
Na aanleiding van navrae plaas ek hierdie kaart om aan te dui presies waar ek is. Net onder die ewenaar, amper in die middel van die blou see, daar is Samoa. Dit is werklik so afgelee as wat dit voorkom, ek sukkel my blou om die internet te gebruik hier. Die naweek was dit heeltemal af en gister en vandag is dit darem aan die gang, maar met erge onderbrekings. Minstens kon ek my blog update oor hierdie wonderlike plek. Vlieg more-oggend na Auckland en dan Bangkok, met ‘n aansluiting na Kuala Lumpur.
Waar in die wereld?
28 02 2006Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Kerk en samelewing
28 02 2006
Samoa is ‘n diep gelowige land. Soveel so dat die plek waar ek die eerste twee dae hier in Apia gebly het toe ek laasweek aangekom het, nie op Sondae die kamers skoongemaak het nie. Daar was ‘n briefie in my kamer dat Sondae in Samoa baie heilig is, en dus lewer hulle geen dienste op Sondae nie. Amper elke vorm van die Christelike geloof wat jy aan kan dink is in Samoa. Aan die seefront is daar vreeslik baie kerkgeboue, van die Katolieke katedraal tot allerhande Protestantse kerke. Hier is ook ‘n groot Mormoonse teenwoordigheid, asook Jehovas-getuies, Sewendedag-adventiste en andere. Ek het gister bietjie deur Apia geloop en ‘n paar Sondagfoto’s geneem.

Baie van die mense dra spierwit klere vir die Sondag. Die mans dra rokke, ook as hul gewone drag in die week. En kinders sal mos maar altyd glimlag vir ‘n foto.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Samoa is klein
28 02 2006Ek het gister weer hier in Apia aangekom, ek moes al in Fiji gewees het, maar ek het besluit ek gaan Fiji heeltemal los, ek geniet Samoa te veel, ek bly nou bietjie langer hier. Ek sou in elkgeval net ‘n paar dae in Fiji gewees het, ek bly eerder langer hier. Ek moet op 2 Maart weer in Auckland wees vir my vlug na Bangkok. Andersins het ek waarskynlik maande lank hier in Samoa gebly. Maar daar is plekke om te sien en dinge om te doen! Hier is nog ‘n paar beelde van Apia.

Dit is Neil van Engeland en Ake van Virgin Cove (meer daaroor in die post Paradise Found net na die volgende post oor Capote). Neil bly nog by Virgin Cove maar hulle het vandag in Apia kom inkopies doen toe loop ons mekaar raak, die plek is regtig klein, en geniet ‘n lekker middagete by McDonalds van alle plekke.

Dis al wat oorgebly het van die Duitse teenwoordigheid in Samoa. Dit was in die 1900’s ‘n Duitse kolonie en hierdie is die plek waar die Duitsers hul vlag gehys en Samoa geannekseer het.

Aggie Grey’s – ‘n hotel aan die seefront wat in die Tweede Wereldoorlog ‘n ‘house of ill repute’ was. Aggie Grey was een van die werknemers van genoemde huis. Nou is dit ‘n luukse hotel.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Capote en die maan
27 02 2006
Ek wou al lankal iets hieroor skryf: Ek het die laaste dag in Auckland die fliek Capote gaan kyk. Dit het my vreeslik ontstel. En toe hier in Samoa het ek The Moon and Sixpence van W. Somerset Maugham gelees – hy het baie van sy werke hier op Polinesiese eilande laat afspeel en ek het gedink dit sal interessant wees. Albei die werke gaan oor kunstenaars en wat hulle doen om iets te skep, wat hulle doen in hul soeke na die beste/mooiste werk. Capote het my ontstel, want volgens die fliek (en ek het ook ‘n koerantartikel daaroor gelees en blykbaar is dit grotendeels op die waarheid gebaseer) was hy ‘n koue manipuleerder wat letterlik op die laaste sy hulp aan die moordenaar, wat hy so bevriend het, teruggehou het sodat die ou gehang word dat hy sy boek kan klaar skryf en vreeslik beroemd raak. Is dit nodig om so harteloos te wees om kuns te skep? In Maugham se boek (wat wonderlik was, ek is bly ek het hom ontdek) is dit soortgelyk – die hoofkarakter (gebaseer op Gauguin) maar genaamd Strickland, los sy vrou en kinders ewe skielik sonder geld of enigiets, om te gaan skilder. Hy is koud en harteloos en sonder gevoel, maar tog het hy gevoel. Dis ‘n baie dieper weergawe van die mens se stryd om te skep en bloot te leef waar jy gelukkig is as Capote en was iets wat my meer laat dink het as Capote wat my bloot ontstel het.
Ek het ook met die baie tyd tot my beskikking gelees: Treasure Island van Robert Louis Stephenson, bloot omdat sy huis hier op Samoa is en ek darem iets van hom wou lees voordat ek na die huis gaan kyk. Dit was sommer net ‘n lekker avontuurverhaal, niks spesiaal nie. En dan het ek Midnight Cowboy gelees, dit was nogal goed, gaan oor die mens se alewige soeke na, noem dit nou maar ‘liefde’, maar eintlik net aanvaarding.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Paradise Found
27 02 2006
Hier sit ons op die dek by Virgin Cove en wag vir aandete. Hierdie groepie verteenwoordig van links Kalifornie, Engeland, SA, en Duitsland. Hulle het my Mr Jeopardy genoem toe ons Trivial Pursuit gespeel het.

Dit is die ’string band’ wat ons saans ‘geserenade’ het. Dit was heerlik, hulle het goeters soos Elvis Presley se Always on my Mind in Samoaans gesing.

Hierdie was vir ‘n week lank my woning. Dis heeltemal oop, daar is nie mure nie, net bamboesskerms as jy privaatheid soek. En jy slaap op die vloer. En die see is net oorkant.

Net oorkant my strandhut het ek hierdie uitsig gehad.

Dit is die voetpad deur die reenwoud na die ‘badkamergeriewe’

‘n Lekker Afrika-styl longdrop met ‘n uitsig.

Die kleinste spinnekop in die hele wereld woon in Samoa. Hier is hy. Kyk regs onder op my hand, net onder die are, is ‘n swart spikkel. Dis hy.
Ek is terug! Jammer vir die langerige stilte hier, ek was die grootste deel van laasweek by ‘n plek genaamd Virgin Cove aan die suidkus van Samoa, sowat ‘n uur van Apia, sonder internet of enige moderne geriewe. Dit was die paradys! Jy ry eers oor ‘n berg, verby reusagtige banyan-bome (hulle lyk soos kremetartbome, net groen), deur reusagtige kokosneutplantasies, verby tradisionele Samoaanse huise en dan oor ‘n baie slegte grondpad tot by die plek. Daar het ek vir vyf dae in ‘n houthut reg op die strand gebly, in die Samoaanse styl. Daar is geen mure nie, net skerms van bamboes wat jy kan aftrek as jy wil – saans. Maar dis ook nie regtig nodig nie, want dis soos natuurlike lugreeling, as jy die skerms ooplos, dan is die hut lekker koel. Daar was net ‘n paar mense, maar dit was heerlik, dis die soort plek waar jy net kan verdwyn as jy wil. Hulle het elke aand ‘n groot bankettafel gedek, en dan het almal saam geeet en gekuier. Ek het wonderlike mense daar ontmoet en die dae het net so stadig verbygedraal. Ons het op ‘n kano rondgevaar, elke dag ‘n paar keer in die soel water gaan swem, gesit en boeklees en gekoes vir die kokosneute. Dis nou die tyd van die jaar wanneer die kokosneute vanself uit die bome val as hulle nie gepluk word nie, en so ‘n kokosneut kan jou doodval. Daar was ook elke aand ‘n Samoaanse ‘band’ wat kitaarmusiek gespeel het terwyl ons geeet het.
Ek het drie dinge daar geleer:
1. Die Swede dink hulle land is kommunisties.
2. Ek kan nou die verskil tussen die Amerikaanse en Kanadese aksent herken.
3. Die paradys is in Samoa en die lewe is wonderlik.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
En dit was stil
21 02 2006Ek het heerlik ingeval by die tropiese pas van die lewe hier in Samoa. Dit is so ongelooflik warm, ‘n mens het nie baie energie nie, maar ek het darem nou al Apia behoorlik verken (dis maar ‘n klein plekkie), vreeslik baie Samoane ontmoet wat almal baie opgewonde is as hulle hoor ek is van SA en dan net wil rugby gesels, en gister vir die eerste keer op (oor?) ‘n koraalrif gaan swem.
Ek gaan vir die volgende paar dae op ‘n heerlike Polinesiese strand le^ en kokosneutmelk drink, daar is geen internet daar nie, so die blog gaan vir ‘n paar dae bietjie stil wees.
Hier is ‘n seepark by Apia, die Palolo Deep National Marine Reserve, dis die eerste keer wat ek ‘n koraalrif bekyk het.
Dis nogal freaky aanvanklik, ek het snorkel, duikmasker en paddavoete gehuur en dan swem jy so amper 100m uit in die see in, tot by die rif. Daar’s n paal wat wys waar dit is. As jy eers daar aankom, is die rif eintlik baie vlak, en dis net helderkleurige tropiese visse, skole van die goed, waar jy kyk. En die koraal beweeg soos die seestrome beweeg – ek moet bieg ek was effe senuweeagtig toe ek so die eerste keer sien wat onder die see aangaan. Die water is glashelder en heerlik lou, so dis ‘n ongelooflike ondervinding. Maar die ‘Deep’ van die naam dui op ‘n onderwaterkloof, wat beteken ewe skielik verdwyn die koraalrif in hierdie ongelooflike diep, donker gat. Dit was bietjie te veel vir my, asof die grond onder jou voete uitgeruk word.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Selfoon
20 02 2006Hierdie is net ‘n nota vir sommige van my getroue lesers wat soms SMS’e stuur: ek het geen selfoonontvangs hier in Samoa nie, en sal waarskynlik eers oor so twee weke, wanneer ek in Asie” aankom, weer selfoonontvangs he^.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Treasure Island
19 02 2006
Heel waarskynlik een van die min internasionale lughawens in die wereld wat nie mure het nie. Dis in die tradisionale styl gebou en is eintlik maar net ‘n dak op pilare. Sangers met kitare verwelkom nuwe aankomelinge.

Die lughawebus wat die pad vol slaggate na die middedorp aangedurf het.

En hierdie tekens wys min of meer waar in die wereld Samoa hom bevind.
Ek is bly om aan te kondig dat daar oorweldigende belangstelling in my kompetisie was, amper net so veel as in Die Burger se Pryslyn, en as ‘n poging om sirkulasie te verhoog was dit uiters suksesvol. Yeah, right. In elk geval, die een mens wat deelgeneem het, was min of meer in die regte rigting, maar nie die regte plek nie. Ek is in Samoa.
Comments : 2 Comments »
Kategorië : Uncategorized
Timewarp
19 02 2006Ek weet almal wil nog altyd geweet het hoe lyk dit in Apia, wel hier is nou ‘n paar foto’s van die plek. Ek is in Samoa, ‘n Polinesiese eiland sowat 3000 km noord van Nieu-Seeland en net 5000 km suidwes van Hawaii. Maar, snaaks genoeg, is ek minder as ‘n paar honderd kilometer van Amerika, want Samoa is twee lande, en die een deel is Amerikaans, met George Bush as president en die dollar as geldeenheid en dit word bestuur as ‘n oorsese gebied van Amerika. Samoa waar ek is, interessant genoeg, was eens ‘n Duitse kolonie, hier in die middel van die Stille Oseaan so ver van alles. Maar hier volg die weirdste van alles: Samoa is net-net aan die anderkant van die internasionale datumlyn. Ek het Saterdagaand tienuur die aand van Auckland hierheen gevlieg, toe ek hier land, vier uur later, was dit twee uur die oggend (Sondagoggend) in Auckland, en ook twee uur die oggend in Samoa, maar Saterdagoggend. Ek het dus twee Saterdae gehad hierdie week, sonder dat ek dae lank gevlieg het daarvoor. Dit voel vir my asof dit vandag Sondag is, want in my kop is dit Sondag in Nieu-Seeland en ek het gister klaar ‘n hele Saterdag beleef. Maar vanoggend toe begin Saterdag weer van voor af . . . Nou wonder ek of ek ouer of jonger is?

Sopnatgesweet in die hawe in Apia. Die foto is vandag (of is dit gister, of dalk more?) geneem.

Een van die kleurvolle busse in Samoa. Die busse het geens vensters nie – natuurlike lugreeling.

Die kern van Apia, Samoa se grootste dorp. Dit is die kloktoring.
Comments : Leave a Comment »
Kategorië : Uncategorized
Alle goeie (en slegte) dinge kom tot ‘n einde
19 02 2006
Die laaste dag in Auckland. Dit was Saterdag en daar was ‘n klomp betogings, onder meer deur hierdie flinke jong mense teen hul lae lone by Starbucks. Daar was ook betogings teen die kommuniste in China.

Dit is Lyttelton net buite Christchurch. Wonderlike hawedorpie, het my baie aan Kalkbaai laat dink.

Sommer net ‘n mooi ligtoring in Akaroa.

Ek en Marc bokant Akaroa, waar mens wonderlike uitsigte oor die omgewing het.
Ek het gister Nieu-Seeland verlaat na vyf weke daar – dit was goed en lekker maar dis nou klaar. En ek is bly dis nou klaar, ek bedoel dit regtig nie lelik nie, maar dit was nie vir my ‘n plek met ‘n goeie vibe nie. Soos ek al male sonder tal gese het, die land is pragtig, en ek het wonderlike dinge gedoen – die gletser, die dolfyne, Christchurch is ‘n wonderlike stad, so-ook Dunedin, ek het goeie mense ontmoet, maar dis nie my soort plek nie. (Daar was Saterdagaand ‘n program op TV van Australie, Rove Live, dis Australies en speel Dinsdae in Australie. Aan die begin het ‘n spul pomp-pom girls in rooi gesing oor hoe vervelig ‘n Dinsdagaand in Australie is (dus moet jy maar die program kyk), want Maandag herstel jy van die naweek, Woensdag begin jy voorberei vir die naweek, Donderdag begin die naweek ens, maar Dinsdag gebeur niks, en toe sing hulle: And if you are watching in New Zealand, well every day of the week is boring for you.) Waar ek nou is, is meer my soort plek. Hierbo is nog so vir oulaas ‘n paar foto’s van NS, ek en Marc, die ou by wie ek in Christchurch gebly het, het een dag na ‘n plek met die naam Akaroa gery, iewers in die 1800’s het ‘n spul Franse setlaars daar aangekom om NS Frans te maak, maar die Engelse het hulle voorgespring. Party van die Franse het daar agtergebly, nou is die plek ‘n gewilde vakansie-oord vol Franse vlae en Franse kos en nouveau riches. My laaste dag in Auckland was net ‘n rustige rondloopdag en ek het die aand laat gevlieg.
Comments : 3 Comments »
Kategorië : Uncategorized







Onlangse Kommentaar