Die Armeense kerk
28 04 2006
Terwyl ek my nou so beywer vir die besette volke het ek vandag na die Armeense kerk hier in Singapoer gaan kyk. Dis die oudste kerk hier, gebou in 1835. Die Armeense volkslagting het in 1915 gebeur, toe die Turke miljoene Armeniers vermoor het. Dis nie baie bekend nie en die Turke ontken dit steeds. In Jerusalem is daar plakkate van die volkslagting in die Armeense deel van die Ou Stad opgeplak. Dis waar ek die eerste keer daarvan bewus geraak het.

Buite in die tuin is beelde van Jesus wat sy kruis dra. Dis nogal treffend om te sien.

Die kerk hier het niks met die volkslagting te doen nie, dis sakemanne wat dit gebou het. Dis ‘n ongelooflike oase van rustigheid, en het my onwillekeurig vreeslik aan die Heilige Stad Jerusalem laat dink.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Chinatown blink
27 04 2006
Ek is jammer as ek dalk bietjie stiller as gewoonlik is, ek voel ek het mos al voorheen oor Singapoer gepost, ek sal weer kwaai begin post as ek nuwe dinge sien. Hier is detail op ‘n Indiese tempel in Chinatown, waar ek bly. Dis heeltemal anders as enige ander land se Chinatown, want dis Singapoer. Dis skoon en netjies en georganiseerd en al die geboue is reggemaak.

‘n Uitsig oor ‘n straatmark in Chinatown. Jy kan elke denkbare soort toeriste-gemors koop vir byna niks geld nie.
Comments : 2 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Bilaterale verhoudings
27 04 2006
Ek lees vandag in die Straits Times hier in Singapoer ‘n LANG, maar baie interessante artikel oor China en die onlangse besoek deur die Chinese president aan Amerika. Die besoek was aan die gang terwyl ek daar was, en daar was elke aand op die Chinese staats-TV lang stukke oor die ‘vreeslike suksesvolle’ besoek en beeldmateriaal van kindertjies met blomme wat Hu omhels, ou mans by fabrieke (die Boeing-fabriek byvoorbeeld) wat Hu omhels, agtergrondstukke in die Chinese koerante oor Hu wat sy ’sagte’ kant gewys het ens. ens. Die Amerikaanse media het sonder om te skroom die besoek as ‘n mislukking beskryf, geen vooruitgang gemaak is op enige belangrike punte nie. En daar was vele vernederende oomblikke soos betogers wat op Hu geskreeu het, die Taiwannese volkslied wat gespeel is eerder as die Chinese volkslied (dis dinge wat ek eers gehoor het nadat ek China verlaat het). In elk geval, dit laat my maar weer eens glimlag oor die wereld van bilaterale verhoudings en hoe dieselfde prentjie heel anders aangebied word, afhangende van wie praat.
Vir diegene wat regtig belangstel, hierdie artikel, die een wat in die Straits Times was, is besonder interessant. Dis geskryf deur ‘n strategiese vooruitskouings-kenner, ek weet nie wie die skrywer is nie, maar die artikel is vol insig. Dit verwys na China wat besig is om al meer ‘n buitelandse vyand te soek (tipiese reaksie wanneer ‘n land interne probleme ondervind – weens die verskriklike armoede op die platteland raak die Chinese regering al meer bekommerd oor ‘n revolusie), en die vyand is Japan. Hier is ‘n uittreksel:
The Geopolitics of China
April 25, 2006 21 45 GMT
By George Friedman
Chinese President Hu Jintao visited Washington last week for a meeting that diplomatically might be called “nonproductive” — or, realistically, “disastrous.” Not only was nothing settled, but a series of incidents — ranging from a reporter shouting insults at Hu and being permitted to continue doing so for three minutes, to an announcement that the national anthem of “The Republic of China” (also known as Taiwan) was being played — marred the visit, to say the least.
En hier verskyn ‘n Chinese weergawe oor die besoek, met ‘n uittreksel:
US visit was fruitful, says FM
(China Daily)
Updated: 2006-04-24 15:01
President Hu Jintao’s visit to the United States was “fruitful” and a “milestone” in bilateral relations, Foreign Minister Li Zhaoxing said on Saturday.
During the four-day visit, President Hu conveyed the idea that China and the US are “not only stakeholders, but also constructive partners.”
Speaking to reporters aboard the special plane which took Hu from the United States to Riyadh, Saudi Arabia, Li said the president’s US visit yielded important results.
Comments : 3 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Vir oulaas
25 04 2006Hier’s nog so ‘n laaste paar foto’s van Tibet. My volgende Tibettaanse foto’s sal binne so twee weke of wat volg, wanneer ek in Dharamsalla in Indie is. A luta continua! Ek het ‘n paar besonderse besige reisdae agter die rug, ek is poegaai! Die 20ste het ek die oggend van Lhasa gevlieg na Chengdu, daar ‘n aansluitingsvlug gekry na Shenzhen naby Hongkong, maar die vlug was ure lank vertraag, toe amper eers middernag in HK aangekom, een dag daar gebly, toe per boot na Macau, gevlieg na Kuala Lumpur (vlug was ook ure vertraag, omtrent twee-uur die oggend eers in KL aangekom), een dag daar, toe per trein na Singapoer, waar ek nou is en waarskynlik vir meer as ‘n week gaan wees. Ek vertrek hiervandaan na Willem in Indie, sodra ek my Indiese visum gekry het. Singapoer is altyd lekker om bietjie asem te skep, dis so civilized en rustig hier (soms grens dit aan saai, maar darem nie). Maar Kuala Lumpur, waarvandaan ek nou kom, is wraggies elke keer wat ek daar kom vir my lekkerder. Dis net sulke nice mense daar. Mense maak grappies as jy in hulle taxi klim, of iets by die 7/11 koop – dit voel net so anders as byvoorbeeld China, of selfs Hongkong. En ek het Saterdagaand met my aankoms daar baie goeie geselskap gehad, sommer so by ‘n straatkafee . . .

Groenteverkopers naby die Jokhang-tempel in Lhasa. Die laaste dag in Lhasa was regtig yskoud, daar het vars sneeu op al die berge om die stad gele^.

Al die monnikke met hul rooi jassies is vir my tog te oulik. Die twee staar na ‘n kreupel man wat verby gekruip het (nie op die foto nie).

En as jy mooi kyk, heel onder op die prentjie staan ‘n man en urineer teen die Potala-paleis, die Dalai Lama se heilige woning!
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Nuusblad
23 04 2006Ek lees in die jongste uitgawe van National Geographic dat die wetlike ouderdom vir meisies om te trou in SA tussen 12 en 14 jaar is? Dit kan tog nie waar wees nie? Dis in die Mei-uitgawe.
Ek het eintlik die tydskrif gekoop vir hulle storie oor die Evangelie van Judas, die storie van die eeu. Diegene wat nog nie hieroor gelees het nie, kan gerus Johannes se berigte gaan lees, hier en hier. Dis die storie van die eeu dink ek, en Johannes se berigte het veel meer om die lyf as wat in die National Geographic staan.
Comments : 4 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Free Tibet
21 04 2006Ek het nou in ‘n aktivis vir Tibet ontaard. Gaan lees gerus Free Tibet. Ek raak bietjie gedemotiveerd om my blog aan die gang te hou, want klaarblyklik is die belangstelling maar min. Maar nou ja, dis immers vir myself om te onthou wat ek doen. Ek het tog gehoop om dit te gebruik as manier om te kommunikeer met my vriende in SA en elders, maar dit werk blykbaar nie. As ek so van plek tot plek rondflenter, partymaal wil ek regtig net ietsie van die huis af hoor. Enigiets.
Comments : 8 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Oor Tibet
19 04 2006
‘n Pelgrim voor die Jokhang-tempel in Lhasa. Ek het uitgevind hoekom dit die heiligste plek in Tibet is – daar is ‘n afbeelding van die Boeddha binne wat glo deur die Boeddha self geseen is voordat dit daar neergesit is.
Ek het my tot dusver weerhou van enige politieke kommentaar oor Tibet, net omdat ek nie eintlik enigiets geweet het van wat hier aangaan nie, maar nou gaan ek ‘n paar dinge se^. Dis more my laaste dag in Tibet, die Chinese geheime polisie lees in elk geval seker nie my blog nie. Ek het voorheen geen idee gehad van wat regtig hier aan die gebeur is nie. Dis algemene kennis dat Tibet ‘n besette land is, hier is geen politieke vryheid nie (selfs minder as in China, dis tog moontlik), en die mense leef in vrees om enigsins in die openbaar hul afkeer in die Chinese besetting uit te spreek.
Ek het gisteraand in ‘n redelik boheemse kuierplekkie gaan sit, almal daar was Tibettane wat later nie meer bang was om te praat nie. (Seker ook maar die bier wat gehelp het.) In kort, hulle weet hulle kan nie enigiets doen teen China nie, hulle weet as hulle in die openbaar kla, gaan hulle waarskynlik verdwyn. Die een ou het gese^ hy het ‘n vrou en kind, hy is verantwoordelik vir hulle. Al maak dit hom hartseer, is daar niks wat hy kan doen nie. Hy’t gese^ hy het nie ‘n probleem met die Chinese wat hier woon nie, maar wel met die Chinese regering. Hy het gese^ mense wil almal maar net ‘n lewe maak, dis hoekom baie Chinese hierheen kom.
Maar die Chinese is besig om Lhasa te verinneweer. Oral word blink nuwe winkelsentrums gebou, die ou deel van die stad, die oorspronklike Tibettaanse deel, kom al meer in die spervuur en wie weet hoe lank dit nog sal bly staan.
Die Chinese bou en bou, dit pas nie eens in in Lhasa nie. Maar dis natuurlik deel van die besettingsplan, hoe meer Chinese hier bly, hoe groter die Chinese invloed, hoe minder is die kans dat Tibet ooit sy vryheid sal kry.
Die westelike deel van Lhasa is al uit en uit ‘n Chinese stad. Daar is niks eg Tibettaans daaraan nie. Volgens die mense van gisteraand (ek noem doelbewus nie hul name nie) het hulle nie al die Chinese geboue en dinge nodig nie. En veral nie die nuwe trein nie. Dis net nog ‘n poging om China se houvas te versterk.
‘n Ander ou gisteraand het vir ‘n Chinese reisagentskap gewerk, maar hulle het hom later laat gaan, glo omdat hy voorheen ‘n uitgewekene in Indie was en die nuwe baas hom nie vertrou het nie. China laat net ‘groepe’ toe om Tibet te besoek (daar is maniere, dis hoe ek op my eie hier uitgekom het) en die groepe kom onder die vaandel van die Chinese amptelike reisagentskap hier aan, en sien dus alles deur die Chinese bril. Kyk hoe goed is ons vir hulle . . .
Nou wat my persoonlik nogal pla, is die feit dat die hele ganse wereld oor hul voete val om in China te bele^. Om te kom geld maak hier. Die Chinese regering en sy amptenare ry net met Audi A8’s rond (mens sien dit nogal, oral ry pikswart Audi’s met donker vensters rond). Ook Volkswagen is oral te sien. My vraag is, is dit moreel regverdigbaar. Is daar enigsins nog moraliteit in die wereld oor. Tibet is nie die enigste klag teen China nie, almal weet hier word elke jaar meer as 10 000 mense doodgeskiet (tereggestel), sommige meen dis meer as 20 000. Dikwels sommer op die eerste dag van die hofsitting, sommer dadelik daarna. Politieke andersdenkendes word aangehou en gemartel, die Falun Gong-mense word gemartel, tereggesteldes se organe word gebruik vir oorplantings op ryk Japannese toeriste . . . En dan is maatskappye soos Google heeltemal gewillig om homself te sensor sodat hy darem in China kan sake doen. Dis vir my ‘n hartseer saak, die wereld gee nie eintlik om vir enigeen nie of enigiets nie, solank hulle net geld maak.
Comments : 8 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Die paleis
19 04 2006
Dis waar ‘n mens die Potala-paleis binnegaan, nadat jy teen ‘n baie steil bult opgeloop het en byna uitsem is. Onthou, Lhasa is 3700m bo seevlak, dis omtrent 700m meer as SA se hoogste berg. En die suurstof is maar min. Lyk suitably mysterious . . .

Daar’s is nie ‘n manier om te beskryf hoe groot en ongelooflik die paleis is nie. Hierdie is voor die ingang na die wit paleis. Daar’s ‘n wit paleis en ‘n rooi paleis. Binne mag mens nie foto’s neem nie, maar daar is artefakte van honderde jare oud (goud net waar jy kyk) en grafkelders van verskeie van die Dalai Lamas, ook oorgetrek in goud. Die atmosfeer is gedemp en donker, en oral hang donker lappe en gordyne, daar is byna geen natuurlike lig nie. Net kerse wat brand. En hier en daar hoor jy monnikke wat chant.

Op pad uit kan ‘n mens effens ‘n idee kry van die skaal van die plek. Daar is meer as duisend kamers binne.

En ek moet darem wys hier staan ek in Lhasa by die Potala-paleis.

Op die steil pad terug na die stad is daar oral sulke inskripsies op klip en kliptorings.

Net buite die hoofingang, en op verskeie plekke teen die muur wat reg om die paleis loop, is sulke figure in die muur uitgekerf, honderde jare oud en roekelooslik byna toegeverf.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized








Onlangse Kommentaar