer in Ballingskap sal hier met my saamstem, ek het dit met my eie oe in Seoel gesien) Hyundais is en die taxis dikwels my model-kar is nie. Nee wat, hulle kies eerder ‘n eenvoudige Toyota uit 1992, ses jaar ouer met meer kilos, sonder enige luukshede, sonder selfs werkende enjins, teen dieselfde prys wat waarskynlik oor ‘n maand gaan breek, net omdat dit ‘n ’goeie naam’ is, al het die vorige eienaar dalk die kar deur sy gat getrek. Moeilik om persepsies te verander al is dit gebaseer op totale onkunde. Dis omtrent soos politieke persepies . . . Anyway, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Dit beteken ek sal waarskynlik die kar iewers in ‘n garage moet trek (tensy iemand wat hier lees iemand ken wat iemand ken wat ‘n betroubare kar soek vir amper gratis, en niemand gaan hom ooit steel nie, want niemand wil hom koop nie, ek wil net ontslae raak daarvan, teen enige prys . . . )






EK BESEF NOU EERS HOE LANK LAAS EK HIER KOM INLOER HET, JAMMER JY, MAAR DINGE GAAN MAAR VREK DOL HIERDIE KANT, WERK, TRAINING, WORKSHOPS, WERK, EDITS, URGENT EDITS, HIERDIE NAWEEK WIL EK SOVEEL AS MOONTLIK VIR SO LANK AS MOONTLIK RUS EN SLEG WEES!
Die tweedehandse motor-mark is in sy moer, om dit ligweg te stel. Dit, en die persepsie probleme wat jy beskryf sou my raaiskoot ook wees hoekom jy sukkel om te verkoop. Hyundai het nog altyd baie goeie waarde vir geld gebied. Ek wonder self hoekom mense in SA so hardkoppig is oor hulle persepsies. En dis nie asof hulle dit op enige feite kan baseer nie. Veral die Toyota obessie wat meeste mense het. Ek ry so nou en dan rond met my ma se Hyundai Getz. Terwyl hulle in die UAe bly staan hy ook in stoorplek, dan ry ek maar net om die battery te laai so nou en dan. Dis regtig een van die lekkerste karre waarmee ek nog gery het.
Dink net, in Dubai gaan jy vir jou ‘n reuse kar kan koop met ‘n reuse enjin, vir nie baie geld nie, en omtrent niks vir petrol betaal nie!
Is hy al weg? Ek gee die info aan vir iemand wat mag belangstel - en glo in H.
Mooi