Wanneer laas het jy die gebeier van die kerkklokke gehoor? Gebeur dit nog in stede? Ek was die afgelope naweek by my huis op Strydenburg in die Karoo en ek weet nie of ek dit net nooit opgelet het nie, maar hierdie naweek was ek op my eie daar en in die stilte het ek miskien dinge gehoor wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. Die kerkklokke (van daai kerkktoring daar agter op die prentjie af) beier elke uur op die uur met die getal ure en elke halfuur met so ‘n kort klankie. ‘n Geluid wat ek regtig baie, baie lanklaas gehoor het. Dis nogal gerusstellend op ‘n manier, party dinge op party plekke bly nou maar eenmaal net altyd dieselfde. Hoewel ek dit nog nooit (onlangs) in die stad gehoor het nie. Waar ek in my laerskooldae gewoon het, in Florida Glen in Roodepoort, was ons reg oorkant die kerk, ek onthou nog dit was altyd baie lekker op Sondae, want ek kon enkele minute voor die kerk begin net oor die pad loop. Of as daar Kermis was. Of na Sondagskool net so oor die pad loop en dan’s ek by die huis. Daar het die kerkklokke nog gelui, elke uur en elke halfuur.
Op ‘n heel ander noot, ek het die afgelope twee weke eindelik begin om bietjie gesonder te leef. Ek eet nog altyd gesond, maar nou oefen ek weer, lekker hard in die gim. Dis mos veronderstel om allerhande goedvoel-dingetjies in jou wakker te maak. Maar nou sit ek al dae lank met die vreemdste melankolie en hartseer wat oor my gekom het, sonder enige aanleiding. Ek raak skoon tranerig, sommer net. Ek verstaan dit nie, die enigste lewenstyl-verandering die afgelope tyd was die oefening, en nou maak dit my hart seer. Ek wonder skielik oor dinge soos dat ek steeds enkellopend is, terwyl ek altyd die een is wat die wondere van enkellopendheid besing. Ek verlang na vorige mislukte verhoudings en na verhoudings wat net nooit van die grond af gekom het nie. En ek weet nie waar hierdie gevoelens vandaan kom nie. Allerhande opwindende dinge gebeur op die oomblik in my lewe, ek kan nog nie nou uitlap nie. Miskien blog ek die komende naweek van ‘n ander land af, maar ek wag nog vir finaliteit. En tog is al wat ek voel hartseer. Is dit die oefening? Moet ek ophou daarmee? Of is dit ‘n geval van ‘n paar jaar se opgekropte hartseer wat nou eers uitkom met al die endorfiene wat weer begin vloei en daarna gaan ek sommer weer voel soos ek altyd voel en beter, gelukkig en tevrede.
Die kerkklokke beier
29 01 2008Comments : 6 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Public Service Announcement
11 01 2008Hierdie mense:
wie se ‘O’ in die logo gevaarlik baie lyk soos hierdie mense:
wat natuurlik die fiktiewe lugdiens is in shows soos Lost en flieks soos Executive Decision, en gewoonlik crash of gekaap word,
bied op die oomblik ‘n special aan van R200 na enige plek in die land. Hulle het dit nie geadverteer nie, ek het ‘n email van hulle gekry. Daar is waarlikwaar nog sitplekke beskikbaar vir daai prys. Ek gaan van die Kaap af Bloemfontein toe vlieg vir R400 heen en weer, dis omtrent ‘n derde van die petrolprys. Moenie slaap nie, moenie sluimer nie. Maak gou en vlieg nou.
Comments : 2 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Tegnologiese wonderwerk
6 01 2008
Dis ‘n foon. Dis ‘n uitstekende kamera. Dis ‘n baie goeie videokamera. Dis ‘n rekenaartjie met volledige web browsing, internetradio, direkte posting na blogs en flickr, lewendige streaming internetvideos (soos YouTube), dis ‘n stereo-musiekspeler (eksterne speakers!), dis ‘n musiekspeler, dis ‘n radio, dis ‘n game met topkwaliteit graphics en dis ‘n regte GPS, met kaarte van die hele wereld. Dis wonderlik! Jammer vir al die Engelse terme, tegnologietaal is vir my moeilik om te vertaal. Verlede jaar het ek lank gewik en weeg watter nuwe selfoon om te kry, soos ek voorheen hier geblog het. Vir my is so-iets ‘n groot besluit, ek is bietjie van ‘n gadget freak en hoe meer truuks my gadgets het, hoe beter. Ander mense droom van reuse-strandhuise en 4×4’s, ek droom van gadgets, so los my uit. Eindelik, nadat ek byna elke review wat beskikbaar was op die internet en elders gelees het, het ek besluit op die Nokia N95. En ek kyk nie terug nie!
Die foon kan alles doen wat jy gewoonlik kan doen, en nog veel, veel meer. Ek is veral beindruk met sy kamera (die post hieronder het ‘n foto wat ek daarmee geneem het); die Maps-application, waar jy kaarte van sowat 130 lande kan laai en dan is daar ‘n GPS-ontvanger wat jou posisie kan bepaal en jou roetes kan uitwerk; die moontlikheid om verskillende programme op te laai, soos ‘n program waarmee ek YouTube-videos kan kyk, enigiets wat beskikbaar is op YouTube, en ook ‘n program wat ek gelaai het waarmee ek internetradio kan luister, enige internetradio in die hele wereld; en die opsie om direk van die foon my foto’s na flickr te stuur. Wat ‘n wonderwerk. Maar volgende jaar is dit seker ou nuus. Nokia bemark hierdie foon as ‘n multimedia computer, seker ‘n bietjie dik vir ‘n daalder, hoewel hy basies enigiets kan doen wat jy gewoonlik op ‘n rekenaar kan doen. Hy’t net nie ‘n qwerty-sleutelbord nie (maar jy kan altyd ‘n bluetooth-sleutelbord gebruik, ook bluetooth-stereo-oorfone, of speakers . . . )

Comments : 8 Comments »
Kategorië : Goetertjies
Die nuwe jaar in Tesselaarsdal
6 01 2008Hierdie is die eerste foto wat ek op my blog post wat geneem is met my nuwe Nokia N95-foon. Hierdie foto wys watse soort kwaliteit ‘n mens met die foonkamera kan kry. Dis 5 MP. Dis op Tesselaarsdal, ek het vandag vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd weer gaan kyk hoe lyk my grond daar. Ja, dis net ‘n stuk grond, maar dit verander wel. Daar is inderwaarheid ‘n dennebos wat besig is om vorm aan te neem. Toe ek die grond gekoop het was dit poedelnakendkaal. Vandag het ek minstens 35 dennebome getel, in verskillende vorme van grootword. Hier is die grootste een, een van die mediumgrotes en enkele kleintjies. Lyk my dennebome teel aan soos hase, dis seker hoekom hulle deesdae ‘n beheerde plantsoort is. Ek sien ‘n mens mag hulle nog aanplant, maar jy moet hulle beheer, weghou van die grensdraad en weghou van waterreserwes. Gelukkig is my grond ‘n baie steil heuwel (vandaar die mooi uitsig op Tesselaarsdal daar onder), en die grond is redelik bar. Daar groei net enkele bossies. Die dennebome neem nie enige inheemse plante se kos weg nie.
Comments : 1 Kommentaar »
Kategorië : Tesselaarsdal







Onlangse Kommentaar