Archive for November 2006
Pluimpie
Ek kan nie anders nie, ek moet ‘n pluimpie hier gee vir die SA Poskantoor (wat my al soveel hoofbrekens in die verlede gegee het). Ek pos gister, om 13:30, ‘n ‘Fastmail’-brief met belangrike dokumente (vir die oordrag van my huis in die Karoo) na Hopetown (so 200km suid van Kimberley). Die brief is in Roggebaai, Kaapstad, gepos. Vandag om 12:21 ontvang ek e-pos van die prokureur op Hopetown dat hy my dokumente gekry het. Minder as 24 uur later! Ek is verstom. Die poskantoor het of die brief gistermiddag opgevlieg Kimberley toe en toe per pad na Hopetown gevat, of gister baie kort nadat ek die brief gepos het, dit op ‘n trokkie na die Noord-Kaap gelaai. Wys jou net, dit kan gedoen word.
Daar is net niks

Ek gaan Februarie hiernatoe en probeer al die afgelope week of wat om ‘n guide book oor die plek te koop. Nie dat ek ooit die guide book se praktiese wenke gebruik nie (in my ondervinding is hulle byna altyd verkeerd) maar wel vir agtergrondinligting, geskiedenis ens. Maar daar is wraggies geen boekwinkel in die Kaap wat enigiets oor hierdie plek het nie (wel, snaaks genoeg, oor sy meer ongewilde buurman). Ek was by al die Exclusive Books-takke (Tygervallei, Waterfront, Stellenbosch, Kloof, Somerset Mall) en vele ander boekwinkels, ook tweedehandse boekwinkels van Observatory tot Stellenbosch. Maar, helaas. Dit maak my natuurlik net meer lus om te gaan. Duidelik is dit wel nie ‘n baie geiwlde bestemming vir SA mense nie. Wie kan raai? Dis nie so obvious as wat dit dalk uit die foto lyk nie.
Dis my huis
Dis my land (2)

Pelgrimsrus het ‘n besige klein plekkie geword sedert ek laas, baie, baie jare gelede, daar was. Die strate wemel van mense en daar is nou selfs modelle waar jy kan poseer vir ‘n foto, teen ‘n fooitjie natuurlik.

God’s Window in Mpumalanga. Enough said.

Dis nie die Jakarandastad nie, maar dis die eintlike Jakarandastad. Hoeveel mense weet dat Johannesburg die grootste mensgemaakte woud in die wereld is?
Hoekom
Die Chinese vertel:
Hoekom raas krieke so?
Want hulle wil graag vir ons (as mense) ‘n baie mooi storie vertel, maar ons verstaan nie hulle taal nie. Maar hulle wil regtig die storie vertel, want dis belangrik, so hulle hou aan en aan om te probeer.
Mooi, of hoe?
Wys hom alles

Volgende week loop rondloper weer rond. Jippieee! Ek kry ‘n besoeker van Kuala Lumpur en dan gaan ek hom op ‘n blitstoer deur die land vat. Ongelukkig kom hy net ‘n week, maar ek gaan hom die beste van SA wys. Ons gaan Krugerwildtuin (ek moet hom darem wilde Afrika wys) toe, via Mpumalanga en die Blyderivier-canyon, en dan vinnig afvlieg Kaap toe vir ‘n paar dae hier. Meer kan jy nie in so ‘n kort tyd sien nie, en beter ook nie. In Kruger gaan ons in een van die safaritente soos op die foto hierbo bly, in Tamboti-kamp. Ek was lanklaas daar, kan nie wag nie.
Drama

Toe ek ‘n kind was in Roodepoort het ek hierdie op kasset gehad, ‘n copy van ‘n copy en die klank was maar power. (Dis natuurlik die oorspronklike teks se weergawe, nie die Tom Cruise-ding van onlangs nie.) Vandag loop ek in Look and Listen in Canal Walk rond en wat ‘n verrassing, die War of the Worlds musiekblyspel op CD verwerk in ‘n pragtige houer met ‘n lekker dik boekie by. Koop, koop! Ek is vanaand baie gelukkig, dis heerlike musiek. En tog so dramaties. Vat my ver terug.
Halfwegstop

Ek gaan binne die volgende twee dae besluit of ek wel hier, Strydenburg in die Karoo, 780 km van Kaapstad en omtrent dieselfde afstand van Johannesburg, minder as twee uur van Kimberley, ‘n vakansiehuis wil koop. Die dorp is bekend vir die groot pan (regs op die foto as jy mooi kyk, maar dis nou droog) wat nadat dit gereen het ‘n see van pienk flaminke word.

Straattoneel. Karoo-huisies en grondpaaie. Die Karoo is besig om groot te raak, maar hier is dit nog baie goedkoop.

Daar is heelparty huise op die mark. Hierdie is een van die twee waaruit ek wil kies. Spotgoedkoop. Kort aandag.

Hierdie is die tweede opsie. Dubbel die prys van die vorige een, groter, baie netjies, maar ongelukkig binne ‘gemoderniseer’. Al die karakter, soos die houtvloere en mooi, ou deure is uitgehaal en vervang met nuwerwetse dinge. Maar wel baie netjies.

