Archive for March 2008
Spanje is die plek
As alles goed gaan, bly ek hopelik teen Sondag in Spanje, net so langs Italie en Frankryk, en skuins oorkant die Verbode Stad. China is aan die anderkant. Ek sou eers in Engeland gebly het, maar dit het deur die mat geval, want Engeland se agent was bietjie scaly. Toe sit ek amper op straat in Dubai, maar gelukkig kom Spanje toe tot my redding. Hopelik, want alles is nie altyd wat dit blyk om te wees nie.
Kyk gerus hier hoe lyk dit: www.internationalcity.ae
Dubai
Dubai is vir my ietwat van ‘n vreemde plek. Dit lyk nie veel anders as Namibie nie, daar om die kus by Luderitz of Swakopmund, dis net sand. Maar tussen die sand is hierdie mees ongelooflike geboue en plekke, anders as Namibie. Nie dat hulle veel meer hier het nie, hier is ‘n bietjie olie, en baie slim planne. Die stad is werklik ongelooflik. Dis net wolkekrabbers waar jy kyk (die hoogste in die wereld is net skuins oorkant my werk), as jy die koerante oopslaan is dit net Dolce & Gabanna, Porsche, Swarovski en al daai grootgeld-name, die nuwe middestad wat hulle besig is om te bou (afgesien van vele ander projekte wat almal ewe groot is), lyk soos Hong Kong, dis net wolkekrabbers en saans ligte en goeters wat flikker. Maar eintlik is hier niks. Dis woestyn. Sand. Maar geld. En dus lyk dit soos en is dit ’n wonderlike moderne stad. Ek loop in die pad uit en ‘n taxi stop sekondes later langs my om te hoor of ek wil saamry. En hy is behoorlik gereguleer, geen slim tricks om my geld te vat nie. Ek gaan na ‘n winkelsentrum om ‘n nuwe sim-kaart te kry, letterlik vyf minute later het ek ‘n nuwe telefoonnommer. Ek kan letterlik kies uit al die kos van die wereld. Ek kan ‘n goeie kar soos ‘n Jaguar wat so 5 jaar oud is, koop vir R40 000. Maar, dan is daar die ander kant. Dis ietwat repressed. Jy mag nie eintlik eens na werk ‘n bier drink nie, tensy jy na die vyfster-hotelle gaan en dit ‘n plaas se geld kos, of ‘n alkohol-lisensie kry. Vroue is maar tweedeklas-mense, aparte sitplekke op die bus, die meeste Arabiese vroue (byna almal, om eerlik te wees), is toegemaak onder serpe en dinge, soms sien jy die gesig, soms net die oe. Vele webwerwe word geblok deur die regering, eenvoudige dinge soos flickr. So ek kan nie eens my foto’s oplaai nie. Ek soek al die afgelope week blyplek, ek het nou uitgevind twee dinge tel teen my. Eerstens is ek ‘n ‘bachelor’. Ek het al ‘n hele paar agente gebel, alle navrae gedoen, dan vra hulle, is jy ‘n familie. Nee. Sorry, only for families. En, ek was by twee mense wat eers vra of ek Russies is (lyk ek soos ‘n Rus, ek dog ek lyk Chinees?), en dan as ek negatief daarop antwoord, kom die family-vraag. Een ou wat ek more sal sien, wou ook weet of ek ‘n Rus is, maar die bachelor-ding het hom darem nie gepla nie. Snaaks nogal, toe ek antwoord, nee, ek is Suid-Afrikaans, was sy reaksie, OK, that’s fine. En verder, soos vanaand, die eerste keer, het ek besluit ek gaan uitgaan en die onfatsoenlike ding doen deur ‘n paar biere te drink. Die plek, volgens Timeout, is een van die gewildste plekke hier. Daar was vele, vele Arabiere wat gestaar het na die enkele vroue daar asof hulle op ‘n beesveiling was, daar was talle buitelanders wat net so in die niet gesit en staar het, daar was baie mense wat regtig, regtig dronk was, daar was ‘n hele groep gay ouens wat openlik gestaan en flap het, daar was twee Russiese prostitute wat net so neffens my gesit het, en ook enkeles van Afrika. Dis half, jy leef in ietwat repressiewe omstandighede, dus gaan jy uit na ‘n kroeg en raak heeltemal laf en vergeet al die reels. Dis die indruk wat ek gekry het. Ek het al baie plekke in my lewe gesien, hierdie is eintlik die eerste plek in die Midde-Ooste, naas ‘n plek wat ek nie mag noem nie, want dan word ek hier uitgeskop, en, ja, dis sekerlik die vreemdste plek waar ek nog was. Dis eenvoudig skouspelagtig, regtig, die dinge wat hier gebou word is net ongelooflik. Maar dis ook so half scary. Maar tog gaan ek hier bly, want die geleenthede is legio.
A most gruesome murder
Soms as jy werk as ‘n sub, is jy ietwat verveeld, dan kom jy af op dinge soos hierdie (let op die datum heelonder):
Since Tuesday morning the beautiful seat of the Earl of Darnley, at
Cobham park, near Gravesend, in Kent, its village, and the surrounding
suburbs, have been the scene of much excitement in consequence of the
perpetration of a murder, attended with circumstances of a truly
distressing character. The victim is Mr Dadd, sen., 55 years of age, a person who
a few years ago carried on a most extensive business at Rochester, as
a chemist and druggist. He had lately, however, retired, and had gone
to London, where he has since resided, in Suffolk street, Pall-mall
East, and gained some notoriety by the manufacture of an improved oil for
artists. He was found lying by the roadside, with his throat cut, and a
knife not far from his body. It has since been ascertained, beyond a
doubt, that the murderer of the unfortunate gentleman is no other than
his third son, Richard Dadd, a fine young man, 24 years age, and that he
committed the act whilst labouring under an aberration of intellect. He
was an artist of some celebrity, and has gained several prizes at the
Royal Academy. A year or two ago this unfortunate youth accompanied Sir
Thomas Phillips, the late Mayor of Newport, on a tour through Italy,
Switzerland, Germany, &c., for the purpose of improving himself in his
art. Owing to his arduous studies and constant exposure to the sun, his
brain became affected to such a melancholy extent as to produce
insanity. The circumstances attending the dreadful deed have not yet been
correctly ascertained, nor has the youth been apprehended.
- The Economist, 1st edition, Sep 2nd 1843
Die nuwe lewe
Dis hoe ek my nuwe lewe in Dubai begin het. In besigheidsklas! Met my eie persoonlike lugwaardin, wat as ek my oe oopmaak, langs my staan met nog sjampanje of nog ‘n canape . . . ‘n Lekker sitplek wat heeltemal plat afslaan tot ‘n bed as jy ‘n knoppie druk. Dit help om Voyager-myle op te bou en dit dan te gebruik vir ‘n upgrade! Dis die regte manier om hierdie besigheidsklas-plek binne te kom . . . My kop is nog te vol dinge om regtig sinvol te skryf vandag, ek weet nie waar om te begin nie. Dit was vandag my eerste dag by die werk, gister eers hier aangekom, klein bietjie verken en solank my nuwe sim-kaart gekry, vandag by die werk was besig en lank, maar die ergste stres is nou eers oor. Mens weet nooit regtig hoe ‘n nuwe werk gaan wees nie, maar alles vandag was heeltemal goed. Nuwe stelsel om te leer op die rekenaar, maar dit was maklik, nuwe styl om te leer, dit sal nog ‘n tydjie vat, kollegas leer ken, dit sal nog ‘n tydjie vat. Saans lyk Dubai vir my regtig skouspelagtig, dis net neonliggies en al hiedie fantastiese toringblokke wat hoog, hoog die hemel introon. Bedags is dit maar bietjie stowwerig. Loop ek in die strate af, sien ek net allerhande vertoonlokale vir groot karre, mooi huise, mooi meubels . . . Alles nog bietjie oorweldigend. Ek het ‘n paar belangrike dinge om nog af te handel, soos om blyplek te kry en ‘n kar. Ek gaan nou rus, die dag was lank.
Gratis kar
Wel, byna. Ek probeer die afgelope twee weke om my kar te verkoop voordat ek Dubai toe gaan en ek het nie besef dit gaan so moeilik wees nie. Ek het nogal drie interessante dinge geleer in die proses: ek dink die ekonomie knyp dalk nogal kwaai, ek dink mense se persepsies verander moeilik al is dit gebaseer op algehele onkunde, en ek dink mans is steeds die baas van die plaas.
Die kar is ‘n Hyundai Sonata, 1998-model, werklik in ‘n goeie toestand. Ek ry hom so bietjie langer as ‘n jaar, voor my het een mens hom gery van nuut af. Hy is altyd gediens, alles in die kar werk, hy het my werklik nog nooit enige probleme gegee nie. Ek ry maklik een keer per maand Strydenburg toe en terug van die Kaap af, dis ‘n goeie 1 500 km of meer, ek ry daagliks van Stellenbosch af Kaap toe vir werk, en allerhande ander ritte. Nooit enige probleme nie, nie eens ‘n hik nie. Dan moet ek byvoeg, ek sorg vir die kar, ek diens hom wanneer ek moet en ek vervang parte wat oud is wanneer dit nodig is. Dis mos maar hoe mens na ’n kar kyk.
Ek het hom in ‘n bietjie van ‘n oorhaastige oomblik gekoop omdat my vorige kar, ‘n ou E30-reeks BMW 320, gesteel is, en ek gewoond geraak het aan die werklike gemak van ‘n BMW. Die Hyundai het dit alles gehad en baie meer, en was nie te duur nie. Leersitplekke. Lugversorging. Verstelbare sitplekke (op, af, nie net die gewone vorentoe en agtertoe nie, rugsteun, allerhande sulke lekker dinge), cruise control, wonderlike radio met 8 luidsprekers, reusagtige kattebak, reusagtige binneruim, op die agtersitplek voel jy asof iemand jou rondry in ‘n chauffeur-gedrewe limo, radioknoppies op die stuurwiel en allerhande ander dingetjies. En alles werk nog. Maar nou besef ek dat mense blykbaar nog steeds ‘n persepsie het dat Hyundais nie goeie karre is nie en dis hoekom ek so sukkel om hom te verkoop.
Ek het sy prys drasties verlaag. Die markwaarde (volgens Mead, gesaghebbende webwerf wat handelaars gebruik om die pryse van voertuie te bepaal), is sowat R44 000. Ek het hom geadverteer vir R29 000. Hy’t 156 00 km op, wat min is vir ‘n tien jaar oue kar met ‘n tweeliter-enjin. Baie navrae gekry, van vroue meestal. Byvoorbeeld, een was reg om te koop, totdat sy met haar man gepraat het. Hy bel toe en se nee, hulle gaan eerder ‘n Toyota soek. Nog ‘n vrou bel, onderhandel tot op die punt van koop, sy gaan net gou met haar man praat. Nie weer van haar gehoor nie. En een man het gebel (hoekom weet ek nie, vra alles uit, se hy sal weer bel en dan hoor ek niks). Dus, die mans, wat reken hulle is baie slim en het alle wysheid in pag, het hul vroue vertel hulle weier volstrek om ‘n Hyundai te koop. En die vroue buig gedwee. Maak nie saak dat jy nie soveel luuksheid ooit teen die prys sal kry nie. Maak nie saak dat die motor werklik betroubaar en goed versorg is nie. Maak nie saak dat Koreaanse motors baie van Japannese tegnologie gebruik maak en dus nie veel anders as byvoorbeeld ‘n Toyota of Mazda of Honda is nie. Maak nie saak dat omtrent 90% van die karre in Korea (Boer in Ballingskap sal hier met my saamstem, ek het dit met my eie oe in Seoel gesien) Hyundais is en die taxis dikwels my model-kar is nie. Nee wat, hulle kies eerder ‘n eenvoudige Toyota uit 1992, ses jaar ouer met meer kilos, sonder enige luukshede, sonder selfs werkende enjins, teen dieselfde prys wat waarskynlik oor ‘n maand gaan breek, net omdat dit ‘n ’goeie naam’ is, al het die vorige eienaar dalk die kar deur sy gat getrek. Moeilik om persepsies te verander al is dit gebaseer op totale onkunde. Dis omtrent soos politieke persepies . . . Anyway, daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Dit beteken ek sal waarskynlik die kar iewers in ‘n garage moet trek (tensy iemand wat hier lees iemand ken wat iemand ken wat ‘n betroubare kar soek vir amper gratis, en niemand gaan hom ooit steel nie, want niemand wil hom koop nie, ek wil net ontslae raak daarvan, teen enige prys . . . )



