Grotmanne en kerse

28 02 2008
24022008077.jpg

Die ander dag toe ek op Strydenburg was om stil en rustig op my eie tydelik afskeid te neem van my huis, sit ek daar in die sitkamer en geniet ‘n goedkoop bier, iets wat my ongelukkig nie meer in Dubai beskore gaan wees nie, toe die krag uitskop. Steek toe maar al die kerse wat die hele huis vol staan aan (daar is oral kerse en kandelare, ek dink as die locals daar inkom sou hulle my van vreemde dinge beskuldig, miskien ook omdat daar allerhande heidense prentjies en beelde oral in die huis is). Soos die biertjie vloei en die kerse brand en alles baie, baie stil raak (want daar’s mos nie krag nie) merk ek toe (want ‘n vlam is tog hipnotiserend, in die dae voor TV het grotmanne na die vlamme van hul vure gestaar om die aand om te kry terwyl die vroue velle brei vir die strooibeddens) hoeveel motte en goetertjies vlieg reguit na hul dood die lig in. Ek was reg om hier heel filosofies te raak oor die soeke na die lig en dan as jy dit kry, dit wat jy nog altyd gesoek het, dan is alles ook verby, vir ‘n millisekonde is alles helder en lig en skoon en reg, en dan, boem, pikgitswartdonker, vir ewig. Toe herinner iemand my aan Langenhoven se gedig. Hy stel dit dalk beter as wat ek kan.

DIE MOT EN DIE KERS
CJ Langenhoven
Die ander motte is dom en dwaas,
maar ék sal ver van die kers af bly.
Hier uit die skemerte sal ek kyk,
want hier is dit veilig en kyk is vry.
Maar ek hoef nie van een kant af net te kyk,
ek vlieg ‘n wye sirkel om,
dan weet ek van alkant af hoe hy lyk,
om beter te sorg om nie nader te kom.
My sirkel was skeef en ingebuig,
maar daar ook waar ek die naaste was,
het niks gebeur,
ek maak verniet
my sirkel so groot en so ver van die as.
Die wieletjie draai al vinniger om,
die lig en die gloed word al groter genot.
Die velling word nouer al rondom
die end van die wiel,
is die as van ‘n mot!

Ek meen Langenhoven se kers wys eerder op iets soos die verbode vrug, die sonde selfs, vir my is die kers se lig eenvoudig net dit, die lig. En lig is goed, dis nie verkeerd of verbode nie. Maar tog, as jy te naby kom . . .