Hou my warm

30 08 2006


Dit is koud in Roodepoort. Binne dae is ek hier, waar dit warm is.





Waarheen gaan jy

30 08 2006

Dit was ‘n hartseer twee weke, en eintlik twee maande, vir die Gouws-gesin. My tannie is sowat twee maande gelede dood, my niggie (haar kind) verlede week en my ouma vandeesweek. Daar is mos mense wat se^ sulke dinge gebeur in driee”. My ouma was baie oud en het ‘n lang lewe gehad, dis maar die verloop van die lewe. My niggie was so oud soos ek, en dis nogal ‘n skok. Mens besef maar net weer dat jy nie tyd het om te mors op hierdie aarde nie, die lewe is kosbaar en daar is nie tyd vir nonsens nie. Ek het baie gedink na my niggie se dood, mens wonder mos maar altyd wat doen jy nou eintlik hier en waarheen gaan jy. Sal jy ooit weet as jy veronderstel is om nou tevrede te wees, of is daar maar altyd iets meer en beter wat jy soek?





Waar kom jy vandaan

30 08 2006


Wie was jou oupa?

Ek is soms graag ‘n toeris in my eie land. Ek was nou ‘n paar dae in Roodepoort, vlieg more na Bangkok. Toe ek nog ‘n klein seuntjie was en met verwondering in my oe” gedroom het oor al die verre lande, het baie mense my erg kwaad gevra of ek darem my eie land ken. Ek is baie trots om te erken dat ek waarskynlik al meer van my eie land gesien het as die meeste mense. Die noorde van KwaZulu-Natal is omtrent die grootste uitsondering, verder was ek al van Thohoyandou tot Hermanus, Kokstad tot Springbok, Matatiele tot Uniondale en so gaan dit aan.
Vandag het ek Maropeng, die nuwe besoekersentrum in die Wieg van die Mensdom, net buite Krugersdorp, besoek. Dit is ook die deel van die land waar ek grootgeword het.
En wat ‘n wonderlike ervaring was dit nie. Daar is geen plek op hierdie hele aardbol wat kan spog dat hy die beginpunt van die mens soos ons hom vandag ken, was nie, behalwe hier net buite my grootword-plek. Omtrent 200 000 jaar gelede het die eerste moderne mense hier gewoon. Dis die plek met die meeste geskiedenis ter wereld.
Ek was al baie in die Sterkfontein-grot (Mev. Ples se huis), en ook by Kromdraai se Wondergrot, waar nog fossielvondste gedoen is. Maar Maropeng is nuut. Die Wieg van die Mensdom is ‘n Werelderfenisgebied (in my skooldae was daai die omgewing waar die maplotters gewoon en mekaar gedonner het as hulle lus kry, maar dinge verander . . . )
Nou (die maplotters is nog daar, so effentjies) is daar ‘n skouspelagtige nuwe besoekersentrum op die rand van die Magaliesberge. Toe ons vandag soontoe ry, was die gras vaal en die lug vol stof, tipiese Hoeveldse wintersdag, maar allerhande ou herinneringe het vir my teruggekom. Daar is darem net iets spesiaal aan hierdie soort dae. Ek het sommer weer gedink aan al die drome van ‘n jong seun, wat daarvan waar geword het en waaroor ek steeds droom, dit alles danksy die skerp wintersluggie en die stof wat oor die berge gewaai het.
En toe kom ons by Maropeng, wat ‘n meesterstuk van SA argitektuur is. Van ver lyk dit soos niks, ‘n vaal grasheuwel, maar die sentrum is so gebou dat dit inpas by die omgewing, grotendeels ondergronds en wat bogronds is, pas goed in. Binne is wonderlike uitstallings oor evolusie, wat jy bereik deur met ‘n bootjie op ‘n ondergrondse meer te vaar, met donderweer wat klap en bliksemstrale wat blits. Alles baie opwindend.
My ma was bietjie ontsteld oor die hele evolusie-ding, want waar pas die Bybel dan in, wou sy weet. Ek het nie lus gehad vir ‘n lang, filosofiese gesprek daaroor nie, maar my verduideliking was bloot dat selfs die Big Bang gesien kan word as die skepping, en vandaar het ons as mense ontwikkel. Soos toe die Hemel en Aarde geskei is, vra sy toe. Netso! Sy was tevrede daarmee.


Die Maropeng-sentrum se ingang. Dit lyk asof dit net ‘n grasheuwel is. Die mure van die koepel daar voor is inderdaad met gras beplant.


En wanneer jy al die ondergrondse tonnels bekyk het, dan kom jy hier uit, met ‘n uitsig van die Magaliesberge voor jou en hierdie baie aardse gebou agter jou. Dis mos slim, relevante bouwerk hierdie, g’n Toskaanse twak nie.


Die agterkant van die sentrum kyk uit oor die Magaliesberge, daar is ‘n restaurant, skemerkelk-kroeg en ontspannings-’lounge’ waarvandaan jy oor die berge kan tuur. En die hele gebou smelt saam met die omgewing.





Dis daar

29 08 2006


Sommige mense het my al gevra presies waar is Kambodja dan. Hier is ‘n kaart om hulle te help.





Al die veld is vrolik

27 08 2006


Ek het hierdie naweek die pad gevat na die Overberg, so ‘n vinnige draai gaan maak op Teslaarsdal en toe Hermanus aangedoen. Soos jy oor Sir Lowry’s ry, ontvou die een ongelooflike toneel na die ander, daar is plate en plate blomme, soos hierdie, en die koringlande is lowergroen.


Ek was meer as agt maande laas op my plasie by Teslaarsdal, en wou net graag weer gaan kyk hoe lyk dit en op my stukkie Afrika-grond staan voordat ek weer hierdie week Kambodja toe gaan. Daar was al voorheen prentjies hier van my grond, hier is dit uit ‘n ander hoek, vanaf die grensdraad.


En so lyk die huise in Teslaarsdal self. My grond is net langs die dorp.


So een en ‘n half kilometer aan die ander kant van die dorp, op die Hermanus-pad, het ek hierdie foto geneem. Teslaarsdal is 34 km van Caledon en 39 km van Hermanus. Jy kan net met ‘n grondpad soontoe ry, en ek het byna vasgeval hierdie naweek, maar gelukkige het my (antieke) BMW 4×4-funksies en ek het gemaklik elke slaggat en donga gekruis. Toe ek op Hermanus aankom, toe lyk dit wraggies of ek ge4×4 het.





Sonja, Sonja!

24 08 2006


Ek het gisteraand na hierdie show gaan kyk. En, ja, ek is nie eens skaam om dit hier te erken nie. Ek het bietjie gesukkel om iemand te kry om saam met my te gaan, mense wat hulle neuse optrek vir wat ek reken een van Suid-Afrika se beste sangers is. Daar is geen twyfel nie, in die meeste mense se koppe is Sonja Heroldt nog dieselfde vrou wat met ‘n piepstemmetjie twintig jaar gelede allerhande ligsinnige liedjies gesing het (daar is ‘n tyd en plek vir alles). Hiedie show van haar is net eenvoudig fantasties. Sy het die laaste jare regtig gegroei as kunstenaar (in ‘n rigting wat ek van hou) en ek dink sy is wonderlik. Baie van haar ou songs is steeds fantasties, sy het dit net effens verwerk en gemoderniseer (dis op haar CD Reconstructing Alice). Sy het een deel van gisteraand se show in ‘n Che Guevara-T-hemp gedoen. Wonderlik! Dis regtig ‘n goeie vertoning, Sarah Theron is ook daarin, en dis baie modern en hip. Dis nie die Sonja wat die meeste mense ken nie, maar dit is wel die liedjies wat jou terugvoer na ‘n ander tyd. Ek dink sy is soos Abba, tydloos.





Lees dit ook

23 08 2006


Lammervanger het by my onderste post navraag gedoen oor die woord wat hy geskep het toe ek gehelp het om Wegbreek te sub. Die uitgawe is vandeesmaand op die rakke (dis die September-uitgawe en lyk soos op die prentjie hierbo), en as jy daardeur lees, sal jy onder meer afkom op ‘n foto van die uwe waar ek in Nieu-Seeland op ‘n gletser sit, my ‘medewerkers’-foto vir die maand, en dan is daar ‘n artikel waar die woord ’skoffelsnoetakkedis’ verskyn - dis lammervanger doer in Australie se skepping gewees! Augustus was vir my ‘n besige vryskutmaand, dinge raak nou stiller, en oor ‘n week is ek op pad terug na die wonderlike Verre Ooste waar ek my hart verloor het.





Lees dit

21 08 2006


Hierdie is nie net ‘n baie insiggewende tydskrif wat onlangs ‘n verjongingskuur ondergaan het en nou baie lekker lees nie, maar hierdie maand (September-uitgawe) verskyn daar ook ‘n kort artikel deur die uwe oor Kandy in Sri Lanka. Koop die tydskrif en lees my artikel dus!





Die donker land wink

18 08 2006


Ek lees op die oomblik hierdie boek. Die skrywer vertel onder meer daarin hoedat die Khmer Rouge in Kambodja sommige mense vermoor het deur hul koppe met ‘coconut crushers’ stukkend te druk totdat dit oopbars. Dink jou dit in . . .
Ek vertrek oor twee weke weer soontoe, dus hou gerus hier dop vir al die jongste nuus oor rondloper se gastehuisplanne in Kambodja. Dan gaan ek ook ‘n draai in Borneo maak om te ontspan na die intensiewe soektog na ‘n gepaste huis in Kambodja.





Nuwe buurman

18 08 2006


In my laaste jaar of wat by Die Burger was ek die sterreman, ek het allerhande artikels geskryf oor die sterre en planete, meer uit belangstelling as noodwendig indiepte kennis, maar ek het dit vreeslik geniet en gevolglik ook ‘n gesonde, voortdurende belangstelling in die diepste buitenste ruimte opgetel. (My belangstelling het natuurlik voortgevloei uit my gastehuis op Sutherland, ek moes darem my gaste beindruk met my kennis, en my teleskoop soortvan kon gebruik). In elk geval, nou lees ek die laaste paar dae in die koerante daar gaan moontlik binnekort twaalf planete (in ons Melkweg) wees, en nie net nege nie.
Fassinerend, dink ek. Ek wonder hoe die skrywers van die sterre voorspel dit gaan hanteer?
Ek het destyds by die koerant baie graag Nasa se webwerf hier en die Europese Suidelike Sterrewag se webwerf hier besoek, veral die ESO se webwerf is wonderlik, daar is pragtige foto’s van dinge wat mens nie aldag sien nie. Ek sien ook vandeesweek SALT (die Sutherlandse groot teleskoop) het ‘n groot ontdekking gemaak, maar daar is geen foto’s op SALT se webwerf nie! Vir wat nie? SALT is veronderstel om netso goed of beter as die ESO se groot teleskoop te wees, dan moet hulle dit mos wys op hul webwerf dink ek.
Vir diegene wat kinders op skool het en nie die koerantartikels naby het nie, hier is die twaalf nuwe planete, van naaste aan die son tot verste: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Ceres, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus, Pluto, Charon en 2003 UB313 (miskien sal hulle die laaste een Xena noem). Dis nog nie amptelik nie, teen 26 Augustus sal ons weet of ons nou nog ‘n buurman gekry het, net anderkant Mars (dit sal Ceres wees). Die ander nuwe planete is te ver weg om te dink aan kuiertjies daar.