Mooi dag vir jou ook

31 05 2006

Ek is jammer om sommige van my lesers teleur te stel, maar ek moes my afspraak met mnr. Arthur C. Clarke uitstel tot my volgende besoek. Ek het eenvoudig nie tyd gehad nie. Ek het, om eerlik te wees, nie eens gebel vir die afspraak nie, maar ek weet mos nou dis moontlik. Ek het gisteraand laat eers teruggekom in Colombo (eintlik Negombo, net noord van Colombo en langs die lughawe) en moes vandag kies tussen ‘n uitnodiging om die gewone lewe te sien of die wereldbekende man se lewe. Want vanaand vlieg ek weer. En, verrassing, ek het die gewone lewe gekies. Ek is genooi om per fiets na ‘n nuwe vriend se huis te ry, baie ver weggesteek in ‘n stil, armoedige straatjie, waar ek toe behoorlik onthaal is deur sy ma, videospeletjies gespeel het saam met sy jong broertjie, tradisionele kos geeet het en soos ‘n koning behandel is. Hulle is baie, baie arm, maar dit was vir my nogal ‘n ondervinding. Ek het mos maar ‘n swak plekkie vir die armes. Dit was ook aan die einde van die dag ‘n keuse tussen geloof in iets moois of ateisme (Arthur is die wereld se grootste ateis). Die familie is diep-katoliek, en deel van my toer was ‘n besoek aan hul plaaslike gemeente. ‘n Rooms-Katolieke kerk tussen die palmbome wat net-net regkom met geld vermoed ek, waar ek die mooiste stasies van die kruis (jammer ek vertaal liederlik letterlik, ek kan nie die behoorlike Afrikaanse term onthou nie), uitgekap in hout, gesien het. En mense wat soveel hoop plaas op hulle Liewe Here Jesus Christus en die Heilige Moeder Maria. Dit was ‘n baie, baie mooi dag. Daar was een eienaardigheid, die familie het vir my middagete aangebied, nou ek weet in Sri Lanka eet die mense met hul hande, maar toe ek weer sien, voer my nuwe vriend my letterlik met sy hand. Ek het net een hap gevat en toe verder met my eie hand geeet (nie maklik nie, my ryskorrels het die hele vloer vol geval), ek hoop nie dit het aanstoot gegee nie.


Chamara bid in ‘n Katolieke kerk buite Negombo. Negombo se bynaam in Sri Lanka is Klein Rome.


En al dink julle nie so nie, eintlik is ek baie spiritueel en baie lief vir die Christelike/Joodse tradisie. Want glo moet ons. Dis ingeprent deur duisende jare se tradisies. En die Boeddhisme is vir my net te volksvreemd. Die Dalai Lama is immers op rekord dat hy gese^ het mense moet maar bly by die geloof waarmee hulle grootgeword het. Soms besoek ek wel die kerk. Hier saam met Chamara.





Die mooi land

30 05 2006

Sri Lanka het geheel en al my hart gesteel. Hierdie is ‘n paar van my best of-foto’s van hierdie wonderlike plek. Te midde van die smeulende oorlog is dit net ‘n land met sulke wonderlike mense, en sulke wonderlike dinge om te sien, dis een van my top-plekke, ongetwyfeld. Hier is die mooiste natuurskoon, die mees ongelooflike antieke geskiedenis, die mooiste mense, dis ‘n maklike plek om in te reis (vir hierdie kant van Asie) en dis ook vol nostalgie.


Die uitsig vanaf die antieke tempels by Dambulla. Dis nou wel Dambulla hierdie, maar sulke tonele is volop oor die hele eiland.


Die reisdamme langs die treinspoor. Absoluut kenmerkend van Sri Lanka. Waar jy gaan, sien jy dit, met mense in kleurolle kleredrag en waterbuffels wat in die lande werk. Die foto is uit die ’sneltrein’ tussen Kandy en Colombo geneem, dus effe geblur.


Dan, vir my persoonlik nogal wonderlik, die hele land drup van oud-koloniale nostalgie. Ek het myself begin ondervra oor hoekom ek so hou van die konsep van vervloe glorie, in hierdie geval die Britte se instellings wat so geleidelik toegelaat word om net te swem in die glorie van die verlede. Kyk nou net na hierdie winkelstraat in Kandy. My antwoord was omdat dit spreek van nostalgie, en ek hou van nostalgie, ek hou daarvan om herinner te word aan tye wat wonderlik was, al is dit nou effens verlep. Maar die herinnering is daar, soos die vervloe Britse glorie.


‘n Kroeg in Kandy. Lyk dit nie wonderlik nie? Ek is seker dit lyk nog net soos dit gelyk het toe die Engelse tee-boere dekades gelede van die hooglande afgekom het dorp toe vir ‘n dop.


Die rotstempel by Dambulla. Hierdie is natuurlik die nuwe gebou wat voor die tempel gebou is om dit te beskerm.


Maar binne-in is ‘n hele reeks grotte wat dateer uit ‘n eeu of wat voor Christus! Ja, voor Christus. Met muurskilderye wat skrik vir niks. Soos hier. Die beelde is natuurlik nuwer, maar dis die oorspronklike tweeduisendjaar-oue skilderye! (Effens herstel natuurlik.) En daar’s ‘n klomp grotte wat so lyk.


Dan is daar ook die rotsvesting by Sigiriya. Dit dateer uit die vyfde eeu na Christus, was een van die drie belangrikste vestings van die Sinhala-konings. Hierdie mure is meer as 1500 jaar oud. Wat op sigself nie so skouspelagtig is nie, maar . . .


Dis gebou bo-op hierdie berg. Soos die Masada van Sri Lanka dink ek. Bo-op die berg is paleise en tuine en selfs ‘n dam, en doer onder is reusagtige koninklike tuine.


En op pad boontoe is Sri Lanka se weergawe van San-rotsprente soos hierdie. Eenduisendvyfhonderd jaar oud. Daar is meer as twintig van hierdie nimfe.


Dis die leeu se voet by die begin van die trappe na bo. Dis al wat oorgebly het van die beeld, dit was ‘n hele leeu. Soos die sfinks. Agter is die trappe wat jy moet klim om bo by die bergvesting te kom - hierdie is egter klaar halfpad op. Hoogtevrees of te not, ek het geklim!





Koning se speelplek

30 05 2006


Pollonaruwa was die hoofstad van die Sinhalese konings tussen die 1100’s en 1200’s. Die geboue daar is dus alles meer as agthonderd jaar oud. Hierdie is die koning se onthaalsaal.


Reg rondom die gebou is sulke afbeeldings van diere - olifante, apies en ander.


Hierdie was waar die partytjies gebeur het. Dis die prinse se badplek.


Dit was die koning se paleis. Daar’t nie veel van oorgebly nie.


Die hele terrein wat mens kan besoek is baie groot, dis inderwaarheid ‘n groot stad. Jy begin aan bouval-verveling lei, want dit hou net aan en aan, elke keer meer skouspelagtig as die vorige een. Hierdie is ‘n tempel. Dis waar die Boeddha se tand bewaar is voordat dit na Kandy verskuif is.


Hierdie is net ‘n gewone tempel.





Moenie met vuur speel nie

30 05 2006


Sekere van my vriende weet te vertel dat ek slegs met mans uithang. Dis natuurlik glad nie waar nie. Dis Erica van Belfast.


Ons het ‘n tradisionele dans-vertoning in Kandy gaan ondersteun. Die dansers was nie watwonders nie, die kostuums was pragtig, maar daar was interessante dinge om te sien.


Die vertoning is afgesluit met mense wat op brandende kole dwarsdeur brandende vlamme loop. Dis nou nadat hulle die brandende fakkels oor hul lywe gesmeer en in hul kele afgedruk het. Kyk mooi, daai blur tussen die vlamme is iemand wat loop.





Sweet stuff

28 05 2006

Kandy was eens die hoofstad van ‘n Sinhalese koninkryk (die Sinhalas is die grootste bevolkingsgroep in Sri Lanka). Dit is heelwat jonger as die duisendjaar-oue koninkryke in die noorde van die eiland, waar ek more die antieke stede daar gaan besoek (een plek is in die 4de eeu na Christus gebou!). Kandy was egter op sy piek tussen 1253 en 1400. Dis ook ‘n bergoord, heelwat koeler as aan die kus, en wemel van heilige plekke. Die Boeddha se tand word in ‘n tempel hier gehou, en die belangrikste Boeddhistiese tempels in Sri Lanka is hier. Die omgewing is lower-, lowergroen met miswolke wat oor die berge hang - dis werklik mooi hier.


Pelgrims steek kerse aan net buite die plek waar die Boeddha se tand bewaar word. Die tand is glo uit die vlammer gered toe die Boeddha veras is (in 543 vC) en toe na Sri Lanka gebring. Nee, mens kan nie die tand sien nie, net ‘n goue kas waar dit gehou word.


Die koninklike ontvangsaal by die tandtempel waar belangrike besoekers onthaal is.


Waterkruike onder ‘n heilige boom in die temopelgronde. Die Boeddha het onder so ‘n boom ‘enlightenment’ (Afrikaans seblief?) bereik, maar ek het nou vergeet watse soort boom dit is. Die pelgrims gooi die boom nat, dis seker hoekom dit so pragtig groei.


Die pelgrims met hul waterkruike.


Ek weet ek het al sulke foto’s geplaas, maar dis altyd vir my mooi.


Die son sak oor die Kandy-meer, ‘n mensgemaakte meer wat in 1807 deur een van die konings van Kandy geskep is.





Spesery-eiland

26 05 2006


Dis so kitsch dis pragtig. ‘n Muurskildery in Negombo, ‘n uur noord van Colombo.


Die Nederlanders het honderde kilometers se kanale gebou, wat steeds gebruik word. Ook Negombo.


Die Galle Face Hotel in Colombo se terras langs die Indiese Oseaan met die son wat sak. Die Galle Face is Colombo se Mount Nelson of Raffles, dis vol verweerde koloniale grasie. Dis regtig nogal spesiaal, my kamer was so groot soos ‘n hele huisie in SA. Die hysbak het nog van daardie konsertina-staaldeure. Statige houttrappe. En die Indiese Oseaan reg langsaan. Dit was weer my maandelikse treat vir myself.

Sri Lanka, die spesery-eiland, die plek waarheen Adam (volgens plaaslike oorlewering) verban is toe hy uit die Paradys geskop is, die plek waar omtrent al die koloniale moondhede hul merk gemaak het (met die wonderlike gevolg dat hier so ‘n interessante mengsel van kulture is), die plek wat spog met van die vriendelikste mense wat ek nog teengekom het. Deur Marco Polo beskryf as een van die wonderlikste eilande waar hy was. Ook besoek deur Sinbad. Wonderlik hier! Dis ook nogal ‘n ontdekking, want ek dink nie Sri Lanka verskyn op baie mense se reisplanne nie. ‘n Jammerte, hulle sukkel nog na die tsoenami, en met die oorlog wat weer voortwoed gaan dit ook nie te goed nie. Maar die meeste plekke is heeltemal veilig, jy raak sommer gou gewoond aan al die soldate en sandsakke langs die paaie. Sri Lanka voel baie soos Indie, dis net skoner.





Moontlike afspraak

24 05 2006

Vandag ry ek toe so ewe met ‘n rickshaw deur Colombo, toe ons deur Cinnamon Gardens, Arthur C. Clarke se woonbuurt ry. Sommer vir snaaksigheid vra ek die drywer om by Clarke se huis verby te ry sodat ek ‘n foto kan neem. Voor staan ‘n wag wat se^ ek moet eers binne gaan vra vir toestemming as ek ‘n foto wil neem. Maar, vra hy, hoekom maak ek nie ‘n afspraak om Clarke self te ontmoet nie. Hy ontmoet graag mense as hy tyd het. Hy roep Clarke se huisbestuurder, wat my naam vat en vir my die huistelefoonnommer gee sodat ek volgende week kan bel en dalk ‘n afspraak kry. Want Clarke is op die oomblik besig, maar volgende week dalk nie. As ek tien minute vroeer gekom het, kon ek hom nou gesien het, se^ hy, maar Clarke het pas uitgegaan vir die dag. Hoe cool is dit nie?


Hierdie skoolkinders met hul wit uniforms het vir my ‘n mooi foto gemaak voor Sri Lanka se onafhanklikheidsmonument.


Maar toe hulle sien ek neem hulle af, chaos! Die hele lot bestorm my, wil eers my hand skud (toe voel ek darem vreeslik baie soos ‘n bekende akteur of iemand), so in die ry af, elkeen wil handskud. En toe wil hulle weer afgeneem word. Maar hulle het my letterlik omsingel, hierdie foto is geneem met my kamera op sy wydste hoek gestel, en dis al wat inkom, so naby staan hulle.


Afgesien van hierdie (te wagte) kerse in een van die tempels, was daar ook ‘n uitstalling van antieke motors in die tempel!


Sri Lanka het, anders as Indie, die geboorteplek van die Boeddhisme, nog altyd Boeddhisties gebly. Iets wat ek meer met Suidoos-Asie assosieer, dit was aanvanklik vreemd om dit hier in die subkontinent te sien.


Die verpligte slangfoto, uiteindelik het ek toegegee. In Indie nader hulle jou ook met slange, bere en ander diere vir foto’s en jy moet natuurlik betaal daarvoor. Toe hierdie man my vandag in Colombo nader met die slang, het ek so groot geskrik (dis die enigste ding in die hele wereld waarvoor ek bang is, slange), ek het sommer net ‘n foto geneem en hom geld in die hand gestop dat hy moet loop.





Konflik

24 05 2006


Sr Lanka is op een vlak vir my ‘n heeltemal nuwe belewenis. Ek was nog nooit midde-in ‘n oorlogsone nie. Daar is blokkades oral waar jy gaan op straat, met swaar gewapende soldate wat jou op en af kyk, daar is honderde soldate met groot gewere oral, die lughawe was nog meer afgesper as wat die Wit Huis is, toe ons gister uit Delhi vertrek is die vlug met ‘n uur vertraag weens ‘Security Concerns’. Elke liewe passasier se bagasie is met die hand deursoek (nadat dit reeds deur al die gewone sekerheidskanale is), en ons is almal drie keer op en af bevoel deur wagte. Vir diegene wat nie weet nie, die skietstilstand hier tussen die regering en die Tamil Tiere is so twee weke gelede verbreek deur ‘n bomaanval op ‘n top-generaal waarin verskeie mense gesterf het. Sedertdien praat koerante van ‘n ‘lae intensiteit oorlog’. Maar die alledaagse lewe gaan voort.
Die BBC:
Europeans have a rather quaint tradition of telling everyone when they intend to go to war.
That’s why so many of them are now asking the burning question: “Can the ceasefire in Sri Lanka survive the latest violence between the government and the Tamil Tiger rebels?”
But to ask the question is to miss the point.
The two sides in Sri Lanka are already having a war - they just haven’t told anybody yet.
Volledige berig van BBC is hier.





Indiese afskeid

23 05 2006

Ek vertrek oor ‘n paar uur na Sri Lanka, plaas vir oulaas so ‘n paar foto’s van Indie. Dis ‘n plek wat my baie diep geraak het, ek vertrek nie regtig met ‘n gevoel van bevrediging nie, ek was net drie weke hier en dit was heeltemal te min. Ek sal moet terugkom, minstens ‘n hele paar maande net in Indie en dit sal nog te min wees. Seker logies, die plek is so groot soos ‘n klein kontinent, en hier is net so baie om te ontdek. Nie net om te sien nie, maar om te beleef.


Vanoggend in die vyfhonderdjaar-oue grafkelder van Sikandar Lodi in Delhi.


Hierdie brug is ook byna vyfhonderd jaar oud. Is in die Lodi-tuine naby Willem se huis, waar ek vanoggend rondgedwaal het.


‘n Ouer foto, toe ek in Jaipur was.


Straattoneel in Jodhpur in Rajastan, een van my gunstelingplekke en waarheen ek beslis sal teruggaan. So tipies. En ek wens mens kon al die straatgeluide vasvang, dis meer oorweldigend as wat enige fliek of TV-program jou kan laat dink.


Dis ‘n baie ironiese naam vir ‘n winkel, want hierdie woorde is vir my soos skelwoorde, jy kan omtrent nerens loop nie of iemand skreeu dit vir jou.





Verkoeling is ‘n wonderlike ding

22 05 2006

Advertensie wat ek langs die pad in Delhi gesien het:
My mother expired
while I was in America.
But I was able to attend the funeral
thanks to Refrigerated Coffin Services.