Die fraaie Vientiane
30 11 2007Ek moet nog van my Laos-foto’s wys, so here goes! ‘n Ent buite Vientiane is hierdie plek waar ek ‘n tradisionele Lao-massering gekry het (ek het voorheen in ‘n ander post hierna verwys). Nou wys ek hoe lyk dit! Dis op die gronde van ‘n klooster en die atmosfeer is net wonderlik. Effense geurtjie van wierook in die lug, monnikke wat in die vertes chant, en so in die ooptes lê jy op ‘n bedjie terwyl iemand jou lyf regruk (letterlik).
Met die son wat sak, Thailand se liggies in die verte, is die rivier-restaurante langs die Mekong die plek om te wees. Ek was by een plek waar ‘n band Westerse en Lao-liedjies gesing het, en jy kon versoeke rig (enigiets, ons het probeer) en dan sing hulle.
Binne die mure van hierdie pragtige Frans-koloniale gebou, is die nasionale museum van Laos.
Met vele voorbeelde van gewere wat sommer oral uitgestal word. Staangemaak teen die mure, op vensterbanke, op banke en sitplekke, en vasgehou met ‘n stukkie draad hier en daar, soms nie eens vasgebind nie. (Daar is ook uitstalkaste vol medisyne en dwelms wat gekonfiskeer is op die onderste vloer). Die museum het ‘n sterk oorlog- en bevrydingstrydfokus. Laos was die land wat die ergste onder bomme deurgeloop het in die geskiedenis van die mensdom. Die imperialistiese Yanks het die land stukkend gebom tydens die Vietnam-oorlog om die Vietcong te probeer uitroei. Hulle het natuurlik, soos ons almal weet, klaaglik misluk.
Daar is pragtige voorbeelde van skilderye oor die wreedhede van die Franse kolonialiste teenoor die plaaslike mense. Kyk net hoe word daai baba daar agter in die put gegooi.
Gelukkig het die onbaatsugtige Marxistiese soldaat, met die morele steun van Marx en Lenin (op die agtergrond), die land bevry. Laos is steeds kommunisties (soos China en Vietnam, teoreties), maar in Laos is daar nog glad nie soveel ontwikkeling as in die ander lande in die streek nie. Dis eintlik ‘n baie arm land. Dis deel van die rede waarom daar geen multinationals soos McDonalds et al is nie. My waarneming, die kort tydjie wat ek daar was, was dat daar nie sulke hartverskeurende armoede is as in byvoorbeeld Kambodja of Indië nie. Die meeste mense in Laos is arm, maar my indruk was dat hulle darem (net-net) genoeg het om orraait te leef. En die stede en paaie is skoon en in ‘n goeie toestand.
Ek het ongelukkig hierdie plek se naam vergeet, maar dis iets soos die nasionale museum van artefakte, in Vientiane. Die duisende Boeddhas (in elke nis in die agtergrond is twee klein Boeddha-beeldjies) wat eerbiedig hier uitgestal word, is ‘n duidelike teken dat kommunistiese lande geen tyd het vir geloof nie.
Dis dieselfde Boeddha-plek as in die boonste foto, net aan die buitekant. Hou hierdie ruimte dop vir meer!
Comments : 2 Comments »
Categories : Verre Lande
























Recent Comments