Cowspotting

8 02 2006


Ek het van Christchurch tot in Dunedin langs hierdie propeller gesit en het beelde in my kop gesien van hoe die propeller afbreek en my in twee sny. Maar toe besef ek dan sou die vliegtuig in elk geval geval het en dit sou dan nie saak maak nie.


Dunedin-lughawe se parkeerterrein. Die koeie in die agtergrond is sodat toeriste hulle kan afneem. Dunedin is volgens allerlei boeke die mees Skotse stad buite Skotland. Die bagasieman en die lughawesekerheidsvrou het rooi hare en sproete gehad, so ek dink die boeke is reg.


Ek het vandag Jappanese kos ontdek (meer as net soesji). En dis lekker! Dit was aandete.


Nog een van die wonderlike geboue in die stad. Anders as oral in NS is die meeste huise en geboue hier van baksteen en klip (hulle bou anders vreeslik baie met hout en sinkplaat!).


Op in die straat van waar ek bly in Dunedin. Daar is beslis iets Skots aan die plek.

Ek het vandag in Dunedin aangekom, NS se derde grootste stad en na bewering die mees Skotse stad buite Skotland. En ek dink dis waar, ek hou van die plek! Ek weet niks van Skotland nie, behalwe Trainspotting, en ek dink Trainspotting sou maklik hier kon afspeel. Dunedin is glo in die 1840’s rond gestig, deur Skotse kerkimmigrante, en die hele stad is op papier uitgele en beplan in Skotland voordat die mense nog hier aangekom het. Die strate is grou en grys (maar ja, dit reen vandag hard en hier hang ‘n lae mis oor die stad, help vir atmosfeer!), die geboue is van donkerrooi baksteen, reusagtige Presbiteriaanse kerke waak oor die stad. Dis heel anders as die res van NS, nogal soos Wellington, maar voel ouer en nogals of dit ‘n stad is wat al baie gesien het. Dis nie blink en nuut soos Auckland en allerhande ander plekke hier nie, dit voel soos ‘n stad moet voel, ja, eintlik bietjie afgeleef, maar dis mos karakter! Op die vliegtuig het ek langs ‘n ‘minder slim’ kind gesit (die Amerikaners sou praat van trailer park trash, maar dis nie woorde wat ek sal gebruik nie). Hy was op pad na Dunedin waar hy woon, en het my aanvanklik bekommerd gehad! Eers het hy die vliegtuig se veiligheidskaart (met inligting oor die nooduitgange et al) begin byt (regtig!) omdat daar ‘n plakker bo-op die prentjie was wat wys wat jy moet doen as die vliegtuig in die see val. Hy het die plakker (met byklanke) afgebyt en afgelek en die stukke papier of op die vloer gespoeg of gekou en ingesluk. Toe raak sy susssie op sy skouer aan die slaap, totdat hy haar ‘n vet klap deur die gesig gee om haar wakker te maak. Toe skuif sy sitplekke. Toe leun hy skaamteloos agteroor om die man wat agter hom sit, se FHM te lees (bo-oor die arme man se kop), seker vir die prentjies.





See en sand

8 02 2006

Ek was die afgelope vier dae heen en weer tussen Nelson (genoem na Lord Nelson van Trafalgar-faam), Collingwood (ook een van die mense in die Slag van Trafalgar) en ‘n plek met die ongelukkige naam Takaka. Dit was nou weer vier minder interessante dae, maar heel rustig. Collingwood en Takaka was eens sulkke hippie-agtige dorpies (1200 mense woon in Takaka en 200 in Collingwood), naby die see en in wat hulle noem Golden Bay - pragtige area met wingerde, vrugtebome, dolomietgrotte en baie heuwels en berge. Maar daar gebeur nie veel nie. Die ryk hippies van Auckland het Takaka oorgeneem en dis nou net ‘n toonbeeld van kommersialisme. Daar was darem mooi strande naby. En by Collingwood is die Farewell Spit, dis die langste sandbank in die wereld/NS/die Suidelike Halfrond, so-iets - baie interessant maar na twee uur is sand en nog sand en nog sand nie meer interessant nie. En die toer het sewe uur aangehou. En R500 gekos. Maar as ek nie gegaan het nie, sou ek gewonder het. Die interessantste ding wat ek gesien het, was op die bus op pad terug. Ons het verby ‘n strandmeer gery, en die hele meer was vol grafiti, op die bodem, gepak met klippe as die gety uitgaan. Daar was nogal mooi patrone en dinge, ek het gedink dis nou ‘n oulike idee, want dit doen niks skade nie. Maar ek het nie foto’s geneem nie, dit sou nie deur die nat busvenster werk nie. Dit reen nou al die hele dag, die hele Suideiland vol. Ek is vanoggend per bus van Takaka na Nelson, toe vlieg ek na Christchurh, en toe Dunedin, heel in die suide van die land.


Sulke soort tekens sien ek dag na dag in die plekke waar ek bly. Hierdie is in Nelson.


Patrone in die sand op die Farewell Spit. Daar was baie buitelanders op die toer en daar was so ‘n kleinerige sandduin, die buitelanders het soos mal goed daar foto’s geneem, blykbaar ken hulle nie sandduine nie. Toe sien ek die patrone raak.


‘n Rob op die Farewell Spit. Wat ek hierbo geskryf het oor die sandduin, geld ook vir die rob.


‘n Strand naby Takaka, waar ek een hele dag in die son gele het. Ek het vandag een van die mense wat ek in die backpackers daar ontmoet het, David van Boston, op die lughawe raakgeloop, so klein is NS partymaal.