Archive for December 2007
Top secret
Ek was ‘n tydjie gelede saam met mense (geheime identiteite) na ‘n plek in die Kaap (geheime plek waar die vlootbasis is), vir ‘n dagekskursie. Deel van die ekskursie was om die SA Vloot se nuutste aankope van naby te besigtig, die nuwe fregatte (soos ‘n movie, die goed is regtig ongelooflik), en ook die nuwe duikbote (bietjie klein en benoud, maar tegnologies gevorderd). Terwyl ons nog die een fregat so besigtig, en kyk na die nuwe (hoogs geheime) helikopter op die dek, daag daar ‘n lugmagoffisier op met ‘n moerse houding. ‘Wie’s joernaliste’, vra hy. Wel, ons almal, antwoord ons. Nou ja, julle mag nie foto’s neem nie. Julle oortree. Julle is op pad om tereggestel te word. Dis alles fine, ons is bloot daar vir die lekkerte. Maar later, toe ons gaan vis en chips eet in die beste vis en chips- plek in die Kaap, toe kom land die (hoogs geheime) helikopter sommer so voor ons op die (nie meer geheime ) skip. Ons is ver buite die basis, maar foto is maklik. En zoom is maklik. Dus, meneer lugmagoffisier, jy is dom. Hier het ek ‘n foto van jou hoogs geheime helikopter soos hy op pad is om te land op die skip. Dis selfs beter as die statiese foto wat ek op die skip sou kry.
Die politieke spel
Van die belangrikste nuus vandag op die BBC se webwerf:
The National Election Commission said Mr Lee had 48.6% of the vote after 98% were counted. Chung Dong-young, of the ruling liberals, was second with 26.2%. Mr Lee’s victory hands back power to his Grand National Party (GNP) for the first time in a decade. But he still faces allegations over an alleged fraud in 2001, which he denies. Although prosecutors had decided there was not enough evidence to charge him, MPs voted to reopen the case earlier this week.
Nou ja, watter een van die boonste uittreksels verwys na ‘n piesangrepubliek en watter een na een van die wêreld se mees belowende jong ekonomieë? Dalk is dit nou maar net redelik duidelik dat politiek nou maar eenmaal vol mense is wat nie silwerskoon is nie. Of jy nou in Suid-Korea of in Suid-Afrika is. Geen verskil nie. Politiek is nou maar eenmaal vuil. Op ‘n persoonlike noot, ek dink Zuma gaan groot en nodige verandering bring in die land, wat lankal nodig is.
Wat mens nie in die koerant sien nie

Daar was vanaand ‘n gyseldrama in Kraaifontein. Wel, nie regtig ‘n gyseldrama nie, ‘n polisieman het homself gyselaar gehou, werkstres en so aan. Dit was onseker of hy gewapen was, maar die polisie wou nie kanse vat nie en die hele taakmag van die polisie het op die stil straat in Kraaifontein toegesak. Die bure het toe sommer hul stoele nader getrek om daar van die sypaadjie af die stukkie realiteits-TV van nader te bekyk. Die tannie hier in die voorgrond het selfs gesorg dat sy ‘n drankie het vir die aksie (lyk soos lekka brannewyn en Coke), daar in die sakkie aan die armleuning van haar kampstoel.
Name and shame
Die naweek was dit my werk se jaareindfunksie. Nee, ek gaan nie mense wat daar was name and shame nie (dalk later . . . ) Hierdie gaan oor iets anders. Ek weet nie of mense net dom is nie of wat, maar dit het nou al ‘n paar keer gebeur dat ek by plekke gaan eet het op funksies (werksverwant) waar ek moeite gedoen het om vooraf te laat weet ek is vegetaries (en eet wel vis). Geen probleem, is gewoonlik die antwoord. Maar genoeg is genoeg. Ek gaan voortaan plekke wat probeer wegkom met moord en dan nog die geld daarvoor vat hier aan die wêreld ontbloot. Wat reg is, is reg.
Eerstens, ‘n verduideliking. Vegetaries beteken eet nie vleis nie. Dit beteken eet wel gebalanseerde etes, mengsel van groente, vrugte, proteien, stysel, grane. Soos enigiemand maar. Duidelik verstaan talle funksie-venues dit glad nie, of dit traak hulle net eenvoudig nie. As hulle vra of daar spesiale versoeke is, moet hulle tog probeer voldoen daaraan, dis mos nie so moeilik nie.
Plek nommer 1: Die Muldersvlei-landgoed. By Muldersvlei, natuurlik. Dis waar die naweek se jaareindfunksie was. Ek en verskeie ander mense het lank, lank vooraf aangedui ons sou nogal bly wees as ons ‘n vegetariese gereggie kan kry vir die R120 per kop wat die geselligheid ons maatskappy kos. Daar gekom, ná peuselhappies van frikadelle (vleis), en klein pizzas (vegetaries), word die hoofgereg bedien. Hompe beesvleis, ‘n bietjie rys in ‘n ronde balletjie en gemengde groente. Nee, sê ek vir die kelnerin, ek het vegetaries bestel. Half vies draai sy om, kom terug met dieselfde bord sonder die vleis. Klein bietjie reis en bietjie gemengde groente. En dis nou die vegetariese gereg waarmee ek tevrede moet wees. As die caterers dink ‘n bietjie rys en groente is ‘n gebalanseerde ete sit hulle die pot ver mis. As hulle nou nie moeite wou doen nie, kon hulle minstens die bord afsluit met iets so eenvoudig soos ‘n kaasbroodjie of ‘n quiche, of baie eenvoudig, maak vir die vegetariërs ‘n boontjiesop en lekker plaasbrood. Dis vullend en gebalanseerd. Groente en rys is nie eens vullend nie. Dis ongelukkig die ou wanpersepsie dat vegetariërs groente eet. Punt. Maar as ‘n caterer darem nie eens dit weet nie . . .
Plek nommer 2: Die Stellenbosch Lodge. Was ook ‘n werkfunksie, ook vooraf kennis gegee. Dit was toe ‘n buffet-ete. Met roast lamb, hoenderpastei en nog een of ander soort vleis, en rys, groente en slaai. Vir die vegetariërs. Rys, groente en slaai. Die ander mense se bykosse. Weer eens geen moeite, hoewel my maatskappy presies dieselfde betaal het vir my as die mense wat drie soorte vleis kon eet. Dit is my hele punt met hierdie post, ek eet graag by vriende of my ouers ‘n slaaitjie en ‘n braaibroodjie as daar gebraai word, en dis meer as genoeg. Die stysel maak jou vol en die slaai is lekker gesond. En dis perfek. Maar in ‘n hotel wat hom voorhou as ‘n vierster-plek, is ek nie tevrede met slaai, gemengde groente en rys nie. ‘n Sjef moet mos weet. Toegegee, min mense is vegetaries, baie (soos ek) is soms bereid om vis te eet, maar as jy by ‘n funksie is, daar geen keuse is nie, jy laat weet jy is vegetaries, en dan kom hulle uit met ‘n bord met ‘n bietjie rys en groente, dan name and shame ek voortaan hier.
Karoostorm
Ek was die naweek op Strydenburg saam met my vriend Eduan. Dit was ‘n naweek van sit en gesels op die stoep soos oupas en tuur die vertes in, met ‘n lekker glas wyn (of gin en tonic soos die colonials). En ons is geseen met ‘n donderstorm wat skrik vir niks. Eers het die wind begin waai, toe vlieg die voels wild die lug in, toe kom daar sulke donker stofwolke oor die dorp gewaai, en soos ons kyk trek die donker reenwolke saam, die blitse en donderweer begin en swaar druppels begin neerplons, wat later ‘n watermassa word. Daarna, toe die son sak, toe lyk dit soos op die foto.
Die hoofstraat na die storm.
Nog ‘n deel van die hoofstraat.
Hierdie is die pan by Strydenburg. Gewoonlik is dit bar en droog, maar na die storm was dit vol water. ‘n Magiese gesig.






