Raakgeloop

6 03 2006


Hierdie vryskutmodel het vir my voor die twee torings in KL geposeer sodat ‘n mens mooi kan sien presies hoe groot hulle nou eintlik is.


Daar is ‘n winkelsentrum in KL waar ‘n mens deur ‘n soort van ‘n gang of saal loop, met klein liggies wat die hele tyd flits, in allerhande kleure. Die mure is vol spieels en dit voel amper asof jy iewers in ‘n ander dimensie rondsweef, dis nogal freaky.

Rondloper en Saligerus het mekaar kortstondig hier in Kuala Lumpur raakgeloop. Saligerus is in die gelukkige posisie dat hy (anders as ek!) geen sent vir ‘n baie aangename vyfster-avontuurvakansie betaal nie! Hy is ‘n gas van Malaysia Tourism. En wat doen ‘n mens in KL op ‘n Saterdag? Jy shop, jy sweet en jy koes vir Chinese winkeliers wat besig is om hul stalletjies vir die nagmark reg te maak en nie omgee as daar enigeen in die pad van hul trollies is nie. En jy verkyk jou aan die meesterlike twee torings, dit bly skouspelagtig. En dan sweet jy nog ‘n bietjie. Johannes het in ‘n stadium opgemerk dat elke groot wereldstad baie dieselfde is. Dis nogal waar, dink ek. Op vlakke is die meeste stede eintlik dieselfde plek. Beteken dit dus reis (na stede) gaan oorbodig of onnodig raak, soos stede al meer na mekaar begin lyk? Die mense is natuurlik anders, en die kos . . . O, ja, en die pryse. KL is belaglik goedkoop, veral vir eet en koop. Maar selfs blyplek ook. Die laaste keer toe ek hier was, het ek om een of ander rede bietjie ongemaklik gevoel, dit was die eerste keer wat ek in ‘n Moslem-land was (en hier is baie wette spesifiek net vir die Moslems), maar hierdie keer voel ek heel gemaklik. Dit is egter op vlakke heel konserwatief, en dan op vlakke so uitspattig jy kan amper nie glo dis ‘n Moslemland nie. Laatnag is KL seker een van die bedrywigste stede wat daar is, die strate woel behoorlik. En nie almal is sober nie.





My plasie in Afrika

6 03 2006


Ek het sommer vir die snaaksigheid bietjie op Google gesoek na Teslaarsdal (waar my lappie grond is) en afgekom op ‘n magdom interessante inligting. Daar was ‘n artikel oor die plek in Village Life (tydskrif) en daar is twee wynplase direk in die omgewing. Lyk my hierdie groot stap van my, om daar grond te koop, was ‘n goeie een. Ek sien uit daarna om ‘n gedeelte van die grond te verkoop en vir myself ‘n lekker huisie daar te bou sodat ek rustig kan gaan boer en met ‘n boek op die stoep sit terwyl my honde by my voete le^. (Soos julle kan aflei verlang ek bietjie na vastigheid onder my voete, maar dit sal ook oorwaai . . . )
Hier is bietjie oor die geskiedenis van Teslaarsdal:
Teslaarsdal (R326): Johannes Jacobus Tesselaar was a wealthy landowner in the Overberg. He left an estate in 1797 of five farms, 14 male slaves, four female slaves, 125 horses, 60 head of cattle and 500 sheep. Tesselaar left the farm Hartebeesrivier to some of his slaves. Direct descendents still own parts of the farm today and the settlement called Teslaarsdal developed on this farm. Remnants from that period are still visible, and in the graveyard there are graves from descendents Coert, Gertse, Huizenberg, Bredenkamp, among others.
Hier verskyn die artikel (eintlik net foto’s) van Village Life, en hier is die skakel na inligting oor een van die wynplase. Die nuwe Greyton? Ek hoop so.