Kunsuitstalling
31 01 2006Comments : No Comments »
Categories : Uncategorized


Hierdie is die vreeslik opwindende, maar uiters vreemde Gotiese katedraal in Nelson. Dis donker, grys en teen die byna onheilspellende mure aan die buitekant is allerhande uiters vreemde beelde. En as jy binnekom, kom daar net so ‘n klein bietjie lig deur die gebrandskilderde vensters. Kyk maar self.

Dis die uitsig oor die Marlborough Sounds vanuit die 33-sitplek vliegtuig waarmee ek vanoggend na Nelson gevlieg het. Langs my het Jenny van Brisbane gesit, sy het elke nou en dan na my gekyk en niks gese^ nie, tot die oomblik toe ons in die lug is, toe se^ sy skielik en baie adamant: I am Jenny. Ek, ietwat uit die veld geslaan, o, haai, ek is Andre. Sy vertel my toe sy werk baie met mense se energievelde in Brisbane, en sy kan myne baie sterk aanvoel. Dit voel vir haar asof my energie geen le^plek kan kry nie en redelik deurmekaar is, maar tog baie gefokus sal wees sodra dit le^plek kry. Wat dit ookal mag beteken.
Lekker lank in Wellington gebly en nou in Nelson, in die noorde van die Suideiland. Na my vorige ondervinding op die veerboot na Great Barrier-eiland, het ek gedink ek gaan hierdie slag liefs nie weer op ‘n boot klim nie (en ook maar goed, want die wind het verwoed gewaai vanoggend). Die vlug was in elk geval skouspelagtig en niks duurder as die veerboot nie. Het gister die Te Papa-museum in Wellington besoek, en later die aand by my gereelde aandeteplek die soveelste Nederlander hier ontmoet, wat soos almal wou weet of die ‘probleme’ in SA darem nou al opgelos is.
Die museum was baie interessant. Interaktief, noem hulle dit. Dit raas daarbinne soos in Ratanga Junction. Daar is simulasies van aardbewings, jy kan bo-op ‘n ding spring om te kyk hoe sterk jy is, daar is dieregeluide, voels wat sing en kinders wat op opnames praat oor allerhande dinge, daar is oral videos wat speel en musiek. Baie lewendig. Die uitstalling Made in New Zealand was nogal weird, daar was ‘n paar landskap-skilderye, ‘n kantoorstoel en ‘n Holden (dis soos Ford of Chevrolet, gemaak in Australie), wat iemand heeltemal oorgetrek het in sinkplaat . . .

My goeie vriend Che Guevara in die ingangsportaal van ‘n Wellingtonse winkel.

En dit is Nelson, daar is oral blombakke in die middedorp met sulke mooi blommetjies in.
Interessante artikel wat vandag in die New Zealand Herald verskyn het. Die Kiwi’s is mos vreeslik groen, jag die walvisjagters en jaag die kernskepe uit hul hawens. Hier is ‘n artikel van die stigter van ‘n Kiwi-bewaringsorganisasie wat Jappanese walvisskepe jaag en nou vasgekeer sit in die Kaapse hawe - hy skryf dis omdat die Japannese vriende in hoe” (Suid-Afrikaanse?) plekke het. Word hierdie storie gevolg daar? Lees dit hier.
En dan was daar nog iets wat my vandag nogal ge-interesseer het, ‘n artikel in The Dominion Post oor ‘n Britse regeringsgroep wat reken die dae van reis om die wereld soos jy wil, is binnekort verby. Hulle voorspel selfs dat mense sal terugval op fietse en perde! Klink absurd, maar miskien, met olie wat so duur word en al minder word, nie so vergesog nie? Wat beteken reis nou en kry klaar. Lees dit hier. Dis ‘n skakel na die oorspronklike artikel in die Britse The Telegraph, want The Dominion Post het nie ‘n website (wat ek kan opspoor) nie.
Hier is nog ‘n paar foto’s van my sightseeing die naweek in Wellington. Partymaal raak ek so meegesleur met sommer net kyk hoe die mense leef en werk en speel dat ek vergeet om ook te gaan kyk na die sights! Dit was ‘n buitengewone warm naweek in Wellington (hulle praat van ‘n hittegolf - net so onder 30 grade Celsius) en Saterdag het ek ‘n lang ent langs die see af gaan stap, verby luukse woonbuurte en groot huise. Dit was heerlik warm en die strande het gewemel van mense. Ek het ook die eerste keer sedert ek hier aangekom het, Afrikaans gehoor, iets wat vir my vreemd is, want hier bly tog derduisende Suid-Afrikaners, ek wonder waar kruip hulle weg.

Wellington se kabelkar (al lyk dit soos ‘n trein werk dit met ‘n kabel, en die kabelkar staan heel skeef op die spoor). Dit ry ‘n roete van net minder as 1 km teen die berg op. Dis nie ‘n toeriste-ding nie, dis deel van die stad se openbare vervoer sodat jy nie die vreeslike styl heuwel hoef uit te klim nie, maar binne enkele minute tot by jou huis of universiteit kan ry. Die kabelkar is 100 jaar gelede in gebruik geneem.

Sommer net langs die waterfront. Kuns?.

Die strande vol mense. Hier is ‘n paar strande in die stad, net enkele minute van die middestad af. Die water is skoon en die mense is mooi.

En dis moontlik waar die mooi mense bly, in mooi huise met mooi uitsigte.

Ek het gisteraand by Edward Gemmel (op die foto saam met my in sy tuin), wat ek in Auckland ontmoet het, se huis in Lower Hutt (Wellington), ‘n ‘non-remarkable commuter suburb’ om my reisgids te quote, gaan kuier. Dis nie so non-remarkable nie, dis ‘n welige, groen woonbuurt langs die Huttrivier waar heelparty tonele van Lord of the Rings verfilm is. (Dis groot besigheid die hele Lord of the Rings-ding hier. Letterlik elke dorp en stad het toere na ‘locations’. Hier in Wellington kan ‘n mens vir ‘net’ R800 ‘n halfdagtoer onderneem na die plekke in en om die stad wat verband hou met die film. Soos jy kan dieselfde roete gaan loop wat die sterre geloop het vir die wereld-premiere van die fliek. Maar jy kan sommer net die roete gaan loop sonder om te betaal ook). Anyway, Lower Hutt was ‘n interessante inlywing in die voorstedelike lewe in NS. Later, na die aandete, het ek en Edward na die ‘local’ gegaan, waar sy ‘mates’ vir hom gewag het. En soos nou maar gebeur in working class-buurte lyk dit my, breek daar toe so rukkie later byna-byna ‘n kroeggeveg uit. Dis waar ek toe nou my gasheer bedank vir sy vriendelikheid en die bus terugvat na die middestad, waar ek tuisgaan.
Wellington het my genoop om my mening oor Nieu-Seeland radikaal te verander. Dis ‘n stil land met stil dorpe en mooi natuurskoon en baie skape en beeste - en dan ‘n hoofstad wat lewe, ‘n hoofstad vol boheemse mense, straatkafees om elke hoek en draai, tweedehandse boekwinkels, musiekwinkels, straatkonserte - wonderlike plek.

Dis mos nou Chinese nuwejaar en hier is vreeslik baie Chinese in Nieu-Seeland. Die jong Chinesies het (belangstellend?) gestaan en kyk hoe hul maatjies die mense op straat vermaak en gewag vir hul beurt.

Dis mos nou hoe die somer moet lyk. Op ‘n bushalte.

Oor die middaguur skop jy jou skoene uit, gryp ‘n Sprite, en gaan sit op die gras langs die waterfront.

Of jy gaan haal jou kajak en roei ‘n bietjie in die waterfront. Jou kantoor is immers net enkele minute van die water af. Dis ‘n klein plek, 200 000 mense, maar lewendig! Die Aucklanders noem Wellington Windy Welly, maar hulle is net jaloers.

Sommer net ‘n interessante kleurspel oorkant my blyplek.

Een van die ou geboue in Cuba Street, die plek waar die oulike mense uithang.

Een van die vyfhonderdduisend lekker plekke waar mens in Cuba Street kan gaan sit (of staan) en kuier.
Hier is die beloofde foto’s van Napier. Dis ‘n kleinerige dorpie (’n stad in Nieu-Seeland) wat in 1930 iewers heeltemal deur ‘n aardbewing platgevee is met die aarde. Toe herbou hulle die hele plek in die Art Deco styl van die dag, en toe vind die toerisme-mense uit dis ‘n groot aantrekkingskrag - nou word dit bemark as die Art Deco-hoofstad van die wereld (nogal). Baie nice plek, langs die see, daar’s ‘n lang waterfront-loopvlak (die Marine Parade) en die hele middestad is basies vol Art Deco-geboue. Daar is ook ‘n paar ou karre en elke nou en dan meer ‘n passasiersboot in die hawe vas en dan wemel die dorp van toeriste. Andersins is dit stil. Ek het ‘n paar dae daar gebly.


Twee van die vele Art Deco-geboue in die dorp. Oral waar jy kyk, lyk dit so. Soms reen dit ook dae lank.

Net vir ingeval jy wat besig is om oor die pad te loop gewonder het, ja, die karre beweeg wel en jy moet pasop.
Ek is geslaan deur ‘n effense olikheid en het nog nie daarby uitgekom om my nuwe foto’s te laai nie, maar ek belowe dit sal binnekort verskyn - Napier die Art Deco-plek en Wellington die plek wat lewe. Wellington het my nuwe hoop gegee vir Nieu-Seeland, dis wonderlik hier. Geniet intussen hierdie storie en foto oor die mooie Charlize wat in Auckland is.

Ek is nou in Napier, Art Deco-stad en Nieu-Seeland se Miami (volgens die toerisme-mense), ek sal hopelik more van Wellington af foto’s laai, hier is heelparty interessante geboue. Laat my baie aan Springs dink. As ons Springs se middestad ‘n nuwe laag verf gee, het ons ook ‘n Miami.
Net om sommige van my vorige kommentaar oor hierdie stil land te regverdig: Eergister sit ek by ‘n straatkafee/kroeg en ‘n Duitser (Michael) van my backpackers-plek loop verby. Vra of hy maar kan sit, jy’s welkom, antwoord ek. Waar is al die mense, vra hy? Hy was pas in Rotorua (waar ek ook was), en daar was ook nie mense nie en al die winkels was toe, hy verstaan dit nie, vertel hy. Rukkie later loop ‘n ander ou verby, vra of hy maar kan sit. ‘n Nederlander, kan nie sy naam onthou nie. Hy’t nog nie eens gesit nie, toe se^ hy, dis darem ‘n stil plek hierdie Nieu-Seeland. Sela.
Die Duitser het ‘n vriend wat joernalis is, en baie kontak het met oud-Nazi’s, Nazi-jagters en ander interessante mense. Hy vertel my hy het al vir Leni Riefenstahl (Hitler se filmmaker), Simon Wiesentahl, en ook die oud-kommunis Egon Krenz ontmoet, want hy gaan gewoonlik saam as sy vriend (met die naam Frank Brandenburg), sy onderhoude voer. Riefenstahl se kommentaar aan hom wat Michael is, toe sy haar 100ste verjaardag gevier het en so jonk soos ‘n 70-jarige gelyk het (sy woorde): Jy moet altyd vorentoe kyk, jy moet altyd aan jou volgende plan dink, dan bly jy jonk.
Brandenburg het ‘n boek ook geskryf, The Quest.
Recent Comments