
Die flouerige lentesonnetjie sak voor Beijing se stasiegebou.
En dis toe eindelik Beijing! Wat ‘n wonderlike plek, vanmiddag laat hier aangekom, nog bietjie deurmekaar en weet nie mooi waar ek is nie. Het ook probleme met Blogger - ek wonder of hier ‘n sensuur-ding aan die gang is? Ek kan blykbaar publish en foto’s laai, maar ek kan nie my eie blog oopmaak, of enigiemand anders s’n nie . . . Eienaardig. Ek kan ook geen opskrifte vir my posts gee nie (die template werk blykbaar nie heeltemal hier nie), verskoon dus as wat julle sien ietwat slordig lyk, ek weet self nie wat anderkant uitkom nie. Ek sal so gou ek kan foto’s laai, het nog bietjie tegniese probleme daarmee. Beijing is anders as enige plek wat ek nog gesien het, dis regtig ongelooflik. Reusagtige wye strate, die geboue is meestal laag (minnerige skyscrapers), die mense is almal baie, baie donker aangetrek (swart en skakerings daarvan), en ek verstaan g’n snars van niks - maar kom tog heeltemal maklik reg. Dis my eerste post wat ek geheel en al op ‘n Chinese rekenaar en met ‘n Chinese weergawe van Blogger gedoen het! Ek is te dom om die taal te verstel as ek nie eens weet waar om te kyk nie. Sal iemand asseblief laat weet of julle hierdie kan lees, ek kan niks sien nie, soos ek reeds hierbo geskryf het.





Recent Comments