Die kerkklokke beier
29 01 2008Wanneer laas het jy die gebeier van die kerkklokke gehoor? Gebeur dit nog in stede? Ek was die afgelope naweek by my huis op Strydenburg in die Karoo en ek weet nie of ek dit net nooit opgelet het nie, maar hierdie naweek was ek op my eie daar en in die stilte het ek miskien dinge gehoor wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. Die kerkklokke (van daai kerkktoring daar agter op die prentjie af) beier elke uur op die uur met die getal ure en elke halfuur met so ‘n kort klankie. ‘n Geluid wat ek regtig baie, baie lanklaas gehoor het. Dis nogal gerusstellend op ‘n manier, party dinge op party plekke bly nou maar eenmaal net altyd dieselfde. Hoewel ek dit nog nooit (onlangs) in die stad gehoor het nie. Waar ek in my laerskooldae gewoon het, in Florida Glen in Roodepoort, was ons reg oorkant die kerk, ek onthou nog dit was altyd baie lekker op Sondae, want ek kon enkele minute voor die kerk begin net oor die pad loop. Of as daar Kermis was. Of na Sondagskool net so oor die pad loop en dan’s ek by die huis. Daar het die kerkklokke nog gelui, elke uur en elke halfuur.
Op ‘n heel ander noot, ek het die afgelope twee weke eindelik begin om bietjie gesonder te leef. Ek eet nog altyd gesond, maar nou oefen ek weer, lekker hard in die gim. Dis mos veronderstel om allerhande goedvoel-dingetjies in jou wakker te maak. Maar nou sit ek al dae lank met die vreemdste melankolie en hartseer wat oor my gekom het, sonder enige aanleiding. Ek raak skoon tranerig, sommer net. Ek verstaan dit nie, die enigste lewenstyl-verandering die afgelope tyd was die oefening, en nou maak dit my hart seer. Ek wonder skielik oor dinge soos dat ek steeds enkellopend is, terwyl ek altyd die een is wat die wondere van enkellopendheid besing. Ek verlang na vorige mislukte verhoudings en na verhoudings wat net nooit van die grond af gekom het nie. En ek weet nie waar hierdie gevoelens vandaan kom nie. Allerhande opwindende dinge gebeur op die oomblik in my lewe, ek kan nog nie nou uitlap nie. Miskien blog ek die komende naweek van ‘n ander land af, maar ek wag nog vir finaliteit. En tog is al wat ek voel hartseer. Is dit die oefening? Moet ek ophou daarmee? Of is dit ‘n geval van ‘n paar jaar se opgekropte hartseer wat nou eers uitkom met al die endorfiene wat weer begin vloei en daarna gaan ek sommer weer voel soos ek altyd voel en beter, gelukkig en tevrede.
Comments : 6 Comments »
Categories : Uncategorized









Recent Comments