
Oor presies ‘n week is ek in hierdie stad. Die enigste stad in die wereld wat op twee kontinente gelee is. Die magiese Istanbul . . . Kan nie meer wag nie, soms is al wat die lewe in Dubai draaglik maak die vooruitsig om hier weg te kom, al is dit dan net vir ‘n paar dae.
Met een voet in Europa en die ander in Asie
21 04 2009Comments : Leave a Comment »
Categories : Uncategorized
Peetpa
21 04 2009
Ek het vroeer vanjaar peetpa geword. My broer-hulle het ‘n dogtertjie gekry en ek is die trotse peetpa. Ongelukkig is ek op die oomblik bietjie ver van al die aksie af, maar ek was darem in SA vir die doop, so maand of wat gelede. Ek het verskeie foto’s, maar hier is net ‘n paar. Dis ‘n goeie verskoning vir my om elke paar maande terug te vlieg SA toe en Dubai se stof van my voete af te skud.
Comments : Leave a Comment »
Categories : Uncategorized
Warrelwind-toer deur die VAE
30 03 2009My ma het so twee weke gelede hier in Dubai kom kuier, voor dit was ek self vlugtig in Suid-Afrika vir die doop van my peetkind, my broer-hulle se dogter Cherice. Ek was maar baie kort in SA, die tyd was te min om almal te sien en alles te doen, maar dit was lekker om weer in ‘n normale land te wees. Dubai en die VAE is nou maar eenmaal nie die beste plekke in die wereld nie, maar, ai, die geld is goed. Wat sal ‘n man dan nou doen? Hoe lank dit nog gaan aanhou weet ek ook nie, maar tot tyd en wyl byt ek vas. Ek het vandag my huur vir die volgende jaar hernieu (Dh38 000, omtrent so R110 000, in kontant betaal, wat kon ek nie alles daarmee gedoen het nie. . . ) Maar nou is ek vir die volgende jaar uitgesort, geen verblyfuitgawes nie. Hier is ‘n paar foto’s van enkele van die plekkies wat ek my ma gewys het, daar is darem enkele mooi plekke hier.
- By Festival City, ‘n winkelsentrum, kan mens die Burj Dubai, die hoogste gebou in die wereld, sien. Hy trek nou by so 180 verdiepings, maar met die geldkrisis wereldwyd weet ek nie hoe dit nou met die bouery gaan nie. Die mense hier hou aan vertel daar is niks fout nie, maar, nou ja, ons almal weet wat die werklikheid is.
- Dis by die Dubai Gold Souk. ‘n Souk is ‘n mark. Nog nooit in my lewe soveel goud gesien nie, en dis alles sommer so oop en bloot, nie ‘n sekerheidswag of geweer in sig nie!
- By die Dubai Creek het ons afgekom op ‘n heerlike restaurant waar mens op ‘n dek kan sit wat oor die water is. Vreemd genoeg een van die min plekke langs die Creek waar mens dit kan doen.
- Een van die abras op die Creek. ‘n Abra is ‘n watertaxi.
- In die woestyn op pad na Hatta. Daar is mense wat hier in die sandduine rondjaag met 4×4’s en quad bikes.
- Die Hatta dam. Hy is maar leeg. Tog mooi, die omgewing.
- Die Hatta fort. Dubai het nou nie enige geskiedenis om van te praat nie, maar hierdie fort is darem iets wat oorgebly het. Dis so bietjie meer as honderd jaar oud, die Arabier het oral sulke forte gebou om hulself van mekaar te beskerm. Hatta is in die Dubai-emiraat.
- Die verpligte kameel. Wat is Arabie sonder kamele?
Comments : Leave a Comment »
Categories : Uncategorized
Ras Al Khaimah
17 02 2009
Ek het lanklaas ‘n trippie iewers heen onderneem, laas Maandag was ons vir ‘n slag na Ras Al Khaimah, dis die laaste van die sewe emirate wat ek besoek het, en dis nogals heel besonders. Dis naby aan Dubai, van my huis af, wat sommer reg by Emirates Road, die VAE se groot verbindingspad (die N1 . . . ) is, dus is dit vir my dikwels makliker om verder plekke te bereik as mense wat in die stad bly en eers deur al die stadsverkeer moet sukkel om op die snelweg te kom. RAK, soos almal hier die plek noem, is net meer as ‘n uur se ry van my huis af, jy ry deur baie emirate op pad soontoe, eers Sharjah, dan Ajman, dan Umm Al Quwain en dan is dit RAK. My groot pyn met Dubai is dat die stad een groot bouterrein is, dis doodeenvoudig onaangenaam soms. Al Ain was voorheen my gunsteling-stad hier, want die ‘n kleinerige plek, daar is baie water, dis ‘n oase, letterlik, en dis net ‘n doodgewone stad, met huise en winkels en strate en so aan, eenvoudige dinge wat sin maak.l Anders as Dubai. RAK is dieselfde, en nogal mooi ook. Dis langs die see, daar is ook baie water, op plekke lyk RAK byna lowergroen (vir ‘n woestyn), en daar is net enkele wolkekrabbers, min bouwerk, die paaie werk almal, sulke eenvoudige dinge. Net buite RAK is groot berge, ons het daar op betonblokke in die sand gaan sit en piekniek hou, en toe het ons die groentemark in die stad self gaan besoek, waar hierdie foto’s geneem is. Die groentemark is langs ‘n rivier, met mooi uitsigte en mens voel darem of jy iewers in Arabie is as jy daar oor die stad uitkyk. Anders as Dubai.


Comments : Leave a Comment »
Categories : Uncategorized
Die Dubai Ope
17 02 2009
Dit is hoe ek die dag deurgebring het. By die Dubai Open in Garhoud, skaars tien minute se ry van my huis af. Ek kan nie aan ‘n beter manier dink om ‘n dag deur te bring as in die geselskap van die top-tennisspelers van die wereld nie . . .
Comments : 2 Comments »
Categories : Uncategorized
Pienk mieliepap en mossels
28 01 2009
Hierdie is puto, dis 'n Filippynse dis. Dis gemaak van mieliemeel. Ons bure, wat in 'n soesji-restaurant werk, bring elke nou en dan vir ons soesji en ander dinge. Soms hang hulle die soesji sommer aan die deur op in 'n plastieksak, as ons laataand by die huis kom na werk, dan wag die soesji vir ons. Jay is ook baie lief daarvoor om vir die bure (hulle is ook Filippyne) kos te vat. Nou die dag toe bring hulle die puto. Dis baie interessant, dit proe soos mieliepap, maar soeter en stywer, dis soos gekleurde mieliepap-muffins. Daar is ook kaas in. Maar dit proe soet, nie sout nie. Heel lekker.

'n Mens kry alles wat jou hart begeer in Dubai, letterlik alles, van Mrs Balls tot biltong en Ouma-beskuit. Maar nie altyd vars mossels nie. Die dag as ek vars mossels in die winkel raakloop, begin my mond water. Ek is baie lief vir vars mossels, eenvoudig voorberei in sy eie sousie, met bietjie tamatie, uie, knoffel, gemmer en 'n paar rissies vir skop. En dan, vir kleur en geur, 'n bietjie spinasie. Hierdie was koningskos, nou moet ek waarskynlik 'n hele paar weke wag vir die volgende besending vars mossels. Hulle kom van Nederland af.
Comments : 1 Comment »
Categories : Uncategorized
Reen in Dubai
15 01 2009Dit reen wel in Dubai, meestal net in die winter, wat nou is. Die afgelope paar weke was inderwaarheid baie nat. Al is Dubai ‘n woestyn, is dit redelik naby aan die trope en daar is baie vogtige lug wat glo naby die kus omgesit word in reen. Hierdie is sommer twee foto’s met my N95 uit die kar geneem in Satwa, dit het my aan ‘n Kaapse reendag laat dink.


Comments : Leave a Comment »
Tags: Dubai, reen
Categories : Uncategorized
A Tale of Two Cities
14 01 2009Vreemde dinge is besig om in Dubai te gebeur, en sy aangrensende emirate. Nie soseer in Abu Dhabi nie. Die stad is besig om leeg te loop. Al sal niemand dit openlik erken nie en geldwolwe steeds probeer om niksvermoedende nuwelinge te veel te vra vir verblyf. Wat gaan aan?
Eers, twee kort uittreksels uit vanoggend se koerant. Hulle is nie vreemd nie, hulle is verteenwoordigend van soortgelyke artikels wat elke dag in die koerant verskyn.
Impact of financial crisis on UAE is limited: Nahyan |
|||
|
By Himendra Mohan Kumar, Staff Reporter |
|||
|
Abu Dhabi: The impact of the global financial crisis on the UAE economy is limited, the country’s Minister of Higher Education and Scientific Research, Shaikh Nahyan Bin Mabarak Al Nahyan said here yesterday.
“Thanks to our wise leadership, we have made sure that the impact of global financial crisis is contained, as much as possible,” Shaikh Nahayan told reporters on the sidelines of an industry conference.
Ek bly seker dan in ‘n ander stad. (Streng gesproke is Sharjah ‘n ander emiraat en ‘n ander stad, maar dit is reg langs Dubai en die twee vorm saam een groot metropool, Sharjah is waar baie mense bly wat in Dubai werk, want dis bietjie goedkoper daar). In die stad waar ek bly, merk ek die volgende: 1. Die huismark het geheel en al in duie gestort. Niemand koop enigiets nie, plekke wat drie maande gelede Dh7 miljoen gekos het, is nou in die mark vir Dh2 miljoen, en niemand koop nie. 2. Die strate is leeg. Letterlik. Want daar is minder mense. Want hulle het gevlug van hul skuld en huisverbande wat nou drie keer meer is as wat die huis werd is. Hierdie storie hoor ek gereeld uit baie verskillende bronne, daar is glo honderde verlate karre by die lughawe, mense wat die karre met sleutel en al net so gelos het en die pad gevat het. Want hulle het voorheen geval vir Dubai se verbruikersmark en gekoop en gekoop en gekoop, en toe moet hulle begin terugbetaal, en toe verloor hulle hul werk. Toe vlug hulle. Honderde (duisende selfs) professionele mense is die laaste twee maande afgedank. Die makelaarsfirmas by die Dubai-aandelebeurs (wat 71% geval het sedert laasjaar en hom die derde swakste beurs te wereld maak), maak almal op ‘n streep toe. Tienduisende werkers en bouers is huis toe gestuur. Maar niemand skryf oor hulle nie, want hulle is die marginales hier, niemand skryf ooit oor hulle nie. Dus, die strate is leeg. Daar is minder karre, minder swaar verkeer, elke dag voel nou vir my soos ‘n Saterdag (wat gewoonlik baie stiller is hier, Saterdag is vir sommige ‘n werksdag, maar dis relatief stil gewoonlik op die paaie). 3. Die winkels is leeg. Leeg. Ek stop gereeld saans na werk by die Mercato-sentrum in Jumeirah, gewoonlik is dit ‘n miernes van bedrywigheid. Maar deesdae is dit tjoepstil. Die Starbucks daar is gewoonlik propvol mense, nou is dit dolleeg, miskien een of twee tafels het mense. 4. Huur is besig om te val. Skerp. Want daar is nie meer mense wat huur nie. Hier in International City was ‘n ateljeewoonstel twee maande gelede Dh60 000 per jaar (vir huur, mens betaal hier per jaar vooruit), laasweek was dit Dh55 000, gister was dit Dh48 000. En nou kan mens in vier, of, wonder-bo-wonder, soos in die normal wereld, twaalf paaiemente (vooruitgedateerde tjeks) betaal. Ek sal myself nog eendag beter verwoord en baie meer in detail skryf oor my menings, maar in kort: Ek dink Dubai is so ‘n kunsmatige stad, met soveel kunsmatige behoeftes wat geskep word, gebaseer op niks nie, dat dit nie net die internasionale resessie is wat nou inskop nie. Dit was die vonk wat die bom laat bars het, maar die bom sou een of ander tyd bars. Die stad probeer homself voorhou as hierdie wonderlike ‘internasionale’ stad, maar al wat hy bied is winkelsentrums en skouspelagtige eindomsontwikkelings, op sand gebou. Mense het geval vir die bemarkingsmasjien, eiendom (’off-plan’) gekoop en dieselfde dag nog verkoop vir 20% meer, sonder om eens geld te verwissel. Almal het vasgevang geraak in die borrel-effek. Rykes het baie, baie ryker geword, selfs armes het bietjie geld verdien hier. Maar die rykes (soos die bankiers wat die wereld nou so diep in die moeilikheid gebring het), het geheel en al hul sin vir die werklikheid verloor. Wie wil regtig ‘n huis besit wat Dh45 miljoen (rofweg so $12 miljoen) kos, dis nou wel op die Palm-eiland, maar jou ’strand’ is harde woestynsand? In ‘n stad sonder een enkele teater, sonder kunsgalerye, sonder kunsflieks, waar jy danksy die ‘wyse leierskap se wysheid’ darem toegelaat word om ‘n biertjie te drink, solank jy dit diep binne-in ‘n hool doen, nie op die terras van jou luukse villa nie, want jy kom dalk net in die moeilikheid as jy nie ‘n lisensie het nie. Waar die sjeik enige dag nuwejaar kan kanselleer as hy wil. Toegegee, daar is ‘n blink kant aan Dubai. Vlak, maar blink. Daar is nagklubs wat voorgee om ‘die beste in die wereld’ te wees, waar Britte en ander expats gereeld gaan dronk raak om van die werklikhied te ontsnap. Daar is Friday brunch, mense wat elke Vrydag (dis die begin van die naweek hier), vroegdag begin drink, vir ontbyt, ja, want dis ‘n ‘instelling’ hier. Jy betaal Dh200 (R600) as jy gelukkig is, meestal veel meer, en kan eet en, meer belangrik, drink, so veel jy wil. Totdat die brunch verby is en jy oortsrompel na die hotel se kroeg en verder drink, teen R100 ‘n drankie, as jy gelukkig is. Die hotel lag natuurlik al die pad bank toe. Ek was nog nooit by ‘n Friday brunch nie, is ek trots om te se. In elk geval, die bom moes net eenvoudig bars, en hy het. Hoekom is ek dus hier? Want ek verdien steeds ‘n goeie salaris, en ek het nie heeltemal geweet wat hier aangaan voordat ek gekom het nie. So lank soos dit aanhou, bly ek by my langtermynplan, ‘n paar jaar hier en dan finansiele vryheid! Lewensvryheid! Gelukkig doen my koerant nog goed, mense adverteer steeds verwoed, want hulle soek kopers, van karmaatskappye tot eiendomsagentskappe. En as hulle lank genoeg aanhou skryf niks is fout nie, word dit dalk net waar. |
Comments : 4 Comments »
Tags: Dubai, economy, propaganda, recession
Categories : Uncategorized
Routyd
3 01 2009
Die nuwejaar het alte vrolik afgeskop hier in die VAE. Eers is nuwejaar gekanselleer in Dubai, oor die Gasa-oorlog, in solidariteit daarmee, en toe gister is die heerser van Umm al Quwain, een van die 7 emirate wat saam die Verenigde Arabiese Emirate opmaak, dood. Gevolglik is daar sewe dae van rou verklaar, wat beteken alle vrolikheid en uitbundigheid is heel buite orde. Baie van die nagklubs mag nie oopmaak nie, die radiostasies speel almal (almal, sonder uitsondering) of gebede, 24 uur lank, dag in en dag uit, of klassieke musiek (die enigste tyd ooit wat mens klassieke musiek op die radio hier hoor, daar is geen toegewyde kanaal daarvoor nie). ‘n Paar maande gelede is nog ‘n belangrike sjeik dood en toe was dit dieselfde storie. Ook die plaaslike TV-kanale (selfs die sportkanale), speel net die hele tyd gebede. En die vlae hang natuurlik halfmas oral. Gelukkig bly ek nie in Umm al Quwain nie, want daar is die routyd 40 dae lank! Die heerser was glo ‘n baie gawe ou, en heel liberaal vir hierdie kant van die wereld, dis die enigste plek waar mens bier of wyn kan gaan koop, daar is ‘n winkel wat 24 uur per dag oop is en jy het nie ‘n lisensie nodig nie, soos oral elders. Wonder of die winkel steeds mag oopbly. Dis wel baie vreemd om al die grafskrifte te lees. Hy word besing as die mens wat moderniteit na Umm al Quwain gebring het. Nou ja, ek was al daar, en dis seker die primitiefste van al die emirate, dis my gunsteling, om die waarheid te se, want daar is niks van die gemors van Dubai met bouerey en paaie wat verle word net waar jy kyk nie. Dis eintlik ‘n heel karaktervolle plekke, die stad (dis eintlik maar ‘n groot dorp) is op ‘n skiereiland gebou en daar is nog mooi ou geboue, vissersbote in die hawe, geen wolkekrabbers. Gawe plekkie. Maar modern? Nee wat. Maar hier in die VAE is die waarheid en die werklikheid nie dieselfde nie.
Comments : 3 Comments »
Tags: Dubai
Categories : Uncategorized
Dubai kanselleer nuwejaar
31 12 2008Jip, dis die heilige waarheid. Ek het ook opgemerk sedert gister dat die kroee in die stad almal toe is. Die volgende berig kom uit Gulf News:
Mohammad orders cancellation of New Year celebrations |
|
Dubai: His Highness Shaikh Mohammad Bin Rashid Al Maktoum, Vice-President and Prime Minister of the UAE and Ruler of Dubai, has ordered the cancellation of all New Year celebrations in Dubai on Wednesday as an act of solidarity with the Palestinian people. In support of the Palestinians in Gaza, who are enduring all kinds of killing, destruction and displacement by the Israeli military machinery, Shaikh Mohammad instructed all concerned authorities in Dubai to put this order in place and take necessary procedures to circulate the decision to all concerned parties. |
Comments : 1 Comment »
Tags: dubai new year cancelled
Categories : Uncategorized















Recent Comments