Sirkels

28 09 2006

Die afgelope week of wat was maar stillerig aan my kant, ek was in Kuala Lumpur, waar ek net gerus het, en het toe ‘n blitsvinnige draai in Phuket gemaak op pad terug na Bangkok vir my vlug terug na Johannesburg. Ek kan oor vier interessante waarnemings hier berig.
1. In Phuket kan ‘n mens mieliepasteie koop. Vir iemand soos ek wat nie vleis eet nie, maar tog soms lus is vir ‘n lekker pastei, is dit wonderlik. En ‘n fantastiese afwisseling van die gewone feta en spinasiepastei.
2. 24 uur is heeltemal te min tyd in Phuket.
3. Op die terugvlug van Dubai na Johannesburg, het die vliegtuig ‘n draai gemaak oor die Palm-eilande, die mensgemaakte eilande in Dubai in die vorm van ‘n palmboom. Ek moet bieg, ek het gestaar en gestaar, ek was heeltemal stomgeslaan toe ek dit sien. Mens hoor daarvan, maar jy verwag nie dis so indrukwekkend nie. Baie mense se^ Dubai is soos ‘n fantasiewe^reld, en die bietjie wat ek uit die lug gesien het, bevestig dit. Die Palmeilande het voorheen vir my net te onwerklik geklink om werklik te wees, maar nou het ek gesien dis werklik. Verstommend. En dis nog nie eens ‘Die We^reld’, hulle volgende eilandprojek nie.
4. Emirates vlieg oor Somalie” op pad na Suid-Afrika. Uit die lug sien jy net sand en woestyn. Nou ek het onlangs gehoor die Amerikaners praat van Al Kaida-basisse in Somalie - sou kommersie”le vliegtuie nie ‘n maklike teiken wees nie? Ek het nogal die hele tyd, meer as ‘n uur, wat ons letterlik van noord na suid oor Somalie” gevlieg het, onder meer oor Mogadisjoe, hieroor gewonder.


Jammer die foto is so dof, maar daar was BAIE stof in die lug. Mens kan tog sien hoe indrukwekkend die Palmeilande is. Vergelyk die grootte met die seilskip-hotel in die voorgrond (die Burj al-Arab, mens sien dit altyd in Emirates se advertensies, die hoogste hotel ter we^reld - 305 m. Hy staan ook op sy eie, mensgemaakte eiland. En interessant genoeg lees ek nou Murray en Roberts van Suid-Afrika het dit gebou, ek het dit nie geweet nie.)


Die vorige keer toe ek teruggevlieg het van Dubai, het ek geskryf oor hoe mooi Zanzibar uit die lug gelyk het. Hierdie keer het ek ‘n foto geneem.





Die gemaklike lewe

23 09 2006

Ek moet bieg, ek hou darem soms van die gerieflike lewe. Dis vir my verskriklik lekker om nou in Kuala Lumpur in blink winkelsentrums rond te hang en by fancy coffee shops die ure te verwyl. Darem ‘n wereld verwyder van Kambodja! ESPN het gisteraand ‘n onderhoud met my gevoer oor die naglewe in KL se ‘Asian Heritage Walk’. Ek het nie eens geweet van die plek nie, een van my vriende hier het my gisteraand soontoe gevat. ‘n Hele straat vol restaurante en nagklubs in gerestoureerde geboue. Nogal soos Boat Quay in Singapoer, net sonder die rivier. So, diegene wat gereelde ESPN-kykers is, miskien sien julle rondloper een van die dae in ‘n program oor KL se naglewe.





Ek is (nog) nie in Thailand nie

20 09 2006

Ek is in Maleisie, nie Thailand nie. Daar is dus geen rede vir kommer nie. En al was ek in Thailand, die staatsgreep was bloedloos en daar is nou bloot ‘n militere regering, niks nuuts in Thailand nie (dis die sewentiende een sedert die Tweede Wereldoorlog). Ek gaan eers oor drie dae soontoe. Die groter probleem deesdae in Thailand is die burgeroorlog in die suide van die land, wat maar min publisisteit in die buiteland kry. Daar was so drie dae gelede ‘n bomontploffing waarvoor Moslem-separatiste verantwoordelikheid aanvaar het in Hat Yai, gewilde suidelike toeristedorp. Een buitelander is dood. Maar dis baie streeksgebonde.





Kies kant

19 09 2006

Dis vir my verstommend watse verskil ‘n grenslyn kan maak. Vietnam was vir my ongelooflik lekker. Voorheen het ek baie mense ontmoet wat nie van Vietnam gehou het nie, hulle het gekla die Vietnamese is bietjie lastig (bedelaars, verkopers) en skelm. En dan het ek mense ontmoet wat dieselfde oor Kambodja gese^ het. Dit was duidelik dat baie mense of hou van Kambodja, of Vietnam, nie albei nie. Jy is ‘n Vietnam-mens of ‘n Kambodja-mens. Nou, ek is albei, maar ek moet se^ vir my is Vietnam by verre die beste. En die grootste verskil, dis skoon. Ongelooflik skoon. Gisteraand toe ek oor die grens ry terug in Kambodja in, is dit ongelooflik opvallend: aan Vietnam se kant silwerskoon, aan Kambodja se kant smerig vuil. Ek verstaan dit nie eintlik nie, albei lande het baie arm mense, hulle is bure, maar die een kant van die draad is skoon en die ander kant vuil. Ek dink dis deel van ‘n nasie se psige - party lande is nou maar net skoon en ander nie. Dink Botswana. Relatief ryk, maar smerig vuil. Zimbabwe langsaan, arm, maar silwerskoon. Ek hou steeds van Kambodja, baie mooi plekke en nice mense, tog jammer hulle is so lief vir rommelstrooi. En my ondervinding in Vietnam was goed, ek voel nie ek is ooit ingeloop nie, ek het nice mense ontmoet, en dis ‘n pragtige plek. Dus is ek ‘n Vietnam-mens.





Nog ‘n pad

17 09 2006


Een van daai wonderlike spirituele plekke wat mens soms raakloop langs die pad staan so 100km buit Saigon, die hoofsetel (’Holy See’) van die Cao Dai-godsdiens, ‘n Vietnamese uitvindsel wat so tussen drie miljoen en agt miljoen (niemand weet regtig nie) aanhangers het, meestal in Vietnam en Kambodja, klein bietjie in Amerika. Die wonder hiervan is, soos die Ba’hai, en meer as dit, het hulle omtrent elke denkbare geloof alles saamgevoeg tot een nuwe geloofstelsel, wat vreeslik baie van die dinge wat die mens tot dusver weet van godsdiens en die mistieke saamvoeg. Ook die wetenskap, want alles het begin by die Big Bang, glo hulle. (Soos ook die Kabbaliste.) Ek moes net gaan kyk, en is geinspireer om meer oor hulle op te lees.
Daar is heelparty eienaardighede: in kort is hulle ‘n vermenging van die Boeddhisme en die Confucianisme en Taoisme, maar ook die Christendom, Islam, voorvadergodsdienste en nog veel meer. Hulle glo die mens leef nou in die ‘derde alliansie’ met God, en hul profete sluit in mense soos Victor Hugo, Thomas Jefferson, Jesus, die Boeddha, William Churchill et al. Hulle hou ’seance’ en ontvang so mistieke gewaarwordings.
Op hul eie webwerf skryf hulle die kernbeginsels van wat hulle glo, is:

God
God is the Original Spark of Life who creates the whole Universe, including Human beings.
God reigns within each of us and within every of his creatures. To look for God, we have to look back deep inside ourselves.
God is not a person. God is the Supreme Law which creates Life and governs the Universe.

Love
Love is the conerstone of the Cao-Dai teaching.
Love should start within the family cell and extend to the country and the whole world.
We cannot love God or love the world without first loving our parents and our family members
Cao-Dai preaches harmonious relationship with ourselves, with every other human beings, with every creatures of God and with the Universe.

Man
Every human being has his Origin in God The Father. Every one of us has God Within.
Man comes to this Earth plane to grow spiritually to become One with God.
In becoming One with God, Man can help God create the Universe.

Al die mooi dinge van alles wat ons ken, saamgevoeg in een. ‘n Baie goeie opsomming van hul geskiedenis en beginsels verskyn hier. Lees dit gerus as jy belangstel. Dis vir my fassinerend. ‘n Lekker tong-in-die-kies-reisartikel hier of Wikipedia het ook verskeie skakels.





Ek is ‘n mol

16 09 2006


Vandag by Cu Chi, so 50 km buite Saigon, na die tonnels gaan kyk wat die Vietcong gehelp het om die oorlog teen die imperialiste te wen. Fassinerend. Die dag het begin met ‘n prettige propagandafilm met sulke opswepende musiek en beelde van Vietnamese soldate wat die Amerikaners met ‘n glimlag afmaai. Hier is ek binne in een van die tonnels.


En klouter uit. Die Amerikaners kon nooit die tonnels vernietig nie, hulle het alles probeer. Die Vietnamese het selfs tot binne in die Amerikaanse basisse gegrawe. Die Cu Chi-gebied was ‘n ‘Free Bomb Zone’ wat beteken het Amerikaanse bomwerpers wat nie al hul bomme verder noord afgegooi het nie, het dit op Cu Chi laat val voordat hulle in Saigon geland het. Cu Chi is die mees vernietigde deel in Vietnam gewees, platgevee, met gifgasse bestook, bosse vernietig en mense voor die voet vermoor. Maar die Amerikaners kon dit nooit oorneem nie. Daar was meer as 250 km se tonnels en van hulle tot tien meter diep.


En die ou wat voor my in die tonnel gekruip het, het Afrikaans gepraat. Hy’t vir sy meisie iets geskreeu in die lyn van: ‘Donners kruip net man’. Jy kan nie regop staan binne nie. Van die tonnels wat ons gesien het, was rekonstruksies en van hulle die ware Jakob.


Die Vietnamese se veldkombuis. Daar is ook hospitale, klerefabrieke, wapenfabrieke. Alles so half-ondergronds, met dan tonnels (regs van die blou bak op die regterkant) waarheen hulle kon vlug as die Yanks kom.


En as al die oorlogdinge die adrenalien in jou wakker maak, kan jy elke denkbare outomatiese geweer (soos ‘n AK47) op die skietbaan gaan gebruik. Vir net so R10 per koeel. Ek het nie geskiet nie.





Wanneer u die sein hoor, is dit . . .

15 09 2006


Saigon se eenvoudig ongelooflike hoofposkantoor.


Met ‘n groot verrassing binne, die tyd in Pretoria word ook by die telefoonhokkies aangegee.


En dis hoe dit binne lyk. Ek sal elke dag hier kom briewe pos as ek in Saigon gewoon het.


Interessante kontraste op straat. Aan die een kant hierdie propagandaplakkate (reg oorkant die Katolieke katedraal).


En dan net oorkant die straat, by die baie posh Diamond-afdelingswinkel, die wonders van die kapitalisme.





Parys van die Ooste

14 09 2006

Ek het ‘n nuwe gunstelingplek in die wereld: Saigon. Vandag hier aangekom op ‘n baie gemaklike en vinnige bustrippie van Phnom Penh af, en wat ‘n wonderlike, wonderlike stad! Verskoon asseblief die cliche, maar reisboeke praat van Saigon as die Parys van Asie”. Nou ek was nog nooit in die Parys van Europa nie, wel in die Parys van Suid-Amerika - en ek dink al is dit so ‘n groot cliche is die vergelyking wel waar. Die stad is pragtig, blombakke wat hang op gekartelde ysterbalkonne, bree” boulevards, chic staartkafee’s en modewinkels, statige, ou geboue, en baie, baie bome. Ek het vandag 1 000 000 (een miljoen) dong (die plaaslike geld) by die bankmasjien getrek, ek moes kies tussen opsies tussen 100 000 en 2 miljoen. Toe kies ek maar 1 miljoen, wat ek later uitwerk so R500 is. Nog ‘n plek waar mens gewoond moet raak aan baie nulle by die pryse. Wat, mag ek byvoeg, baie laag is. Dis ‘n heerlike verligting om hier te wees, ek het begin mismoedig raak in Kambodja omdat my planne nie wil uitwerk nie. Maar dit maak nie meer saak nie. ‘n Interessante waarneming, Vietnam is teoreties ’sosialisties’, hoewel hy maar soos China die kapitalisme met ope arms aangegryp het en die Kommunistiese Party nou net die politiek beheer. (Vietnam was voorheen ‘n vriend van Rusland, en die hamer en sekelvlag hang op baie plekke, hier is ook baie propagandaborde langs die paaie.) Maar die Vietnamese, lees ek, is ‘n nasie wat al die beste van alles uit hulle geskiedenis vat en saamvoeg tot iets wat vir hulle werk. Die politieke beheer hou die land aan die werk en die infrastruktuur besonder goed - die regering bou en breek soos in China om te moderniseer, dus is die paaie goed, die strate skoon, die sypaadjies nie vol gate nie, ‘n algehele kontras tot Kambodja se chaos en vuilheid. Jy raak later maar gewoond aan die vuilheid. Maar as jy in Saigon aankom is dit regtig verfrissend, skoon en netjies, met die gewone chaos van Asiatiese paaie (duisende motorfietse en fietse) wel daar. O, wat ek eintlik wil se^, die kommuniste hier het tog ‘n goeie job daarvan gemaak om die plek te ontwikkel, as mens dit vergelyk met byvoorbeeld Kambodja (wat nou maar eers die laaste vyftien jaar ‘vry’ is, maar dit lyk nie of Kambodja, wat infrastruktuur betref, te veel vooruit gaan nie, terwyl Vietnam met ‘n sterk, sentrale regering naas China een van die vinnigs groeiende lande ter we^reld is.)


Die Notre Dame-katedraal is in 1877 gebou. Vietnam se bevolking is sowat 10% Katoliek, oor die Franse invloed. Die katedraal is op ‘n eiland tussen ‘n klomp BAIE besige strate, jy kyk nogal op na die kruis voordat jy die verkeer aandurf.


Die museum van Ho Chi Minh-stad (Saigon se ‘nuwe’ naam, maar almal praat van Saigon.) Dit was die Franse goewerneur se paleis.


Binne is ‘n wonderlike kontras. Anti-imperialistiese (lees: anti-Amerikaanse) propaganda en kommunistiese slagspreuke, uitgestal in die mooiste, mooiste koloniale paleis. Hierdie is Ho Chi Minh, die byskrif by die beeld lees: ‘Ho Chi Minh verlaat Saigon om die ware beginsels van die revolusie in die platteland te gaan leer.’


Buitekant staan vliegtuie, karre, ‘n tenk en ‘n helikopter wat in die Vietnam-oorlog gebruik is. Maar Coke is ook hier.


Sulke lang gange met hortjies wat oopmaak op die tropiese tuine. Ek kan sien dat die Franse goewerneur heerlik hier gebly het.


Hierdie is die Hotel Metropole. Cafe, monsieur?


Om oor die straat te stap, is moeilikerig. Die Lonely Planet skryf jy moet net loop, moenie stop nie. Al is daar verkeer. Want hulle verwag jou en ontwyk jou, as jy stop, verwar jy hulle. Vandag, tot dusver, het Lonely Planet se raad (snaaks genoeg!) gewerk.





Saigon

13 09 2006

Ek gaan more ‘n draai maak in Saigon, Vietnam. My huissoektog gaan nie goed nie, ek het tog ‘n plek gekry waarvan ek hou, maar die verhuurder se voorwaardes is eenvoudig waansinnig.
Asie” is darem soms vreeslik prettig, ek het my visum vir Vietnam binne enkele ure gekry, geen vorm ingevul nie, my paspoort bloot vir die bell boy by die hotel gegee.
Die ander opsie, as jy in Pretoria, SA aansoek doen, is as volg (ek het ook net R300 betaal in vergelyking met Pta se R500):
The requirements for a single entry 30 day visa
from Vietnam (Socialist Republic of)
(Last updated by Carol on 01/07/2004.)
The visa will be obtained in 7 working days.
The passport must be valid for 6 months.
Two photographs must be supplied.
The visa costs R 500.00.
A copy of the original air ticket must accompany
the application.
One application form must be submitted.
An itinerary must accompany the application.
A business letter must accompany the
application.
A letter of invitation must accompany the
application.
Ek verstaan nie waarom dit so moeilik is om visums te kry in SA nie as dit eintlik regtig maklik is op ander plekke.





Vraag en antwoord

12 09 2006

Ek het ‘n vraag vir al die goeie lesers van rondloper. Help asseblief! Skielik word ek geteister deur vrae oor my gastehuisplan in Kambodja. Volgens ‘n Amerikaanse vriend in Korea is dit omdat ek die laaste tyd so vry was, meestal gereis het en dalk nie lus het om te settle nie. Ek dink hy is dalk reg. Dit voel heel anders om nou hier rond te gaan en ‘besigheid’ te praat - skielik is ek bang vir vasgekeerd voel. Ek moet minstens ‘n driejaarkontrak teken as ek voortgaan met die planne. Maar ek weet nou nie meer nie. Ek kan nie aanhou rondloop nie (of kan ek, en bloot aanhou vryskut werk as joernalis, daar is baie werk?) Of moet ek myself vasteken hier? Ek het twee opsies, een duurder huis ($700 per maand), goeie ligging, maar Sihanoukville-toeriste (sover) kom ek agter wil bly vir $4 ‘n aand of minder! Dus is die duurder opsie dalk nie noodwendig die beste nie. Dan ‘n klein woonstelblok (letterlik) in die middedorp, grondvloer is oopplan (restaurant?), eerste vloer is drie slaapkamers, woonarea, kombuis en balkon, tweede vloer is groot oopplan-area, met reeds ingeboude kroeg (was voorheen ‘n kroeg), en dan is daar ook ‘n dakgedeelte vir ‘n chillout lounge. Dit alles kos $300 per maand. Het wel bietjie werk nodig. Is in die middedorp, maar die een ongemaklikheid daar is die oorvloed van ‘Hostess Bars’ in die area. En seedy Fransmanne wat uit die Foreign Legion geskop is wat nou daar uithang. I am confused! Ek dink ek gaan myself nog ‘n bietjie tyd gee. Ek gaan dalk oor twee dae Vietnam toe.