Terug in Afrika

26 06 2006


‘n Dhow by Zanzbar. Ek was te hoog om dit te sien, maar die blou, blou see en die koraal was pragtig uit die lug uit.


Die Malawimeer het ek omtrent so uit die lug gesien.


En toe ook die Karibameer. Hierdie drie foto’s is nie myne nie.

Ek is terug in Afrika - hierdie is sommer ook ‘n aankondiging vir my vriende wat ek nog nie gebel het om te vertel nie. Ek is nou in die koue Johannesburg, gisteraand was dit 0 grade en vandag is dit so 14, ek vrek van die koue! Na maande en maande in temperature van ver oor die dertig kry my tengerige lyfie maklik koud. Ek het ‘n wonderlike vlug terug gehad, was met Emirates wat ek reken die naasbeste lugdiens is wat ek ken. (Die beste is Singapore Airways.) Maar ek vlieg graag met Emirates, want ek verdien ook Voyager-myle by hulle, altyd ‘n groot bonus. Dit was wel lank, eers van Bangkok na Dubai, amper sewe uur, toe ses uur wag vir die aansluiting en nog so net oor die nege uur na Johannesburg. Emirates is nou wel wonderlik, maar Dubai se lughawe is vir my erg onaangenaam. Die lugdiens is so groot met so baie aansluitings dat die lughawe te klein geraak het, ek het gesien hulle bou nou aan. Daar is net eenvoudig te veel mense, daar was nie eens plek om te sit nie. Baie het sommer op die vloer gesit of gele^. Ek ken gelukkig die koffiekroeg by die lughawehotel, waar daar heerlike, sagte sofas is en niemand kla as jy daar sit en slaap nie. En daar is dit stil, die ander passasiers kom nooit daar uit nie! Met die vlug terug, wat in die dag was, was die lug helderblou en ons het eers oor die Arabiese Skiereiland gevlieg, toe seelangs tot so net by Zanzibar, waar ons toe oorland verder is. Wat beteken ek het pragtige beelde gesien van Zanzibare, die Malawimeer en die Karibameer uit die lug. Wat ‘n wonderlike terugverwelkoming in Afrika!





Hoe ver is ver?

24 06 2006


Ek speel gisteraand toe so vir die snaaksigheid op die internet met afstande tussen stede, ek wou kyk waar was die verste plek wat ek op my reis was. Dit was natuurlik Apia in Samoa. Presies 14375km van die Kaap af. Maar dis nog nie die verste wat ‘n mens kan reis van SA af nie. Ek het in einste Samoa ‘n Sweed ontmoet wat vertel het die rede waarom hy soontoe gegaan het, was omdat Samoa die verste plek van Swede is wat bestaan. Hy maak egter ‘n fout, Samoa is net 100km verder van Swede as wat dit van die Kaap is. Die aarde se omtrek is net so oor die 40000km, dus moet jy net so oor die 20000km reis om regtig op die verste punt van jou blyplek te wees. Ek het hard gesoek, maar kon geen spesifieke plek kry wat so ver van SA is nie. Die verste is Honolulu in Hawaii, ek was dus goed op pad soontoe toe ek in Samoa was - Hawaii is nog vyf uur se vlieg daarvandaan. Honolulu is 18700km van die Kaap af. Dus, my raaiskoot is dat die verste plek van SA af waarskynlik in die see tussen Hawaii en die Amerikaanse kus is. Verskeie stede in Noord-Amerika is baie ver van SA af, so tussen 16000 en amper 18000 km, maar Honolulu bly die verste. Kan iemand help? Is daar ‘n land waar mens presies 20000km en ‘n bietjie van SA af is?





Sirkels

22 06 2006

Die sirkel is voltooi. Ek het die Asiatiese komponent van my reis in Bangkok begin, ek is weer terug hier vir twee dae voor my vlug huis toe. Dis gepas om die reis hier te begin en eindig, dit was verlede jaar een van die eerste plekke wat ek in Asie gesien het, en het, saam met Malesie en Singapoer, waarskynlik ‘n rol gespeel in my besluit om vanjaar hierdie lang reis aan te pak. Ek het intussen my mening oor Bangkok heelwat verander.
Ek het nooit baie hiervan gehou nie, dit was vir my ‘n nes van besoedeling en onderduimsheid. Maar ek het agtergekom dit is nie eintlik waaroor Bangkok gaan nie. Ek was so tien dae gelede hier onderweg na Phnom Penh, dit was toe pragtig. Die lug was helderblou en skoon. En die stad het toe sommer mooi gelyk. Vandag is die besoedeling terug, nie so erg soos laasjaar nie (daar hang letterlik so ‘n bruin waas in die strate), maar dis hanteerbaar.
Ek sit met ‘n kop vol soveel ondervindings, ek dink ek het so baie geleer hierdie laaste ses maande. Ek het op hierdie reis vertrek juis omdat ek iets gesoek het (mens soek tog seker altyd iets as jy gaan reis, indien nie dieper insigte nie minstens net nuwe dinge). Ek was in ‘n situasie waar ek SA kon agterlaat en kon gaan verken op soek na iets wat ek graag wil doen. En miskien het ek dit gekry.
Ek het Asie regtig geniet. Miskien het dit na my kop toe gegaan dat mense my aanhoudend vra of ek Chinese bloed het! As ek R1 het vir elke keer wat daardie vraag gevra is, kon ek teen die tyd vir my ‘n nuwe kar gekoop het! Maar daar’s natuurlik werklike redes. Ek geniet die opwinding, die andersheid, die mense. Dalk waai dit oor.
Ek kom Sondag terug in Johannesburg. Aan die een kant is ek nogal opgewonde om terug te gaan, aan die ander kant weet ek voor my siel ek sal weer terugkom hierheen. Ek het al die inligting wat nodig is, en ek weet ek kan ‘n gastehuis kom oopmaak in Kambodja. Ek droom behoorlik daarvan.
Die interessante ding sal wees wanneer ek terug is by die huis, of die planne gaan bly of gaan verdwyn. Gaan ek dalk so bekoor wees deur my eie land dat ek nie weer wil reis nie? Of gaan ek deursettingsvermoe he^ om hierdie nuwe uitdaging te kom aanpak? Nie dadelik nie, maar mettertyd.





Lyste en lyste!

22 06 2006


Toneel in Beijing.

Die volgende paar weke kan my lesers hulle maar regmaak vir nostalgiese herinnerings en lyste. En allerhande foto’s wat nog nie voorheen gepubliseer is nie (wanneer ek by die huis my eie rekenaar kan gebruik om al die duisende foto’s wat ek geneem het rustig oop te maak en te bestudeer). Maar vandag begin ek met my eerste twee lyste, my gunsteling vyf groot stede in die wereld, en die vyf swakste lugdienste in die wereld waarmee ek al gevlieg het. Die volgende aflewerings sal lyste van die vyf beste klein dorpe ter wereld wees, en die vyf dinge wat ek reken mens moet sien of doen voordat jy doodgaan.
My vyf beste stede ter wereld (maar oor ‘n maand verander ek dalk my mening). Ek het gewik en geweeg of ek Kaapstad moet insluit, dis die voor-die-handliggende eerste keuse, maar omdat ek daar woon, sluit ek dit nie in nie. Daar is net een plek soos die Kaap, al het hy, soos elke plek, sy foute.
Dus:
1. Kuala Lumpur.
Geen verrassing hier nie. Ek het voorheen al wyd geblog oor die rede hiervoor, maar in kort dink ek KL is een van die vriendelikste, lewendigste stede waar ek al was, en dit het al die opwinding van die sogenaamde ‘Derde Wereld’ maar met al die sofistikasie van die ‘n moderne wereldstad. En dis boonop goedkoop ook.
2. Lhasa, Tibet.
Dis eenvoudig ‘n magiese plek wat mens nie regtig in woorde kan beskryf nie. Die reuke in die lug, die baie, baie dun atmosfeer wat kleure vreeslik intens laat vertoon, die duisende pelgrims wat voortdurende deur die strate stroom, die dreunsang van die monnikke saans, die son wat oor die Himalajas sak, stadig, stadig sodat dit voel asof skemer baie lank duur. Wonderlik!
3. Jerusalem.
Baie dieselfde redes geld hier as vir Lhasa. Dis ‘n wonderlike mistieke plek, seker logies, dis die middelpunt van soveel gelowe. Dis meer toeganklik vir my, omdat ek myself meer met die Westerse geloofstradisie kan vereenselwig. En Jerusalem is natuurlik ook doodeenvoudig pragtig. Die Ou Stad met al sy wonderlike inkopiestrate, en as jy iewers op ‘n hoe” plek kan staan om te kyk hoe die son oor die Ou Stad se kleurryke dakke sak - nader aan die hemel kom mens nie.
4. Beijing.
‘n Groot, groot stad met soveel mense en dinge, aanvanklik was dit vir my oorweldigend. Maar dis ‘n ongelooflike statige plek, die vreeslike bree strate, deftige geboue, ouwereldse moltreine en moltreinstasies, en natuurlik die ongelooflike ou geskiedenis met antieke Chinese kultuur letterlik oral om jou, maak dit ‘n besonderse plek. En dan so ‘n sweempie sosialistiese vrees-inboesemings-argitektuur met Tiananmen wat so groot is jy kan jou dit nie indink voordat jy dit sien nie.
5. Buenos Aires.
Dis ‘n stad wat dikwels die Parys van die suide genoem word, ek was nog nooit in Parys nie en kan dus nie vergelyk nie, maar dis ook een van daai plekke waar mense die lewe geniet. Hulle het hul stad doelbewus geskep om soos Parys te lyk, en dit toe vol Latynse energie geblaas. Baie warmbloedige plek.
En dan ‘n stad wat net-net uitval: Macau.
Macau was ‘n groot verrassing. Soos ek verwag het, was dit ‘n heerlike mengsel van Portugese en Chinese invloede, maar ook met ‘n lekker seedy Las Vegas-gevoel, allerhande blink, flitsende casino’s. Die plek is vol heuwels, wat beteken saans as die liggies begin aankom, is dit ‘n skouspel om te sien. En as jy in die strate ronddrentel, verby allerhande wonderlike winkels wat Portugese gebak, Chinese antieke ware, gedroogde vis, ontwerpersklere, alles, verkoop, en elke nou en dan doem nog ‘n Portugese katedraal wat honderde jare oud is, voor jou op, dan is dit sommer ‘n lekker plek. Of aandete op Coloane-eiland, by Fernando’s, dis ‘n instelling soos high tea in die Mount Nelson.

Nou, die vyf swakste lugdienste waarmee ek al gevlieg het:
1. Air New Zealand.
Daar is geen twyfel hieroor nie, hulle probeer so hard geld bespaar dat die vlug doodeenvoudig onaangenaam is. Op binnelandse vlugte, selfs al is dit byna twee uur lank, kry jy ‘n koppie water (een van daai plastiekkoppies met ‘n dekseltjie) en ‘n pakkie met twee klein koekies. Op my vlug na Samoa (vier uur) het ek ook water gekry, darem die opsie van ander drankies, behalwe dat die vlugkelners almal iewers weggekruip het, en ‘n ’soggy’ toebroodjie.
2. LAB (Lineas Areas de Bolivia).
Weet nie of hulle meer bestaan nie, dit was baie jare gelede. Ek het gedog ek sterf. Die vlug van La Paz na Tarija in die suide van Bolivie, was op ‘n stokou Boeing 707, doodverlep aan die binnekant. Met opstyg het al die passasiers om my die kruissimbool gemaak, toe begin die vliegtuig so wild skud en kraak dat al die suurstofmaksers uitval. Die lugwaardinne het heelwat later doelloos verby gedrentel en die maskers probeer terugdruk in die dak in. En toe het al die passasiers weer die kruissimbool gemaak.
3. Air Zimbabwe.
Al ‘n paar keer met hulle gevlieg. Die vliegtuie is nie te sleg nie, maar wat my een keer onkant gevang het, was op ‘n vlug van Harare na Masvingo, op ‘n Cessna, toe die Air Zimbabwe-personeel op Harare-lughawe nie die vliegtuig kon kry nie. Ons het almal op die aanloopbaan gestaan (met ons bagasie, moes dit self na die vliegtuig dra), terwyl twee beamptes verward rondgehardloop het. Totdat hulle ontdek die klein Cessna staan weggesteek agter ‘n groot Boeing. En almal weet deesdae het hulle nie geld om hul vliegtuie te versien nie.
4. Spicejet (Indiese laekoste-lugdiens).
Sardyntjie-blik. En dalk nie die lugdiens se skuld nie, maar die medepassasiers is onbeskof, probeer my sitplek steel (by die venster) met die lugwaardin wat anderkant toe kyk, en dis eenvoudig chaos om jou bagasie te laat inweeg.
5. Air China.
Dit was nou sardyntjie-blik uitgeknip. Dis al. Ek het nog nooit so styf ingeryg gesit nie. Met spoegende passasiers om my (gelukkig spoeg hulle darem in hul servette).





Soveel bly oor

22 06 2006


Hierdie reis is klaar, ek kom Sondag in Johannesburg aan, so dis gepas om nou ‘n kaart te plaas van die lande waar ek tot dusver was - 42 lande. Dis 17% van al die lande. Daar bly dus nog 83% oor om te sien. Ek tel nie Hongkong en Macau nie, hoewel hulle eintlik aparte gebiede is met hul eie geldeenheid en eie grense (die grens tussen China en Hongkong lyk nog kompleet soos die ystergordyn van ouds), maar ek tel wel Tibet, wat ek as ‘n besette, maar aparte land beskou. Die kaart gee ook nie die opsie om St Helena in te sluit nie, ek dink nie die Amerikaanse skeppers van die kaart weet eens waar dit is nie.





Lekker kuier

21 06 2006


Hier’s nog ‘n paar prentjies van Chiangmai. In dieselfde omgewing waar Thailand se hoogste berg is (sien die onderste post) is ook hierdie waterval. Ek het op ‘n vorige keer hier onder so ‘n waterval gesit vir ‘n lekker watermassering op my rug.


Gisteraand was ek saam met ‘n paar vriende na ‘n partytjie in ‘n klein dorpie buite Chiangmai. Ons het sommer so op die vloer gesit en kuier, en almal saam uit dieselfde bakke kos, met dieselfde eetgerei, geeet. Soms moet mens maar gewoond raak aan ander maniere van doen. Die kos was onder meer gebraaide padda, rou dierebinnegoed (ek weet nie watse dier dit was nie), half-uitgebroeide eiers en ander dinge. Gelukkig eet ek nie vleis nie en respekteer die Thais mens se eetvoorkeure. Hier is meer as een transvestiet op die foto. Dis immers Thailand.





In die wolke

19 06 2006


Ek is weer terug in Thailand, die laaste paar dae van my reis gaan ek in Chiangmai deurbring, en dan twee dae in Bangkok voor die vlug huis toe. Chiangmai het my hart gesteel, en as ek nie ‘n besigheid in Kambodja kan begin nie, sal ek dit hier kom doen. Maar Thailand is te duur vir sake. Maar Chiangmai is wonderlik, omdat dit koeler is as omtrent oral in Suidoos-Asie, en dis net die plek om die laaste paar dae te kom rus. Vakansie en nie reis nie. Hierdie is op die hoogste berg in Thailand, 2500m hoog.


Dit is my vriend Yaya en ek op die hoogste plek in Thailand.


Dis ‘n sprokieswereld van mis, mos en varings.





Indochine

19 06 2006


Dit lyk so al asof Catherine Deneuve met ‘n groot wit sambreel by een van hierdie huise moet uitloop en ‘n riksja naderroep. In Phnom Penh.


En dis ‘n soortgelyke toneel in Siem Reap. Met ‘n reenboog. Indochine is die regte plek vir my.


By een van my onderste posts is ‘n foto van die steil trappe by Angkor Wat, maar hierdie foto gee ‘n duideliker beeld, dis van bo af geneem.





Skryf sal ons

16 06 2006


Hierdie is die Amerikaanse skrywer Marshall Moore en ek in Angkor Wat. Ek het hom in Phnom Penh ontmoet, en ons reis loop min of meer saam. Hy het al ‘n hele paar boeke gepubliseer, net die regte inspirasie wat ek nodig het vir wanneer ek terug is by die huis om dieselfde te laat gebeur. Sy webwerf is hier. Sy boeke is ook in SA te koop.





Wonders van die wereld: deel 7

16 06 2006


Die Angkor Wat-kompleks by Siem Reap. Ongetwyfeld die mees skouspelagtige antieke tempelkompleks ter wereld. Bouwerk het in die jaar 800 begin.


Daai drie torings op die boonste foto - mens kan teen hulle opklim met hierdie trappe. Baie, baie meer steil as wat dit op die foto voorkom!


Ek het net ‘n rukkie in die skadu gesit en hierna gekyk.


In een van die lekker koel gange wat reg om Angkor Wat loop.


Die hele Angkor-kompleks is so groot soos die District of Columbia, reken Marshall, dis wyd-uitgestrek met baie geboue. Hierdie is ‘n ander tempelkompleks, Bayon.