A Day in the Life of a Globetrotter

31 03 2006


My slaapkamer in Hong Kong. Die vensters kan gelukkig oopmaak.


En van die bed af kan jy net so jou hand uitsteek en goeters van die tafel af optel. Die plastieksak op die bed is dieselfde een as in die boonste foto.

Die rede hoekom ek in rolprentteaters, parke, tempels en museums rondhang terwyl ek hier in Hong Kong is, is omdat die verblyfreelings so ongelooflik klein is. Hier is foto’s van die plekkie wat tot so om en by die 10de April my tuiste gaan wees. Daar is letterlik plek vir ‘n enkelbed (met drie van die vier kante reg teen die muur), en ‘n klein spasie langs die bed om te staan en ‘n tafeltjie. Bo teen die muur hang ‘n TV. En die badkamer is ‘n vertrekkie met ‘n toilet, miniatuurwasbak en drein in die vloer, want jy stort sommer so op die vloer (soos op baie plekke in die Ooste eintlik). Dis heeltemal gemaklik en baie skoon (en kos dieselfde as ‘n bed in ‘n gedeelde kamer in ‘m jeugherberg). Hong Kong se eiendom is van die duurste ter wereld, die mense wat ek hier ontmoet het, bly in woonstelletjies so groot soos Die Burger se rookkamer (OK, ek oordryf, maar dis klein – tensy jy natuurlik een van die rykes is, maar dan bly jy op The Peak in ‘n regte huis), en daar is altyd sulke mensemassas op straat. Dis steeds ‘n wonderlike plek, ek geniet die energie en die mense ongelooflik baie.





Ou vriende

31 03 2006


Ek kry gister ‘n SMS van my ou vriend Philip de Villiers, wat die afgelope tyd in ‘n groot sanger ontpop het. Vol goeie nuus was hy. Ek het hom baie jare gelede ontmoet toe hy nog gedroom het van musiekmaak as professionele kunstenaar, en nou is sy album uitgereik, die resensies is goed en sy droom is besig om waar te word. Ek dink dis wonderlik as mens die kanse vat wat na jou kant toe kom en dinge werk vir jou reg uit. Ek kry ook vandag ‘n epos van my goeie vriendin Gerda, sy het Philip onlangs ontmoet en in gesprekke kom hulle agter hulle albei ken my. Wys net hoe klein die wereld soms is. Toeval? In V for Vendetta (lees my volgende post) se^ V daar bestaan nie iets soos toeval nie. Ek hoor deesdae van baie sulke ‘klein wereld’-voorvalle.
Gaan besoek gerus Philip se webwerf hier en daar is links om na sy liedjies te luister. Ek het sy CD in die HMV in Hong Kong gesoek, maar dis almal uitverkoop.





Wraak of geregtigheid

31 03 2006


Ek het gisteraand eindelik V for Vendetta gesien. Ek het al ‘n paar keer op my blog daarna verwys, ek weet nie hoekom die fliek my so getrek het nie. (Ek dink mos in my vorige lewe was ek woonagtig in ‘n totalitere staat, waarskynlik China, en dis waarskynlik hoekom ek nou so opgewonde is oor my trippie soontoe . . . Dalk vind ek wortels waarvan ek nie bewus was nie.) Maar terug na die werklikheid, ek het in Nieu-Seeland hierdie uitstekende artikel uit die Britse Independent gelees oor die Wachowski-broers (ook die skeppers van The Matrix – lees gerus Johannes de Villiers se wonderlike artikel 90 Jaar van Fantasie en Wetenskapfiksie hier, vir mense wat nie dikwels wetenskapfiksie lees nie, soos ek, is dit eye-opening). Die Independent-artikel het gehandel oor V for Vendetta, en dit het my dadelik getrek. ‘n Fliek oor ‘n totalitere Engeland (iets wat nie te vergesog is nie), met geen vryhede en ‘n diktator wat alle homoseksuele, anderskleuriges, nie-Christene ens. ens. geleidelik elimineer in twyfelagtige ‘wetenskaplike’ eksperimente. Verskyn V, wat die eksperimente oorleef het, maar geheel en al misvorm is, en sy missie om wraak te neem. ‘n Heldhaftige terroris? Is dit moontlik na 9/11? Gaan kyk die fliek. Ek gaan dit weer kyk. Daar is ook verwysings na seksuele onderdrukking, diskriminasie, en natuurlik ‘n klein bietjie romanse. Ek dink dis een van die beste flieks in ‘n lang tyd, ek het die gevaar geloop om teleurgesteld te wees omdat ek so lank daarna uitgesien het, maar ek was nie. En die ander eienaardigheid, die hoofkarakter dra die hele tyd ‘n masker, hoe moeilik moet dit wees om ‘n rol te speel sonder om enige gesigsuitdrukkings te gebruik. Ongelooflik.





Nie net praat ek drie tale nie, ek kan tel ook

29 03 2006

Ek het nou ook ‘n statcounter op my blog gelaai, nou kan ek sien hoeveel mense lees dit. Te lekker. En dis die maklikste program in die wereld om te laai, en jy kan so baie dinge sien. Dis oop vir almal om na te kyk, as mens kliek op die View my stats-link dan kan jy byvoorbeeld presies sien waar kom die mense vandaan wat die blog lees (soos Hong Kong, Nieu-Seeland, waar ookal) en allerhande ander interessante dinge. Ek het my counter op 150 begin, ek dink nie ek lieg nie, want ek is darem al lank op die net en ek het al 158 profile views gehad, so dis heeltemal korrek. Eintlik te min. Ek is die beste.





En toe’s ek alleen

29 03 2006

My ma se trippie is verby, sy het vanoggend vroeg veilig in SA aangekom met tasse en tasse vol inkopies wat ons wonder bo wonder op die vliegtuig gekry het. Was nou regtig lekker, ek dink dis die beste ding wat ek (en my broer) in ‘n lang tyd gedoen het. Sy sal dit lank onthou en dit was goed vir my om te sien hoe sy dit geniet. Hier is nog so ‘n paar beelde van Hong Kong.


Die Chi Lun-klooster in die New Territories (op die foto bo en onder), ‘n plek waar jy so ‘n rukkie lank rustig voel tussen al die bonsai-boompies en dammetjies – totdat jy opkyk en die skyscrapers sien. Maar dis mooi, baie mooi, alles van hout.



Die Peak-tremspoor is meer as honderd jaar gelede gebou, dis een van daai trems wat met ‘n kabel teen die berg opgetrek word, totdat jy bo kom om die mees skouspelagtige stadstoneel in die hele wereld te sien (foto bo). Op die onderste foto staan ek en moeder soos Jappanese toeriste voor die trem.





Nagliggies in die Ooste

27 03 2006


Een van die dinge wat ‘n mens moet doen in Hong Kong is om met die Star Ferry tussen Kowloon en die middestad te ry. Hier sit ek en moeder op die veerboot. Vandag is haar laaste dag hier, more gaan sy terug.


En dis wat jy van die veerboot af sien. Die nagliggies van Hong Kong, en honderde bote en skepe en skuite vol glinsterende liggies wat in die water om jou vaar.


Die neonbeligte aand in Kowloon. Ek het ‘n tyd gelede ‘n TV-program gesien oor ‘landscape lighting’ in Korea, en ek dink hulle doen dit seker ook hier. Daar is so baie geboue wat saans belig word, nie net met wit lig nie, met allerhande verskillende kleure, wat beweeg en aangaan en afgaan en verander . . . Nie baie omgewingsbewus nie, maar nogals mooi.





Wonderland

27 03 2006


Die kasteel van die slapende skone. Sy staan langsaan sodat mens saam met haar afgeneem kan word. Vreeslike baie ouens het in die ry gestaan vir die foto.


Elke middag is daar ‘n optog deur Disneyland wanneer die karakters in die straat afloop. Met mooi musiek wat speel.


Dankie, pappa, dat jy ons hiernatoe gebring het . . .


En nog ‘n paar karakters in die optog. Ek het ongelukkig nie foto’s geneem binne in die MGM-teater waar daar ‘n vertoning, soos ‘n mini-musiekblyspel, was nie. Dit was heerlik, tonele is opgevoer uit Lion King, Beauty and the Beast en ander flieks, en Tarzan het in ‘n stadium in die teater rondgehardloop.

Op die eerste dag saam met my ma in Hong Kong het ek haar na Disneyland gevat – om geleidelik gewoond te raak aan die werklikheid van die oorweldigende Hong Kong, dat sy eers tyd het om bietjie in die fantasiewereld rond te loop. (Dit was vir haar bietjie groot hier.) Wat ‘n prettige dag – dit kos ‘n vreeslike klomp geld om in te gaan, maar wanneer jy van die moltrein afklim, begin die Disney-musiek en jy loop regtig in ‘n ander wereld in. Ek is nou nie eintlik een vir temaparke nie, maar hierdie was ‘n groot uitsondering. Hoeveel keer kry ‘n mens die kans om Disneyland toe te gaan? Die lekkerste was die Space Mountain-wipwaentjie (roller coaster!) wat net eenvoudig wonderlik is. Dis soos roller coasters wat ons ken, maar dis binnemuurs, dis pikdonker, en dit voel asof jy deur die ruimte reis, daar’s net sterre en planete waar jy kyk, dit voel asof jy dwarsdeur Saturnus jaag . . .





Kom ons gaan fliek

27 03 2006


‘Sometimes you have to leave in order to come back’ – Robert de Niro in 15 Minutes.


Twee wonderlike flieks gesien die afgelope paar dae, my ma is steeds hier en ek en sy bly in ‘n heerlike hotel in Hong Kong waar ek saans sit en TV kyk as sy gaan slaap het. Pearl TV, Hong Kong se openbare televisiekanaal, het mense in diens wat lekker flieks aankoop. Ek meen elke joernalis behoort 15 Minutes te sien, wat ‘n heerlike fliek, vol aksie en dan laat dit jou nogal dink ook. Het my weer eens laat dink aan Capote (lees my post hieronder daaroor) en die aard van kuns (lees ook die post daaroor as jy nog nie het nie), en dan ook oor die aard van harde joernalistiek. Regtig die moeite werd.
En gisteraand het ek Ocean’s Eleven die eerste keer gesien. Ook vol aksie, maar dan is daar nog ‘n bietjie romanse en die bad guy word behoorlik tot in die afgrond in verneder. Dis mos hoe ‘n fliek moets wees. En dan is dit nog vol mooi mense ook.
Ek sal binnekort berig oor wat ek dink van V for Vendetta, wat ek hopelik binne die volgende paar dae gaan sien.





Voorspoed

22 03 2006


Dis ekke wat ‘n drom op aandrang van die gatekeeper in ‘n Taostiese tempel drie keer slaan. Ek neem aan (en hoop) dis vir good luck.


En oomblikke nadat ek die drom geslaan het, het Kupido vir my gewag op die dorpsplein van Coloane in Macau.


En dis ‘n mooi, pienk gebou in Coloane, net agter Kupido.





Reis

22 03 2006


Na aanleiding van my vorige skrywe oor die fliek Capote, wat ek in Nieu-Seeland gesien het en my baie ontstel het – oor die wese van kuns en die skeppers daarvan, is hulle eintlik boos soos Capote was, net ter wille van ‘n goeie boek en ‘fame’ (of gee dit ‘n mooi naam as jy wil), het ek hierdie skrywe van Gerda Grobler ontvang. Sy haal aan uit ‘n stuk wat DJ Opperman geskryf het oor die wese van kuns en die kunstenaar. Dis stof tot nadenke. Dit laat my baie diep dink. (Ja, ek kan diep dink.) Sy verwys nie self daarna nie, maar Brandaan se reis gaan ook oor die mens se geestelike reis, hoe moeilik jy jou eie geestelike pad vind. Opperman verwys (soos ek Gerda se brief lees) nie na die geestelike aspek nie, maar bring dit in verband met kuns.
Sy skryf: Ek dink Opperman, as ‘n groot digter en kunstenaar is maar alte goed bewus daarvan wat dit soms vat om ‘n ‘groot kunswerk’ te skep, soos jy sal sien. Hy skryf die duiwel is die kunstenaar se drinkeboer! Eintlik sê hy dat goeie, voorbeeldige karakters/(kuns) vervelig en voorspelbaar is en dat ‘n bose karakter wat feilbaar is, meer vleis om die lyf het. Hy vertel die storie van Brandaan:
“…die ernstige leser wat die kunswerk as iets boos sien en in die vuur wil werp… kry (ons) by alle volke en in alle tye, en die mooiste uitbeelding van sy vertwyfeling, vooroordele en uiteindelike bekering vind ‘n mens in die ou Ierse legende oor Brandaan. Brandaan, ‘n heilige, lees beskrywings in ‘n boek oor ongelooflike voorvalle en verskynsels: … Brandaan vererg hom oor hierdie fantastiese beskrywings (reusevis, mensekop ens. – lees die volle verhaal hier), hy glo nie die inhoud nie en met ‘n verwensing in woede gooi hy die boek in die vuur. Skielik verskyn daar ‘n engel – dit kon ook sy gewete gewees het – en beskuldig hom van ‘n misdaad: die waarheid is nou verlore. Die Here gebied dus dat hy die beskermde mure van die klooster moet verlaat en self vasstel wat ‘waarheid’ en wat ‘leuens’ is, hy moet uitvaar en die wêreld, die werklikheid self leer ken … Brandaan vertrek en ‘n dagboek word aangehou waarin sy ondervindinge aangeteken word … As hy na ‘n lang swerftog terugkom, het ons as wins min of meer die boek wat hy verbrand het. Die boek is dus weer uit die vuur gehaal. Brandaan vind ons in Afrikaans en in allle tale en plekke en tye … maar meestal sonder die bekering … Tog kan Brandaan die kunstenaar self ook wees, die wese agter en in die boek.
… ons kry ook by die kunstenaar gedurende die hele skeppingsproses die spanning van ‘n Brandaan …, wanneer hy selfs sy skepping as iets boos uit ‘n ‘fantastiese’ wêreld beskou en dit wil vernietig. In die tweede plek wil ek juis daarop wys dat die bose inherent aan die boustof en vormgewing van die kunswerk is.
Tennyson skryf in sy In Memoriam:
I sometimes hold it half a sin
To put in words the grief I feel;
For words, like Nature, half reveal
And half conceal the Soul within…
Opperman skryf dat die gevoeligste kunstenaars ‘n spanning voel, ‘n spanning tussen ‘reveal’ en ‘conceal’, ‘n spannning tussen kunstenaarwees en menswees … Onderwyl die mens ly, liefhet, haat … fluister die kunstenaar aan hom: ‘reveal’, dis mos interessante en goeie boustof vir ‘n gedig! Die mens verset hom: nee moenie, ‘conceal’, anders gee dit aan my ondervinding, aan my diepste gevoelens iets onegs, iets vals en ‘n doel buite die ervaring – en dan sal ek sondig teen my menswees. So ‘n spanning moes Totius byvoorbeeld geken het …
Die buitestaander sal vra: Maar as die kunstenaar dan van hierdie boosheid bewus is, hoekom gaan hy nog met sy skepping voort? … Opperman antwoord: Dit stil die pyn … of anders gestel dit bring vreugde. Maar dit is nog nie eens die volle waarheid nie.
Die kunstenaar buit die mens uit, hy aas op hom, por hom aan tot belydenis … (dan skryf Opperman ‘n langs stuk oor belydenisgedigte soos Wordsworth s’n en Keats) En dan:
‘Die aaslustige element van die kunstenaar is nie tevrede met die ondervindings wat sy menswees toevallig opdoen nie; hy word astranter (en miskien met die jare wanhopiger). Dit por die mens doelbewus aan tot nuwe onderwindings ter wille van die kuns, want as daar een ding is wat die kunstenaar vrees, is dit die digterlike woestyndood, die Kalahari-wit papier. Dit word soms ‘n siekte om die kuns te bedryf, of eerder ‘n noodsaaklike middel wat die digter nodig het om hom teen homself te red. Daar is oor Hooft in verband met sy liefdesgedigte gesê dat hy ter wille van die kuns verlief geraak het. Die mens kan uit ‘n innerlike noodsaak gedryf word van persoon tot persoon, opvatting tot opvatting, van -isme tot -isme, geloof tot geloof, van bekering tot bekering, maar by die kunstenaar kan hierdie soeke ‘n sekere ‘egtheid’ verloor waar dit ‘n soeke na nuwe boustof word.’ (Opperman noem hier Rilke en Yeats as voorbeelde)
‘Die kunstenaar verbruik gelowe en bygelowe, vriende en verhoudings, selfs sy eie menswees en liggaam in die bose en selfvernietigende soeke na ondervindings, na nuwe en unieke sensasies vir sy kuns.’ (Ek dink dit is waar die kunstenaar soos Capote en ander op hul mees koelbloedigste en vernietigendste uitkom … ek glo nie alle kunstenaars is so nie, maar dat sommige selfs ook selfvernietigend optree … dis in elk geval die swartste prentjie wat Opperman van hulle skilder. En hy behoort te weet aangesien hy ‘n alkoholis was wat by die dood omgedraai het om daarna Komas uit ‘n Bamboesstok te skryf.) Hy skryf dan: ‘Kortom, in enige gevoelige kunstenaar is daar voortdurend ‘n stryd tussen sy menswees en sy kunstenaarwees: Brandaan dreig altyd om die kunswerk in die vlamme te gooi; die kunstenaar wil telkens van sy kunstenaarskap afskeid neem.’
As Opperman skryf oor die boustof wat kunstenaars gebruik dan tref hy die onderskeid tussen engelagtige en duiwelagtige wesens. Die engelagtige wesens is passief met ‘engelagtige eienskappe van berusting, beskeidenheid, en teruggetrokkenheid’, maar vir die kunstenaar eintlik nutteloos … ‘hoogstens toneelpilare waarop niks rus nie’. Daarenteen sit die duiwels altyd vir die kunstenaar tot model wanneer hy ‘vir ons die diepste werk bring, hom dikwels met die uitbeelding van lae, bose gedagtes, hartstogte en karakters bemoei … die slegste produkte van menswees na die sondeval. Vir die kuns was die sondeval noodsaaklik. Die kunstenaar se drinkeboer is die duiwel.’
Dan vervolg Opperman dat selfs in die vormgewing van ‘n kunswerk is daar iets boos in die sin dat die kunstenaar nooit kant kies nie: ‘In sy wese is hy eintlik wesenloos, soos mis of water vloei hy van holte tot holte.’ Dus in die politiek, kerk, gemeenskap en volk kies hy nie kant nie en word hy daarom dikwels as verraaier uitgekryt – ‘hy is sowel protagonis as antagonis, hy is ewe partydig vir almal … aan die een kant is hy die kuise Josef, aan die nader kant met ‘n ewe groot noodsaak die wellustige vrou van Potifar.’
Opperman se gevolgtrekking: ‘Die bose is so inherent aan die hele aard van die kunswerk en kunstenaarskap dat dit die kunstenaar sy volste vryheid en ruimste moontlikhede bied om ‘n groot kunswerk te skep.’ En daarby is die kunstenaar ‘n ‘joiner’ wie se simpatieë altyd by die vyand lê, al is hy in sy menswees getrou aan sy bepaalde herkoms.