Jimmy Abbot was in die Karoo en toe sneeu dit

14 10 2007

Ek is terug! Ek moet sê ek mis die blogosfeer heeltemal te veel. Dis seker al twee jaar gelede wat ek hier begin het, wel by Blogger, maar aangesien al die bloggers van destyd oorgeskuif het na WordPress het ek besluit om, as deel van die nuwe lewe wat ek in my blog gaan inblaas, ook die skuif hierheen te maak.

Ek het deels ophou blog omdat die oorspronklike gedagte met rondloper was om my lekker lang wêreldreis van 2006 te dokumenteer, vir myself en vriende. En deesdae is ek weer terug in ‘n vervelige day job (wel, nagskof), en ek het so half gevoel my blog was eintlik net ‘n reisblog. Maar dis tog nie die geval nie, dit kan mos oor enigiets gaan, het ek nou besluit, en ek reis in elk geval steeds gereeld. Dus, ek gaan weer probeer.

Ek was laasweek saam met twee vriende vir die naweek na my huis op Strydenburg, wat intussen min of meer volledig gerestoureer is en my gereelde naweek-uithangplek geword het. Al is dit baie ver en al is dit soms vir my nogal senutergend om die N1 tussen Laingsburg en Beaufort-Wes aan te pak. Maar wanneer ek daar aankom, is dit alles die moeite werd. Daar is vir my net niks wat kan vergelyk met die Karoo se ooptes nie. En die sterre. Dis ampers soos Sutherland op Strydenburg, die plekkie is ook redelik hoog geleë en daar is min lig, dus is die nagte skouspelagtig mooi. Jy voel of jy aan die sterre kan raak. Jy kan die Klein en die Groot Magellaanse wolke sien. Jy kan die melkweg duidelik sien. Dinge wat ons nie meer eintlik in die stad raaksien nie. Hierdie keer het ons ook ‘n draai gaan maak in Orania, dis so 70 km van my huis af. Ek was voorheen nog nooit daar nie. Daar is valhekke by die ingang tot die dorp, maar geen ’slegs blankes’-borde of sulke snaakse goed nie. Daar is beelde van Verwoerd en al die res. Die strate is skoon, vol bome, en die kinders speel op straat, alleen. Ons het geen aggressie ondervind nie. Ek kon die plek nie heeltemal plaas nie. Is dit mense wat net hul sogenaamde kultuur wil beskerm, in veiligheid lewe en vir hulself sorg. Of is dit ‘n wegkruipplek vir rassiste? Ek kan nie regtig sê nie. Ek het daar weggegaan met die gevoel dat ek ‘n temapark vir die apartheidstyd besoek het, sonder die kleinlike apartheidswette. Vreemderige ervaring, maar interessant.

O, ja, en Jimmy Abbot was ook in die Karoo.

Sybrandus, ek en Abigail met sononder op die stoep van die mooiste huis in die Karoo. Oorkant die straat bly ‘n tannie met ‘n hond genaamd Hitler.

Dit was ‘n Dom Perignon-oomblik. jammer mens kan nie eintlik die sterre afneem nie. Gelukkig was daar ‘n verdwaalde botteltjie Dom Perignon in die huis wat ek kon oopmaak. Maar Abigail moes help.

Hierbinne het Jimmy Abbot op ‘n stoel gesit terwyl gospel-liedjies op ‘n speaker gespeel het. Mense het van heinde en verre aangeloop gekom om na die profeet te luister. Die gebou was eens deel van die hotel, maar nou is die kroeg toe.  Dis by ‘n stasie genaamd Kraankuil, daar is niks anders daar nie. In die stasiegebou is al die outydse sinjale en dinge nog, ongebruik. Die goeters is mos nou elektronies.

En toe sneeu dit. Nee regtig. In Oktobermaand, in die Karoo. Op pad terug Kaap toe was die berge by Beaufort-Wes en Laingsburg spierwit onder die sneeu.

Kielie, kielie, wie is hierdie?

Abigail het gesê die mannetjie op die foto lyk of hy sy klere wil uittrek. Dit is ongetwyfeld nogal warm in Orania.

Hier is die mannetjie al weer, saam met al die ou mans, bo-op ‘n koppie net buite die dorp. Die pad soontoe is baie rou, ek weet nie of hulle net die mense met deursettingsvermoë daar wil sien uitkom nie.

Die Oranjerivier is altyd ‘n ongelooflike gesig. Hy loop mos vir die meeste van sy lengte deur die barre woestynland van die Noord-Kaap. Hierdie is die naaste deel van die rivier aan my huis, so 35 minute se ry. Dit beteken ek is naby aan water al is my huis in die Karoo. Heel anders as Sutherland, waar daar nie groot water naby was nie. Wat dit nie vir die eiendomswaarde kan beteken nie!


Actions

Information

3 responses to “Jimmy Abbot was in die Karoo en toe sneeu dit”

15 10 2007
alleman (08:40:56) :

Maar wat van die sneeu?

15 10 2007
idiwidi (11:52:28) :

Welkom by WordPress! :D

15 10 2007
rondloper (12:39:26) :

Ag skuus Alleman, ek het gisteraand so tussen die bloggery en die rugby bietjie vergeet van die sneeu. Maar dis nou daar!

Leave a comment

You can use these tags : <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>