Mandaryns101

15 10 2007

10210.jpg

Hierdie is my nuwe projek. Ek het dit verlede week ontvang per koerier uit die Verenigde State van Amerika nadat ek dit op die internet bestel het. Ek kon dit nie in winkels in SA opspoor nie. Dit kos my ‘n hele paar rand, maar ek glo wanneer ek hierdeur gewerk het, gaan ek Chinees kan praat. Sodat ek beter kan kommunikeer met my Chinese vriende wie se Engels nie te goed is nie, en wie is ek nou om te verwag dat hulle moet Engels praat as ek nie Chinees kan praat nie? Ek het nie sommer lukraak gekies nie, ek het oral op die internet rondgeswerf op soek na wat na my mening die beste selfstudie-taalkursus is. Ek glo dit is hierdie een. Dit word byvoorbeeld deur die Amerikaanse departement van buitelandse sake gebruik om diplomate op te lei. En deur Nasa. Maar ek weet nie hoekom die ruimtevaarders van Nasa dit gebruik nie, die mense in die ruimte praat seker tog nie aardse tale nie. In elk geval, die aanbevelings klink vir my goed. Ek is heeltemal in staat om deur selfstudie ‘n taal aan te leer, dis hoe ek begin het om Spaans te leer (ek het myself uit boeke die basiese dinge geleer en na ‘n paar maande in Suid-Amerika kon ek baie gemaklik praat). Ek gaan dieselfde doen met Chinees. Begeesterd is die woord.