Die fraaie Vientiane

30 11 2007

Ek moet nog van my Laos-foto’s wys, so here goes! ‘n Ent buite Vientiane is hierdie plek waar ek ‘n tradisionele Lao-massering gekry het (ek het voorheen in ‘n ander post hierna verwys). Nou wys ek hoe lyk dit! Dis op die gronde van ‘n klooster en die atmosfeer is net wonderlik. Effense geurtjie van wierook in die lug, monnikke wat in die vertes chant, en so in die ooptes lê jy op ‘n bedjie terwyl iemand jou lyf regruk (letterlik).

Met die son wat sak, Thailand se liggies in die verte, is die rivier-restaurante langs die Mekong die plek om te wees. Ek was by een plek waar ‘n band Westerse en Lao-liedjies gesing het, en jy kon versoeke rig (enigiets, ons het probeer) en dan sing hulle.

Binne die mure van hierdie pragtige Frans-koloniale gebou, is die nasionale museum van Laos.

Met vele voorbeelde van gewere wat sommer oral uitgestal word. Staangemaak teen die mure, op vensterbanke, op banke en sitplekke, en vasgehou met ‘n stukkie draad hier en daar, soms nie eens vasgebind nie. (Daar is ook uitstalkaste vol medisyne en dwelms wat gekonfiskeer is op die onderste vloer). Die museum het ‘n sterk oorlog- en bevrydingstrydfokus. Laos was die land wat die ergste onder bomme deurgeloop het in die geskiedenis van die mensdom. Die imperialistiese Yanks het die land stukkend gebom tydens die Vietnam-oorlog om die Vietcong te probeer uitroei. Hulle het natuurlik, soos ons almal weet, klaaglik misluk.

Daar is pragtige voorbeelde van skilderye oor die wreedhede van die Franse kolonialiste teenoor die plaaslike mense. Kyk net hoe word daai baba daar agter in die put gegooi.

Gelukkig het die onbaatsugtige Marxistiese soldaat, met die morele steun van Marx en Lenin (op die agtergrond), die land bevry. Laos is steeds kommunisties (soos China en Vietnam, teoreties), maar in Laos is daar nog glad nie soveel ontwikkeling as in die ander lande in die streek nie. Dis eintlik ‘n baie arm land. Dis deel van die rede waarom daar geen multinationals soos McDonalds et al is nie. My waarneming, die kort tydjie wat ek daar was, was dat daar nie sulke hartverskeurende armoede is as in byvoorbeeld Kambodja of Indië nie. Die meeste mense in Laos is arm, maar my indruk was dat hulle darem (net-net) genoeg het om orraait te leef. En die stede en paaie is skoon en in ‘n goeie toestand.

Ek het ongelukkig hierdie plek se naam vergeet, maar dis iets soos die nasionale museum van artefakte, in Vientiane. Die duisende Boeddhas (in elke nis in die agtergrond is twee klein Boeddha-beeldjies) wat eerbiedig hier uitgestal word, is ‘n duidelike teken dat kommunistiese lande geen tyd het vir geloof nie.

Dis dieselfde Boeddha-plek as in die boonste foto, net aan die buitekant. Hou hierdie ruimte dop vir meer!





Too close for comfort?

30 11 2007

oceanicairlines.jpg

l_mango1.jpg              

Met dié dat lugdienste van Suid-Afrika nou so in die nuus is, kom ek vanaand af op hierdie interessante ooreenkoms. Oceanic is mos daai fiktiewe lugdiens van onder meer Lost en ander rampflieks . . . 





Verbeeldingsvlugte

28 11 2007

51sc2s5jrpl_ss500_.jpg51bg61wectl_ss500_.jpg

Ek het so ‘n paar maande gelede iburst by die huis gekry, waar ek voorheen my MTN-HSDPA-kaart vir internet-toegang gebruik het. Ek moet sê, iburst is vir my wonderlik, ek is verstom oor die spoed, dis werklik vinnig (ek sien die toring van my huis af, en het ook ‘n antenna wat natuurlik help). Dit kom nou nog nie naby aan die internetspoed wat ek eenkeer met vakansie in Korea beleef het nie, dis net eenvoudig verstommend, maar my iburst is waarskynlik as good as it gets hier in SA. Die wonder daarvan is dat ek nou op die internet kan televisie kyk, die spoed is goed genoeg dat ek goeie beelde en klank sonder enige onderbrekings kry. Ek besit nie ‘n TV nie, en sal ook nie sommer weer een koop nie nadat ek behoorlik ‘n moeilike tyd met die SAUK gehad het om hulle te oortuig dat ek nie ‘n roofkyker is nie, ek het net eenvoudig nie ‘n TV nie. Ek het al die jare my lisensie betaal, maar die dag toe ek my TV verkoop, toe weier die SAUK mos min of meer om te aanvaar ek het nie meer ‘n TV nie. Maar dis ‘n ander storie en ek het al daaroor geblog. En in elk geval, hoekom ‘n TV koop, lisensiegelde betaal, dstv-intekening betaal, al daai dinge, as jy ‘n baie, baie wyer keuse op die internet kry? En dis gratis en verniet, jy betaal mos in elk geval vir die internet.

Ek het onder meer so ‘n Chinese programmetjie ontdek wat baie TV-kanale toeganklik maak (daar’s ook ander plekke waar ek TV kyk, maar die spesifieke program is maklik en eenvoudig), en op hierdie einste program ontdek ek toe gisteraand (eintlik vanoggend, ek was weer tot vroegoggend wakker) ‘n kanaal genaamd imaginetv. Dis waar die twee plakkate hierbo nou by die storie inkom! Toe ek die eerste keer inskakel, toe speel Thunderbirds (wat hier by ons oorgedoen is as Interster omdat die Britse Equity-verbod beteken het ons kon dit nie kyk nie - Interster op sigself was eintlik verstommend vir sy tyd, wat die ou SAUK toe reggekry het). Maar Thunderbirds is self nie te versmaai nie, ek het my verkneukel aan die poppe en die modelle, die karre en die ruimteskepe, en die ontploffings! Die mense wat die program gemaak het, het ongetwyfeld heerlik gespeel. En dan is daar nog van die poppe wat verlief is op mekaar, wat ek nooit as skoolkind raakgesien het nie . . .

En toe, toe begin The Adventures of Buckaroo Banzai Across the Eighth Dimension. Kyk net daai lekker plakkaat. Hy wou die landspoedrekord breek, en beland toe op een of ander manier in ‘n ”ander dimensie”. Hy jaag met sy kar (teen die spoed van klank) reg deur ‘n berg, en as hy anderkant uitkom is daar klewerige ruimtewesens wat aan die kar vasklou. En dan gaan hy glo voort om die aarde te red. Ek kon nie klaarkyk nie, want toe was dit al omtrent vieruur vanoggend, maar ek is seker ek sal dit weer iewers sien. Soveel pret en keuses en ek het nie eens dstv nie!





Soutvis en slangwyn

21 11 2007

Ek het hierdie lekker stukkie vis in Vientiane geëet. Heel, ingevryf met vreeslik baie sout, en dan gebraai totdat hy so ‘n krakerige kors gevorm het. Bedien saam met ‘n rissie-komkommerslaai en gestoomde groente. Die vis was baie vars, hy het enkele minute tevore nog in ‘n tenk in die restaurant rondgeswem. Dit het ek eers later besef toe ek die tenk raaksien. Maar hy was lekker. Hy kom uit die Mekongrivier.

Ek het wel nie van hierdie slangwyn (en spinnekop, skerpioen, enige ander leedpotige kreatuur wat jy jou kan indink, alles saam in ‘n bottel vol Lao Lao whiskey) gedrink nie. Ek’s nie eintlik bang om vreemde dinge te probeer nie, maar hiervoor het ek bloot gegril. Hierdie was in Luang Prabang.





Die mense van Laos

21 11 2007

Mandjieverkoper by die mark in Vientiane.

‘n Monnik by ‘n tempel buite Vientiane (waar mens ook kan gaan vir ‘n wonderlike tradisionele massering in ‘n boomhuis, onder die blaredak, wat ek natuurlik gedoen het!)

Stalletjiehouer en moto-bestuurder, Vientiane-mark.





Meditasie

21 11 2007

Terug by die huis, vanaand op pad terug werk toe. Joegaai. Tyd om te mediteer oor die toekoms, soos hierdie monnik in ‘n klooster in Luang Prabang. Ek oorweeg en heroorweeg nou al meer as ‘n jaar lank om in die Ooste te gaan woon vir ‘n tyd, ek het besluit na my lang reis verlede jaar dat ek eers gaan terugkom na SA en ‘n bietjie van ‘n neseier opbou hier voordat ek dit doen. Eiendom koop en so aan. Maar my frustrasievlakke loop hoog, anders as so baie mense wat die land verlaat omdat hulle so negatief is, is ek eintlik bitterlik positief oor SA. Maar ek raak hoogs gefrustreerd met al die negatiwiteit om my. En ek wil nie in die Ooste gaan woon om te vlug nie, ek wil soonoe gaan omdat ek my daar baie tuis voel. Nou, met my terugkeer het ek besef dis tyd vir aksie. Ek kan nie net more oppak en gaan nie, ek het nog ‘n paar verantwoordelikhede hierso, maar ek sien geen rede meer vir prokrastrineer nie.





One night in Bangkok

17 11 2007

Jammer vir die flou titel, maar dis gepas. Hierdie trip was vir my bietjie teleurstellend. ‘n Paar persoonlike sake wat ek moes uitsorteer (dis uitgesorteer) was harde werk en nie wat ek gehoop het nie, maar ek het minstens ‘n antwoord. So arriveer ek toe vanaand laat in Bangkok (bietjie anders as wat die plan was). Soos gereelde lesers van my ou blog weet, het ek bietjie van ‘n love-hate-verhouding met hierdie stad. Aanvanklik, met my eerste trip, het ek niks van Bangkok gehou nie, maar later (ek het telling verloor hoeveel keer ek al hier was, soms letterlik net ‘n paar ure, ander kere heelwat langer) het ek al meer van die stad begin hou. Nou voel dit al ‘n bietjie soos die huis, ek ken my pad en kom gemaklik oor die weg, die taxidrywers het nie ‘n kans om my te kroek nie (dit gebeur gereeld hier), ek kan goeie winskopies optel en so aan. Vanaand, in ‘n ietwat af bui, gaan drink ek toe maar ‘n lekker Chang-bier by ‘n straatkafee waar ek gewoonlik gaan. Raak aan die gesels met mense, oftewel, hulle raak aan die gesels met my. En daar in die middernagtelike ure besluit ek ek wil my hare sny. Eenuur die oggend. Vra uit, en jou waarlik, my drinkebroers stel ‘n plek voor, nog oop. Daar aangekom is die haarkapper natuurlik ‘n ladyboy, ek besluit ek wil ‘n heel nuwe image kry, en vra vir ‘n nommer 3. Dis universele taal, sy/hy verstaan dadelik en laat waai. En dis mos maklik, jaag die knipper deur jou hare en klaar, maar, nee, nie soos in SA enkele minute later klaar, dankie, waar’s jou geld nie. Nee, die knipper doen sy werk, dan word die kante eers baie netjies afgewerk, dit vat langer as wat dit gevat het om net met die knipper deur my boskaas te wikkel, en dan ‘n sjampoe en kopmassering, en dit alles kos my toe R35. Om eenuur die nag. En toe ek daar uitloop, toe is ek ‘n nuwe mens en toe besef ek weer, ja, daar is ‘n rede waarom ek so baie van stede soos Bangkok (mettertyd) en ’n paar ander plekke (al die eerste keer) in Asie hou.





Waar ek nou is

16 11 2007

So lyk Luang Prabang. Idillies. Bietjie gekommersialiseer vir my smaak, maar steeds idillies. Ek drentel deur die strate en geniet sononder langs die Mekong by enige van die honderde restaurante met dekke wat so half oor die rivier hang. Die internet is maar steeds stadig, ek sal later meer foto’s laai.





Aan die oewers van die Mekong

15 11 2007

Ek het vandag van Vientiane in Luang Prabang aangekom. Jammer ek het nog geen foto’s gelaai of voorheen gepost nie. Daar is toe ‘n ander land waar die internet stadiger is as in Suid-Afrika. Laos! Dis so stadig ek kan nie eens my mail oopmaak sonder om bitter lank te wag nie. Al wat ek nou wil skryf is Laos is pragtig! Dis ‘n backwater in die ware sin van die woord, hier is geen McDonalds, KFC, enige sulke globalisasie-gemors nie, lieflike mense, wonderskone natuur en dis net wonderlik. Ek sal seker maar eers as ek terug is in SA foto’s laai. Luang Prabang is op ‘n skiereiland met die Mekong aan die een kant en ‘n ander rivier aan die ander kant. Die reuk van frangipani hang in die lug, berge het die dorp in ‘n ewige omhelsing, en soggens loop die monnike in gewyde stilte, geklee in helder oranje jurke,  deur die strate wanneer die inwoners vir hulle kos gee. Salig, salig, salig . . .





En toe word dit ‘n buitenissige dag

9 11 2007

Is jy buitenissig?

Wat ‘n buitenissige plek!

Nou laat jy my sommer buitenissig voel.

WDF beteken buitenissig? Watter een van die boonste sinne is reg? Dis ‘n woord wat vanaand in een van die berigte opgeduik het wat ek moes deurgaan, en die skrywer het daarop aangedring dat ek dit so laat omdat dit die aangehaalde persoon se mening die beste omskryf. Moet nou nie kroek en in ‘n woordeboek kyk nie. Wie weet wat dit beteken?

BTW, ek vertrek more-oggend na Thailand, Laos en Kambodja vir ‘n kort vakansie. Kom loer gerus hier vir foto’s en berigte. rondloper loop weer rond!